Matot
(Stamme)
Numeri / Bamidbar {31:1} “En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {31:2} Neem wraak vir die kinders van Israel op die Midianiete; daarna sal jy by jou volksgenote versamel word. {31:3} Daarop het Moses met die volk gespreek en gesê: Laat manne uit julle midde hul vir die oorlog wapen, dat hulle teen Mídian kan trek om die wraakgerig van die HERE aan Mídian te voltrek. {31:4} duisend vir elke stam van al die stamme van Israel moet julle na die oorlog stuur. {31:5} Toe is daar uit die duisende van Israel duisend vir elke stam gelewer, twaalf duisend wat vir die oorlog gewapen was.”
Vind jy iets ongewoons in hierdie Skrifgedeelte wat ek uit hierdie week se parasha geneem het? Laat my toe om jou te help. Telkens wanneer God vir Israel kwaad was oor hulle oortreding van Sy Tora, het hy hulle gestraf deur vuur, slange, plae en ander oordele oor hulle te bring. Hier beveel God egter vir Moses om die manne te bewapen ten einde op die Midianiete te gaan wraak neem. Hy was ongetwyfeld meer as in staat daartoe om Self vir Israel te straf en met die Midianiete af te reken.
Psalm / Tehilim {79:10} “Waarom sou die heidene sê: Waar is hulle God? Laat voor ons oë onder die heidene bekend word die wraak oor die vergote bloed van u knegte.”.
Psalm / Tehilim {3:7} “Staan op, HERE; verlos my, my God! Want U het al my vyande op die kakebeen geslaan; U het die tande van die goddelose stukkend gebreek.”.
In albei hierdie verse word God deur die psalmis gesmeek om op sy vyande wraak te neem. Ons weet egter dat koning Dawid, wat hierdie verse geskryf het, ‘n krygsman was, wat die een oorlog na die ander gevoer het. Tydens hierdie oorloë het hy sy vyande asook dié van Israel verslaan. Hy het dit eiehandig gedoen. Terwyl die psalmis se taal, in hierdie verse gebruik, dus was om God te versoek om die vyand te straf en te tref, was dit dikwels in werklikheid koning Dawid en sy leer wat teen die vyand geveg het. Toe God Israel dus beveel om op die Midianiete wraak te neem, versoek Hy hulle om presies te doen wat koning Dawid veronderstel was om te doen.
Myns insiens handhaaf die hedendaagse gelowiges in Jesus die Messias al te veel van ‘n passiewe rol in hulle verhouding met God. Hulle bid om iets en sit dan agteroor met ‘n houding van “laat ons maar wag en sien”, in plaas van ‘n pro-aktiewe houding van “kom ons pak dit aan” met die nodige geloof dat God hulle pogings sal ondersteun. Ek het op ‘n keer verneem van ‘n gelowige wat werkloos was, maar sy tyd verwyl het deur op God te wag om vir Hom ‘n betrekking te vind en dit deur gebed vir hom te gee, pleks daarvan om te bid om ‘n betrekking en self te gaan werk soek. Ongetwyfeld kan God vir ons ‘n betrekking of enigiets anders skenk waarom ons mag bid maar netso kon Hy die Midianiete deur middel van ‘n plaag uitgewis het of koning Dawid se vyande deur vuur uit die hemel verteer het. Selfs Moses moes op die manne ‘n beroep doen om hulself te bewapen vir oorlog. God was inderdaad dáár en het die oorwinning aan hulle besorg.
1 Samuel / Shmuel Aleph {17:45} “Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met ‘n swaard en met ‘n spies en met ‘n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. {17:46} Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ‘n God het.”.
Dawid het Góliat verslaan en sodoende die oorwinning vir homself en die hele Israel behaal, maar die oorlog as sulks was die Here s’n. Sonder God, kan ons veg soos ons wil maar die oorwinning sal ons nie smaak nie. As God nie daarin is nie, sal ons beslis nie oorwin nie. Indien God wel betrokke is, sal dit wees soos met Moses en met koning Dawid. Húlle het geveg en die oorwinning behaal, maar die oorlog was die Here s’n. Dit is vandag nog dieselfde. God wil dat ons tot Hóm moet bid. God wil dat ons tot Hóm bid vir voorsiening in ons behoeftes; Hy verlang egter dat ons pro-aktief moet optree en in vennootskap met Hom moet verkeer.
So dink ek byvoorbeeld daaraan dat evangelisasie deel van God se Wil is. God kan ongetwyfeld op bonatuurlike wyse die harte van ongelowiges aanraak en hulle tot ‘n besef van verlossing deur Jesus die Messias lei, maar meer dikwels maak Hy op óns staat om die evangelisasie-voetwerk te doen, terwyl Hy self die verlossing van persone teweegbring.
Markus / Mordechai {16:15} “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”.
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2011-07-23
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking