Saterdag 20 Oktober 2018

Geloof en Vertroue / Emunah Ve’bitachon

Lech Lecha
(Gaan Uit) 

Romeine / Romim 4:1 – 25

Genesis / Bereshit {13:8} “Toe sê Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers. {13:9}  Lê die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan. {13:10}  Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland. {13:11}  En Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies, en Lot het na die ooste weggetrek. So het hulle dan die een van die ander geskei. ”.

Lot het Sodom gekies, wat vir hom na ‘n pragtige waterryke streek gelyk het, maar óns weet dat dit ‘n slykpoel – boos van binne – was. Daar is ‘n baie belangrike beginsel hieruit te leer, één wat ons almal ongetwyfeld vantevore al gehoor het: “Dis nie alles goud wat blink nie!”.

‘n Mens kan vandag beswaarlik televisie kyk sonder om ‘n advertensie te sien wat kykers aanmoedig om goud as teenvoeter teen die aanhoudende deflasie van die dollar te koop. Ons word ook vertel dat goud nog altyd sy waarde behou het en derhalwe ‘n uitstekende verskansing teen ‘n markineenstorting sou wees, wat soos almal gewilliglik spekuleer, enige tyd kan plaasvind. Ek is oortuig daarvan dat menige gelowiges in Jesus die Messias dit ongelukkig glo en aan die goud-stormloop deelgeneem het.

Goud is ongetwyfeld ‘n uiters waardevolle metaal en is sedert die vroegste Bybelse tye reeds in die handel gebruik. Wanneer iemand wat in Jesus die Messias egter goud koop as teenvoeter teen die deflasie van die dollar, wat sê dit van sy geloof?

Hoeveel van ons, wat nou hierdie kommentaar lees, onthou nog die paniek wat net vóór die eeuwending (1999 – 2000) geheers het? Mense is in paniek gedompel deur gerugte dat die wêreld in ‘n katastrofiese, apokaliptiese verwarring sou beland omdat die wêreld se rekenaars nie ontwerp was om tot die jaar 2000 om te skakel nie. Daar is voorspel dat banke gesluit sou wees, bewys van spaargeld sou uitgewis wees, voedseltekorte sou heers en elke denkbare tekort sou die wêreld tref. Soos ons almal in die jaar 2018 bewus is, het hoegenaamd niks daarvan gekom nie; trouens, ons het in die jaar 2000 ontwaak sonder die geringste insident!

My siening is nie dat daar geen apokalips met die eeuwending was nie of dat die aandelebeurs nie sal ineenstort nie en ons dollars in die toekoms waardeloos mag raak: die punt wat ek wil maak, is inderdaad veel ernstiger.

Vóór die eeuwending, terwyl ons nog in 1999 was, het dieselfde paniek wat die wêreld getref het, ook die gemeentes van God getref. Gelowiges het net soos die ongelowiges paniekerig geraak: hulle het begin opgaar – voedsel, water, geld en ander goedere – selfs goud, wat hulle geglo het, ‘n teenvoeter sou wees teen dit wat om middernag op 31 Desember 1999 moontlik sou plaasgevind het. Die waarheid is egter dat dieselfde nóú gebeur deurdat ons goud koop. Sowel gelowiges as ongelowiges beplan weer teen die paniek van ‘n verwagte ekonomiese depressie.

Daar is niks mee verkeerd om goud te besit of om bykomende water en voedsel aan te hou nie, maar daar is wel iets verkeerd wanneer gelowiges paniekerig raak en hul vertroue in opgaar stel of hul spaargeld in goud omsit, as teenvoeter teen wat in die toekoms mag gebeur.

Ons toekoms hang nie van wêreldse dinge af nie. Ons toekoms is geheel-en-al afhanklik van ons verhouding met God. Ongeag die toestand waarin die wêreld tans verkeer of in die toekoms mag verkeer, God is ons sekuriteit, God is ons bron. Glo jy dit? Indien nie, moet jy jou geloof bevraagteken. Enigiets anders as God, waarin jy jou vertroue stel vir die toekoms, is afgodery en vir afgodsdienaars is daar geen plek in die wêreld wat kom nie.

Mattëús / Mattityahu {6:25} “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? {6:26}  Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? {6:27}  Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? {6:28}  En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; {6:29}  en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. {6:30}  As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges? {6:31}  Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? {6:32}  Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. {6:33}  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”

Word wakker julle trouelose gelowiges; dit is tyd vir ‘n werklikheidsondersoek.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-11-05

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking