Devarim
(Woorde)
Deuteronomium {1:41} “Toe het julle geantwoord en vir my gesê: Ons het teen die HERE gesondig; ons self sal optrek en veg net soos die HERE onse God ons beveel het. En toe julle elkeen sy oorlogswapens aangord en daar nog maklik oor dink om in die gebergte op te trek, {1:42} het die HERE vir my gesê: Sê vir hulle: Julle mag nie optrek en veg nie—want Ek is nie in julle midde nie—dat julle nie voor julle vyande verslaan word nie. {1:43} Maar toe ek met julle gespreek het, het julle nie geluister nie, maar julle was wederstrewig teen die bevel van die HERE en het vermetel in die gebergte opgetrek. {1:44} Toe het die Amoriete wat in dié gebergte gewoon het, uitgetrek julle tegemoet en julle agtervolg soos die bye maak; en hulle het julle verstrooi in Seïr tot by Horma. {1:45} En julle het teruggekom en voor die aangesig van die HERE geween, maar die HERE het na julle stem nie geluister en julle geen gehoor gegee nie. {1:46} So het julle dan baie dae in Kades gebly, solank as julle daar gebly het.”
Wat moet ons nog meer aan onsself bewys as dat indien God nie in ‘n saak geken word nie, dit hoegenaamd nie sal slag nie? Soveel gelowiges leef met ‘n gevoel van mislukking omdat God nie geken word in dít waarmee hulle besig is nie. Ons probleem is dat ons dinge op óns manier wil doen, volgens óns tydsberekening en soos dit vir ons gerieflik is. Soos hierbo uitgewys, is dit dan egter ‘n geval van opstand en verwaandheid. Gedurende Junie vanjaar het ek ‘n preek gelewer oor: “Erken die Wil van God”. In die lig van vandeesweek se Parasha en die verse, waarop ek besluit het om kommentaar oor te lewer, het ek gemeen dit sal heel paslik wees om deel van my preek in hierdie kommentaar op te neem.
Ek is daarvan oortuig dat ons almal graag wil weet wat God se Wil vir ons lewens is. Die probleem is dat nie almal van ons weet wat Sy Wil vir ons is nie en dit kan frustrerend wees. Dikwels vind ek dat ons so hard probeer om Sy Wil te laat geskied, maar in plaas daarvan, slag ons bloot daarin om daaroor te bespiegel, terwyl ons onbewustelik op onsself fokus en uiteindelik probeer doen wat óns meen God se Wil vir ons lewens is. Indien ‘n mens jouself dan teen ‘n muur vasloop en besef dat jy verkeerd is, raak jy selfs meer gefrustreerd en mismoedig. Ek glo dat die frustrasie en moedeloosheid onstaan omdat ons nie die regte vraag vra nie. Die vraag behoort nie te lui:”Wat is God se Wil vir mý lewe?” nie, maar veel eerder “Wat is God se Wil?”. Eers wanneer ons besef wat God se Wil is, dan kan ons ons lewens daarvolgens skik. Eenvoudig ….reg? Ongelukkig nie! Ek móét dit benadruk: Indien jy te wete wil kom wat God se Wil vir jou lewe is, dan kan die fokus nie op jouself gerig wees nie, maar moet die fokus eerder op God se Wil gerig wees.
Jesaja / Yeshayahu {6:8} “Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.”
Die kinders van Israel was besig om ongehoorsaam te wees en die Here het iemand nodig gehad om vir hulle te gaan profeteer. Jesaja het die oproep gehoor, sy lewe na die Wil van God geskik en gesê: ”Hier is ek, stuur my.”. Dit is hoe God te werk gaan. Hy het ‘n taak wat uitgevoer moet word en benodig iemand wat gewillig is om dit te doen. God het ongetwyfeld ‘n plan vir elkeen van ons se lewe; die planne wat Hy vir ons beoog, word egter gegrond op wat Hy alreeds in die wêreld doen en nie wat óns in die wêreld wil doen nie.
Wat verwag God dan van ons? Wat Hy van ons verwag, is om ons lewens te verander ten einde betrokke te raak by dit wat Hy alreeds doen. Hy verwag nie van ons om op ons eie iets nuuts te onderneem nie; Hy verlang dat ons by Hom aansluit waarmee Hy alreeds besig is. Te veel mense beland in die moelikheid wanneer hulle graag wil doen wat die bediening vereis. Wanneer die geleentheid hom dus voordoen om in so ’n bediening te staan, meen hulle dat dit die beskikking van God moet wees omdat dit iets is wat hulle nog altyd graag wou doen. Dink hulle Petrus (Kefa) sou ooit gekruisig wou word, maar dit was die Wil van God! Dink hulle Johannes (Yochanan) sou ooit na ‘n verlate eiland verban wou word, maar ook dit was binne God se Wil. Moet nooit iets as die Wil van God beskou aldan nie indien dit ooreenstem of nie met dít waarvan jy hou of wat jy meen jou besondere roeping is. God roep ons almal – allereers – tot ‘n verhouding met Hom, waar Hy die Here is en nie ons nie.
Wat beteken dit dat God die Here is? Dit beteken dat Hy heers. Wanneer God die Here van jou lewe is, móét jy bereid wees om te doen wat Hy ookal van jou vereis – ongeag wat dit verg! Jy moet bereid wees om te gaan waarheen Hy jou wil stuur – ongeag die omstandighede!
Hoe sal jy dan nou kan besef dat dit God is wat jou stuur? Jy sal weet dat dit Sy Wil is indien jy in ‘n verhouding met Hom sodanig is, sal jy Hom hoor en jy sal wéét! Alles ontstaan uit so’n verhouding.
God stel veel meer daarin belang om met jou ‘n verhouding te hê as in dit wat jy vir Hom kan doen. Die rede is soos wat jy Hom liefhet, sal Hy jou met Sy teenwoordigheid vervul en jou lei op die pad wat jy moet gaan – één dag op ‘n keer. God het nie leiers nodig nie, maar wel dienaars en volgelinge. Om by God se werk betrokke te raak, moet jy bereid wees om ‘n dienaar te wees, ‘n volgeling, net soos Jesus (dít het Hy bewys met die was van Sy dissipels se voete)!
Matthéüs / Mattityahu {20:27} “En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; {20:28} net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.”
Ons moet dieselfde dienaar-houding wat Jesus geopenbaar het, ontwikkel. Ons moet ‘n houding van nederigheid en gehoorsaamheid ontwikkel. Ons kan onsself nie té kundig of té goed ag om selfs die nederigste take te verrig nie. Daar is ‘n verskil om ‘n dienaar vir ‘n menslike meester en om ‘n dienaar vir God te wees. Eersgenoemde is in diens van ‘n meester, wat bevele uitreik en die dienaar moet dit na die beste van sy vermoë uitvoer. God, daarenteen, werk deur Sy dienaars. Indien jy ‘n dienaar van God is, volbring Hy die taak deur jou. Met God, ontwikkel jy ‘n verhouding van liefde met Hom en wanneer jy reageer op dit wat Hy doen en jy jou lewe dienooreenkomstig aanpas, kan Hy deur jou Sy Wil laat geskied. Dit mag miskien soos ‘n algehele nuwe konsep klink, maar in werklikheid is dit glad nie so nie. Indien jy wonder wat God se Wil vir jou lewe is, dan was hierdie boodskap vir jou!
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2011-08-06
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking