Noach
(Noag)
Genesis/B’Reshet {6:14} “Maak vir jou 'n ark van goferhout. Jy moet vertrekke in die ark maak en dit binne en buite met pik dig maak. {6:15} Jy moet dit soos volg maak: die lengte van die ark moet honderd vyf en dertig meter wees, sy breedte twee en twintig en 'n half meter en sy hoogte dertien en 'n half meter. {6:16} Jy moet 'n dak vir die ark maak en sy nok moet jy vyf en veertig sentimeter hoog maak. Verder moet jy 'n deur aan die kant van die ark insit en 'n onderste, middelste en boonste verdieping maak."
Ek vind hierdie Skrifgedeelte absoluut wonderlik. Hierdie drie verse is die omvang van die opgetekende instruksies wat die Here aan Noag gegee het vir die konstruksie van ‘n 137 meter (450 voet) lange, by veertien meter (45 voet) hoë driedekskip Wat selfs meer verstommend is, is dat Noag hierdie skip gebou het in ‘n gebied waar daar geen oseaan of selfs ‘n meer was nie. Noag het waarskynlik nog nooit ‘n boot, wat nog ‘n skip gesien nie! Toegegee, dat baie mense geglo het dat die skip soos ‘n groot vragboot was, maar hy het ook nog nooit ‘n vragboot gesien nie of selfs geweet wat ‘n vragboot was nie.
Meeste van ons sou gesê het: “Onmoontlik dat Noag hierdie ark kon gebou het, dit moet ‘n fabel wees!” Ongelukkig is dit so dat meeste Christene wat die Tanach (Hebreeuse Geskrifte) lees, van mening is dat die meeste stories daarin slegs fabels is. Hulle dink dat dit blote leertoerusting as grondslag vir die lewe is en die Here dit juis gebruik om ‘n saak of konsep, verstaanbaar vir die leser, te maak, baie soortgelyk aan die Gelykenisse van Jesus. Niks kon egter meer werklik gewees het as die ark nie en die Here het hierdie ware gebeurtenis gebruik om ons van Sy karakter te leer; dit toon aan ons God se toewyding om die regverdiges te red en die boosdoeners te oordeel. Julle kan seker wees dat Moses hierdie massiewe vragboot gebou het wat hom gehuisves en gered het, asook sy familie en al die verskillende soorte diere wat op die aarde was!
Met ons beperkte verstand, is dit moeilik vir ons om te begryp dat hierdie persoon wat nie in die fyn kuns van bootbou opgelei is nie, moontlik enigiets kon bou wat op water drywe. Dit is moontlik vir ons nog moeiliker om te begryp dat hierdie persoon die logika van waterverplasing sou kon verstaan, so ook gewigverspreiding en ballans, sodat die boot nie sou omkantel nie. Daarbenewens bestaan daar in die Skrif geen aanduiding dat die Here vir Noag in die hemel sou ingenooi en die bootplanne aan hom voorsien het nie, volledig met ‘n gedetaileerde lys van materiaal, soos wat Hy met Moses gedoen het toe Hy aan hom die opdrag om die Mishkan (Tabernakel in die wildernis) te bou, gegee het nie. Dit sou blyk, wat ons in die Skrif lees, dat Noag op homself aangewese was vir hierdie projek, maar Noag was egter nie alleen nie. Sy seuns het aan hom hulp verleen, maar belangliker nog, Noag het ook ‘n ander Helper gehad. Die Skrif gee aan ons ‘n wenk wie daardie Helper was.
Genesis/B’Reshet {6:9} "Hier volg die verhaal van Noag. Noag was 'n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef."
Noag is slegs die tweede persoon in die hele Bybel, wat aan ons gesê word, dat hy met God gewandel het. Die ander een was Henog.
Genesis/B’Reshet {5:22} "En Henog het ná die geboorte van Metúsalag nog driehonderd jaar met God gewandel. En hy het seuns en dogters gehad."
Die Here het Abraham versoek om sonder blaam voor Hom te wandel, maar nêrens in die Skrif word gemeld dat Abraham die vlak bereik het van waar die Skrif van hom kon sê dat hy met God gewandel het nie.Dus om met God te wandel en prysenswaardig in die Skrif daarvoor vermeld te word, moet dit iets baie spesiaal beteken.
Dit vereis toewyding om met God te wandel. Verder vereis dit ook ‘n innerlike besluit wat ‘n mens toelaat om aanhoudend te luister na die innerlike ingewing deur die Heilige Gees. Henog het met God gewandel en as gevolg daarvan, nie gesterf nie. Noag het met God gewandel en gevolglik was hy die enigste man op aarde wat uitgekies is, om die vloed te oorleef en hy kon sy gesin saamneem. Die lewe as ‘n gelowige word dikwels verwys na “wandel met God” en ons word in die Skrif dikwels soos volg daartoe aangespoor:
Efesiërs/Efosos {5:15} "Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse;"
Ons wandel as ‘n gelowige in Jesus die Messias word verduidelik om in volmaakte gehoorsaamheid aan die Wil en Woord van God te lewe. Hoeveel van ons doen dit werklik? Hoeveel van ons glo dat God van ons sê dat ons met Hom wandel?
2 Konings/Malachim Bet {20:3} "Ag, HERE, dink tog daaraan dat ek voor u aangesig in trou en met ’n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë. En Hiskía het bitterlik geween."
Na my mening is hierdie Skrifgedeelte die beste beskrywing van ons wandel as gelowiges. Ons wandel vóór Hom en nie mét Hom nie. Om met God te wandel, blyk ‘n uitdrukking te wees van iets meer intiem, meer soos twee vriende wat loop en saamgesels en mekaar se mees intieme innerlike langs die pad ervaar. Sowel Noag as Henog het hierdie soort verhouding met die Here gehad. Dus kan ons aflei dat Noag ‘n intieme omgang met die Here gehad het; trouens, dit is wat die eenvoudige stelling “Noag het met God gewandel”, beteken.
So was Noag alleen in sy projek om hierdie ongelooflike, skynbaar onmoontlike ark te bou? Nee, die Heilige Gees het hom gelei en die Here was elke tree van die weg by hom, omdat Noag met God gewandel het.
Matthéüs/Mattityahu {19:26} "Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik."
Kom gou Jesus!

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking