Nitzavim
(Hulle Staan)
In hierdie week se lesing, Parasha Nitzawim, maak die Here baie duidelik dat indien die kinders van Israel al Sy gebooie nakom, presies soos Hy dit vir hulle neergelê het, alles met hulle lewens sal goed gaan. Dieselfde geld natuurlik ook vir ons.
Deuteronomium / Devarim {29:29} "Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet"
Daar bestaan geen twyfel nie dat daar baie dinge is wat die Here nie aan ons geopenbaar het nie en sekerlik, met ons beperkte verstandsvermoeë, is daar baie dinge aangaande God, wat ons nie kan en wil verstaan nie. Ek begryp steeds nie tenvolle hoedat God Homself kan openbaar op wyses wat onafhanklik funksioneer, maar nogtans één is nie. Ek kan nie verstaan hoedat God bepaal het wat vir Sy volk eetbaar was en wat nie eetbaar was nie. Dit maak egter nie saak of ek hierdie dinge begryp of nie, omdat ek in hierdie Parasha meegedeel word dat ek nie veronderstel is om alles te begryp, wat God sê en doen nie. Daar is dinge wat Hy verkies om nie ten volle aan ons te openbaar nie; trouens ons word meegedeel dat dat daar sekere verborge dinge is, wat God om welke rede ookal, verkies het om vir Homself te hou. In die bovermelde vers, maak die Here dit egter baie duidelik dat alles wat Hy in die Tora geskryf het, of ek dit begryp of nie, ek nogtans verplig word om dit alles na te kom. Dan net ingeval ek sou poog om myself vry te stel van enige van God se gebooie deur te beweer dat Hy gespreek het slegs tot diegene wat op daardie tydstip dáár was of dat Hy gespreek het slegs tot diegene van die nasie van Israel en hulle toekomstige lewe in die land van Israel of dat hierdie gebooie slegs op Jode maar nie op nie-Joodse gelowiges of Christene van toepassing is nie, verwys ons na volgende verse:
Deuteronomium / Devarim {29:14} "En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie, {29:15} maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van die HERE onse God staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie."
Die Here verwys na almal van ons hier en selfs indien ons nie almal fisies in die land van Israel is nie en selfs indien ons nie almal Joodse gelowiges in Jesus die Messias is nie, is alles wat Hy toé tot die kinders van Israel gespreek het, vandag op ons van toepassing en móét ons dit gehoorsaam, anders as daardie sake wat Tempel-afhanklik is, aangesien die Tempel nie langer bestaan nie.
Die land wat ons as gelowiges in Jesus die Messias binnegegaan het, is die Koninkryk van God. Vroeër was ons uitgesluit uit God se Koninkryk vanweë ons sonde, maar nóú, deur die aanvaarding van Jesus die Messias as ons kappora (versoening) en Sy betaling van die prys wat vir ons sonde (dood) vereis is, het ons toegang verkry tot Sy Koninkryk en die land, wat God vir diegene voorberei het wat Hom lief het en Sy gebooie onderhou. Ons moet egter onthou dat daar ‘n Koning in hierdie Koninkryk is, waaroor Hy regeer. Aan ons word vertel dat Hy ‘n jaloerse Koning is en nie Sy Koninkryk met enigeen of enigiets sal deel nie; ook dat Hy ‘n veeleisende Koning is, wat aan ons wette , reëls en regulasies gegee het wat Hy van ons verwag om te onderhou indien ons in Sy land wil woon. Ons word ook gesê dat Hy ‘n liefdevolle, genadige welwillende Koning is en Hy belowe het om ons te seën in die Land indien ons Sy gebooie navolg en onderhou - net soos Hy belowe het om Israel te seën as hulle Hom sou volg en gehoorsaam wanneer hulle hul beloofde land binnegaan.
Sien julle nou? Die land van Israel in die Bybel is ‘n sinnebeeld van die Koninkryk van God. Moet dit egter nie misverstaan nie. Die Koningkryk van God is nie ‘n spirituele Koninkryk nie - dit is ‘n fisiese Koninkryk en dit is ONS! Vandag is die Koninkryk lewend en wel en ons wat gelowiges in Jesus die Messias is dít. Hierdie Koninkryk mag huidig gering wees in vergelyking met al die sekulêre koninkryke van die wêreld, maar eendag sal dit die enigste Koninkryk op aarde wees. Dan sal sy Koning Jesus die Messias, weer kom om Sy regmatige plek op Sy troon in te neem vanwaar Hy sal heers en regeer vanuit Jerusalem.
Dan net ingeval ons sou sê, soos wat ek baie mense al hoor sê het: “dit is onmoontlik in die moderne en voortsnellende gang van die wêreld, om al die gebooie, wat die Here van ons vereis, na te kom”. Die Here sê egter:
Deuteronomium / Devarim {30:11} "Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie. {30:12} Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:13} Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:14} Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen."
Kom ons besef dit: ons het geen verskoning nie !
Kom gou Jesus!

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking