Saterdag 07 September 2019

Die Tora en die invloed daarvan op die lewe van ‘n gelowige

Shoftim 
(Rigters) 


Deuteronomium / Devarim  {18:18} “‘n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel. {18:19} En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis.”

Hierdie is ‘n besondere belangrike Skrifgedeelte. God het alreeds daardie Profeet (Navi) wat soos Moses is, verwek. Moses het die kinders van Israel gelei uit slawerny na vryheid, uit gebondenheid na vrylating. Wat Moses fisies gedoen het, het die Profeet – net soos Moses – geestelik gedoen. Soos Moses, het Hy verlos en verlos Hy nog steeds almal wat Hom volg uit die slawerny van sonde en gebondenheid deur die satan. Daardie Profeet is Jesus die Messias. Dit is egter nie die punt wat ek wil maak ten opsigte van hierdie Skrifgedeelte uit vandeesweek se parasha nie. Wat ek graag uit hierde gedeelte wil bespreek, is:

Deuteronomium / Devarim {18:18}  “… en ek sal My woorde in sy mond lê, en Ek sal vir hulle alles sê wat Ek hom beveel. {18:19} En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis.”

Ek vind dit betreurenswaardig en steurend dat daar soveel “Christene” is wat glo dat Jesus die Messias iets nuuts onder die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) gedoen het en “Christene” gevolglik nie onder die Tora is nie. Dit is hoegenaamd nie wat ek aflei uit die bovermelde Skrifaanhaling nie. Uit wat ek lees, word aan my vertel dat Jesus slegs gespreek het wat die Vader aan Hom gegee het om te spreek. Is dit trouens nie wat Jesus aan ons bevestig het nie?

Johannes / Yochanan {8:28} “En Jesus sê vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek.”

Dink daaroor! Sou die Vader aan Sy Seun gesê het om te weerspreek wat Hy in Sy Woord sê? Hoegenaamd nie! Ons God is dieselfde gister, vandag en tot in alle ewigheid. Ek besef dat ek vantevore al hierdie onderwerp behandel het, maar ek kan dit nie genoeg benadruk nie en sal nie ophou om dit te sê totdat die Kerk dit regstel nie: “Daar is niks nuuts in die Hernieude Verbond nie en Jesus het nie die Tora weerspreek nie”.

Matthéüs / Mattityahu {5:17} “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.”

Jesus het gekom ter vervulling van wat die Tora en profete aangaande Hom voorspel het. Hy het nie gekom om ‘n einde aan die Tora te maak en ‘n nuwe godsdiens in te stel nie. Boonop verseker Hy ons hier dat die Tora geldig sal bly “totdat alles vervul is.”. Dit beteken: totdat die nuwe hemel en die nuwe aarde aanbreek, wat nie sal plaasvind tot ná die Duisendjarige Ryk nie.

Ek beweer nie dat die Mesiaanse Judaïsme al die antwoorde kan verstrek óf indien jy nie ‘n Messiaanse Joodse gelowige is nie, jy nie gered is nie. Wat ek wel sê, is indien jy glo dat jy nie langer onder die Tora is nie, is jy mislei en onbeteulde misleiding kan begryplikerwyse tot verlies van jou redding lei. Die Torah is vandag nog net so geldig soos wat dit met die skepping van die aarde was.

Konteks is alles. Hier by Kehila Melech Yisrael, vier ons die kerngebruike van Joodse lewe, met inbegrip van die Sabbat, Kosher en Feesdae (Moedim), ons nadruk is op die Tora, wat die gebooie van God bevat. Vanselfsprekend eerbiedig ons slegs daardie gebooie, wat vandag nog toepaslik is, aangesien die tempel nie langer bestaan nie. Ons volg die Tora, soos van toepassing op ‘n wêreld sonder ‘n fisiese tempel. Die Tora en die invloed wat dit op die lewe van ‘n Messiaanse Joodse gelowige het, is juis dit wat ons onderskei en van die wêreld afsonder.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2007-09-03

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking