Tetzaveh
(U Sal Beveel)
Eksodus {29:42} “Dit moet 'n voortdurende brandoffer vir julle geslagte wees, by die ingang van die tent van samekoms, voor die aangesig van die Here, waar Ek met julle sal saamkom om daar met jou te spreek. {29:43} En daar sal Ek met die kinders van Israel saamkom en die tent sal deur my heerlikheid geheilig word. {29:44} So sal Ek dan die tent van samekoms en die altaar heilig. Ek sal Aäron en sy seuns ook heilig om vir My die priesteramp te bedien. {29:45} En Ek sal onder die kinders van Israel woon en vir hulle 'n God wees; {29:46} en hulle sal weet dat Ek die Here hulle God is wat hulle uit Egipteland uitgelei het om in hulle midde te woon. Ek is die Here hulle God.”
Waarom moes die Altaar van die Offerande geplaas word by die ingang vóór die Tent van Samekoms? Waarom kon dit nie agter by een van die sykante geplaas gewees het nie?
Uit hierdie Parasha verneem ons dat daar ‘n uitgebreide stelsel van Offerande was wat vereis het dat Aäron en sy seuns toegelaat sou word om die Tent van Samekoms binne te gaan. Teneinde hulle in staat te stel om verby die Altaar te beweeg, moes hulle vooraf geheilig en gereinig word van enige sonde. Geen sondige priesters kon in die teenwoordigheid van ‘n Heilige God en die Altaar kom nie, waarop die sondoffers verbrand is en daardie doel gedien het.
Met die Tent van Samekoms het die Here ‘n plek vir Homself geskep waar Hy onder onheilige mense kon woon, maar nogtans apart van hulle wees. Soos ek verlede week gesê het, wat was dus die doel van die Here om onder hulle te woon? Dit was so dat hulle ‘n persoonlike verhouding met Hom kon hê. Soos die bogemelde Skrif lui, “Hulle sal weet dat Ek die Here hul God is, wat hulle uit die land van Egipte gelei het, sodat Ek onder hulle kon woon. Ek is die Here hulle God.”
God is nie ‘n God van reëls en regulasies nie - Hy is ‘n God van verhoudinge! Dit is egter onmoontlik vir ‘n sondige, onheilige volk om enige soort verhouding met ‘n Heilige God te hê vandaar die behoefte aan ‘n Altaar van Offerande en diere-offers. Diens by die Tora en vervulling van die gebooie, het ‘n mens nie heilig gemaak nie. Wat ‘n mens wel heilig maak, is vergifnis van sonde deur die plaasvervangende diere-offers.
Het julle opgelet dat, toe die Parasha gelees is, Aäron en sy seuns hulle hande op die offerdier moes lê voordat dit geslag is? Die handoplegging het die oorplasing van hul sonde op wat ookal geoffer word, veplaas. Die dier, waarop hul hande gelê was, is toe geslag en aan die Here geoffer as plaasvervanger vir die dood van die menslike sondaar; in die geval van ons Parasha, was dit vir Aäron en sy seuns.
Die Here is vandag netso heilig as wat Hy in bybelse tye was en ons as mense is netso onheilig as wat ons in die bybelse tye was. Ons het egter steeds ‘n offerande nodig om die prys van ons sonde - soos in bybelse tye - nodig indien ons ‘n verhouding met God verlang. Wat is vandag ons offerande vir sonde aangesien daar nie langer ‘n Tent van Samekoms of ‘n Tempel in Jerusalem is, waar diere die prys vir ons sonde kan betaal nie? Waarop lê ons vandag ons hande om ons sonde vir ons te verplaas teneinde ‘n verhouding met die Heilige God te vestig? Dit is vanselfsprekend Jesus die Messias.
Jesaja {59:2} “maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.”
Jesaja {59:3} “Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg.”
Daar is ‘n interessante punt wat ek graag met julle wil deel aangaande die Altaar en die Offerande: dit behels ‘n verklaring deur Jesus:
Matthéüs {23:34} “Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, {23:35} sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar.”
Let daarop dat Sagaria tussen die Altaar en die Tempel vermoor is. Vandeesweek se Parasha vertel ons dat Aäron en sy seuns geheilig moes word deur die diereoffer te gebruik voordat hulle verby die die Altaar kon gaan, wat beteken het dat niks wat sondig was toegelaat is tussen die Altaar en die Tent van Samekoms nie en dieselfde sou gegeld het tussen die Altaar en dieTempel, waar Sagaria vermoor is. Die Altaar van Offerande is doelbewus so geplaas dat die priesters vergifnis kan ontvang vir enige sonde wat gepleeg is voordat hulle die Tent van Samekoms kon betree. Dit kon egter nie versoening vir enige sonde bied wat verder as die Tempel gepleeg is nie. Sagaria se moord het plaasgevind aan die verkeerde kant van die Altaar (tussen die Altaar en die Tempel); derhalwe was daar geen versoening daarvoor nie.
Met dit in gedagte, is die Tempelberg nie besoedel nie vanweë die Koepel van die Rots of omdat die Moskee ook daarop was, soos deur vele beweer word. Hierdie gedeelte van die vaste eiendom is besoedel deur die bloed van Sagaria, wat tussen die Altaar en die Tempel vermoor is en waarvoor daar geen versoening was nie. Derhalwe sal die Tempelberg, in die huidige toestand, altyd besoedel wees. Die bestaande berg sal vernietig moet word en ‘n nuwe berg op die plek daarvan opgerig word sodat die Messias se Duisendjarige Tempel in Jerusalem gebou kan word. - dit is wat presies sal gebeur.
Sagaria {14:4} “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot 'n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide.”
Wanneer Jesus na die aarde terugkeer, sal Sy voete raak aan die Olyfberg, wat die drie pieke, waarvan die Tempelberg één is, hierdie bergreeks skeur en ‘n nuwe onbesoedelde berg gevorm word waarop die Messiaanse Duisendjarige Tempel kan en sal opgerig word.
Jesaja {2:1} “DIE woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. {2:2} En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. {2:3} En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem.”
Kom gou Jesus!
![]() |
| PDF weergawe |

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking