Toldot
(Geslagte)
Genesis / Bereshit {25:21} “En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het. {25:22} En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Toe sê sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Daarop het sy gegaan om die HERE te raadpleeg. {25:23} En die HERE het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien. {25:24} En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar ‘n tweeling in haar skoot. {25:25} En die eerste is gebore—rooi, geheel en al soos ‘n mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem. {25:26} En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou. Daarom het hulle hom Jakob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte.”
Ek vind dit baie interessant dat God ons meedeel dat toe Esau (Esav) gebore is, hy heeltemal rooierig (en harig) was. Die rede hiervoor is dat die satan nog altyd voorgestel word as geheel-en-al in rooi geklee. Verstrek God dan aan ons, in die verhaal van Isak en Esau, ‘n beeld van die stryd tussen goed en kwaad, lig en duisternis, die gees en die vlees?
Daar het ‘n hewige stryd in Rebekka (Rivkah) se skoot plaasgevind en sy was nie daarvan bewus nie. Nadat die kinders egter gebore is op grond van Rebekka se optrede, soos verder aan in hierdie Parasha beskrywe – wil dit voorkom asof sy van die geestelike aard van die stryd tussen hierdie twee seuns bewus geraak het.
Ofskoon Jakob (Ya’acov) en Esau (Esav) ‘n tweeling was, kon dié twee nooit meer uiteenlopend van geaardheid gewees het nie. Esau was die algehele Amerikaanse tipe – wat ons in my jeugjare ‘n “jock” genoem het, terwyl Jakob méér, wat ons sou genoem het, ‘n “nerd” was. Is dit nie hoe die wêreld ons, as gelowiges in Jesus die Messias, sou beskou nie, dit wil sê as “nerds”, omdat hulle ons nie as “jocks” sien nie? Dit is omdat ons nie volgens wêreldse standaarde leef nie – wat die wêreld van hou, staan ons nie aan nie, ons is anders en heeltemal tereg ook – God verlang dat ons anders móét wees.
Esau en Jakob is presies die teenoorgestelde van mekaar; trouens, hulle is die klassieke voorbeeld van die verskil tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige, oftewel dié van die wêreld en dié wat ín die Here is. Esau verteenwoordig alles wat die wêreld aan waarde heg. Hy was iemand vir die buitelewe, ‘n bedrewe jagter, ‘n atletiese tipe mens. Hy het geen begrip van die geestelike dinge gehad of enigsins waarde daaraan geheg nie, wat duidelik geblyk het uit die feit dat sy eersgeboortereg vir hom niks beteken het nie. Jakob, daarenteen, word voorgestel as iemand met ‘n baie hegte verhouding met sy moeder, die ernstige gehoorsame tipe mens; iemand van die gees en nie van die wêreld nie, wat bewys is deurdat God hom uitgekies het as die bloedlyn waaruit die Messias sou kom. Alles waarvoor Jakob gestaan het, het Esau teëgestaan. Het jy opgemerk dat daar in die Skrif hoegenaamd geen aanduiding is dat Jakob ooit vir Esau gehaat het nie? Is dit nie soos wat dit ook nog tot vandag toe met ons gesteld is nie? Die wêreld is besig om al hoe meer teen ons te draai, verafsku ons en die beginsels wat ons handhaaf, maar dit is nie hoe ons teenoor die mense van die wêreld optree nie. Ons wil graag sien dat hulle gered word; derhalwe móét ons hulle liefhê ofskoon ons hoegenaamd nie aan hulle wêreldse strewes deelneem nie.
Die stryd tussen Jakob en Esau mag wel as ‘n fisiese stryd geblyk het maar dit was nie. Dit was ‘n geestelike stryd, tussen goed en kwaad, lig en duisternis, tussen die gees en die vlees – ‘n stryd wat tot vandag toe steeds voortwoed.
Efesiërs / Efesos {6:12} “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”
Die dag sal kom en spoedig aanbreek wanneer Jesus die Messias weer sal kom en die duiwel – daardie slang wat die satan is – verslaan, sodat hy vir eenduisend jaar gebind sal wees.
Openbaring / Hitgalut {20:2} “En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, {20:3} en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.”
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2011-11-20
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking