Chukat
(Statute)
Numeri {20:7 - 13} “Die Here sê toe vir Moses: {20:8} “Vat Aäron se kierie en roep jy en jou broer Aäron die volk bymekaar. Julle moet dan in hulle teenwoordigheid met die rots praat, en daar sal water uitkom. Jy moet vir hulle water uit die rots laat kom, sodat die volk en hulle vee kan drink.” {20:9} Moses het toe die kierie wat in die tabernakel was, gevat soos die Here hom beveel het {20:10} en hy en Aäron het die volk by die rots laat bymekaarkom. Moses het vir hulle gesê: “Luister, julle wat julle teen die Here verset! Luister! Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?” {20:11} Toe lig Moses sy hand op en hy slaan die rots twee keer met die kierie. Daar het baie water uitgekom, en die volk en hulle vee het gedrink. {20:12} Maar toe sê die Here vir Moses en Aäron: “Omdat julle My nie erken het en My, die Heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie, sal julle hierdie volk nie inlei in die land wat Ek aan hulle gee nie.” {20:13} Dit het gebeur by die Meribawaters waar die Israeliete met die Here rusie gemaak het, en waar Hy Hom as die Heilige aan hulle bekend gemaak het.”
Dit was nie die eerste keer dat die kinders van Israel dors gely het terwyl hulle deur die wildernis getrek het nie - dit was die derde keer. Daar is egter meer as net water betrokke. Ons sal nog sien dat God die Evangelieboodskap binne hierdie drie gebeure aan water aangeleenthede gekoppel het.
Die eerste voorval het by Mara plaasgevind waar die water bitter en ondrinkbaar was. Mara beteken “bitter”. Dáár het Moses vir God aangeroep namens die volk en is hy beveel om ‘n boomtak in die water te gooi. Wonderbaarlik het die water soet geword! Wat is die Evangeliese betekenis hier? Die tak wat Moses in die water gegooi het, was simbolies van die Boom van Lewe: Jesus. Tydens ons Tora-diens in Kenia, het ons die “Aitz Chaim” (Boom van Lewe) gedreunsang as deel van ons liturgie. Hierdie lied verwys na die Woord van God, Messias Jesus, wat die Lewende Woord is. Dus toe die Boom van Lewe, gesimboliseer deur die tak wat in die bitter water by Mara gegooi is, het dit lewe aan daardie water gebring en die bitter water het soet geword. Netso, toe Jesus vlees geword het in ‘n bitter wêreld, het Hy redding en lewe daarin gebring: die bitter het soet geword. Hierdie eerste voorval van gebrek aan water, verteenwoordig Jesus se vleeswording, Sy geboorte.
Die tweede waterskaarste was by Rephidim wat “rusplek” beteken. Moses het weer tot die Here geroep en is beveel om God by die “Rots” te ontmoet, waar Sy verheerliking sou verskyn. Ook dit was simbolies en ‘n voortsetting van die Evangeliese voorstelling. Daar word dikwels in die Skrif na Jesus as “Die Rots” verwys. Dit was by Rephidim (rusplek) waar “die Rots” geslaan is sodat lewende water vir die mense uitgestort kon word. Na Jesus se dood, is die Heilige Gees uitgestort oor alle vlees, soos Lewende Water deur die Rots - eenmaal - te slaan was simbolies ‘n aanduiding van Jesus se dood. Die tweede watervoorval was dus ’n beeld van Jesus wat geslaan word: Sy dood.
Volgens Parasha Chukat ondervind Israel weer verdere tekort aan water: hierdie keer by Kadesh, wat “Heilig” beteken. Hier is Moses beveel om die mense rondom “Die Rots” te laat byeenkom, die Rots aan te spreek en lewende water sou daaruit vloei. God het Moses beveel om slegs te praat, nie om daarteen te slaan nie! Deur wel teen die Rots te slaan, het Moses nie vir God gehoorsaam nie en die finale Evangeliese beeld vernietig; wat God besig was om te skilder oor ons Messias Jesus en vandaar die wrede gevolge. God het alreeds by Mara simbolies aan Israel van Jesus se geboorte getoon, sy daad by Rephidim en nou wou Hy aan hulle die finale deel van die Evangeliese beeld toon: REDDING. Ten einde gered te word (weer gebore), hoef ons slegs ”Die Rots” (Jesus) te vra om ons te red! Wanneer ons dít doen, stort Hy Sy lewende water van redding oor ons. Omdat Moses teen die Rots by Kadesh geslaan het, is Jesus ‘n tweede keer simbolies gekruisig. Wat ‘n HEILIGE tyd moes gewees het, het ‘n tyd van “tweedrag” en “stryd” geword . Geen wonder dat God vir Moses kwaad geword het nie!
Deur sy optrede het Moses die volk bestraf, God se heerlikheid is ontneem, God se betuiging van genade vernietig. Dit is egter verstommend dat God in elk geval wel water gestuur het. Dit is omdat God se voorsiening nie afhanklik is van ons dade van geregtigheid nie: God se voorsiening is uitsluitlik afhanklik van Sy genade en guns. Moses het niks te doen gehad met die voorsiening van die water nie Hierdie was God se mense, dit was God se tak in Moses se hand, dit was God se Rots en dit was God se water. Moses was slegs die medium wat God gekies het om op hierdie besondere tye te gebruik. God was nie afhanklik van Moses om water te voorsien nie, netsoos Hy ook nie van ons afhanklik is nie! Dit is reg: God is nie van julle of my vir enigiets afhanklik nie. Hy seën ons deur ons te gebruik, maar word nie vir ‘n sekonde deur ons beperk nie. Hy is, in en deur Homself, geheel en al selfgenoegsaam.
Jakobus {4:10} “Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”
![]() |
| PDF weergawe |

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking