Shelach
(Ondersoek Jouself)
Numeri {13:25} “Nadat hulle die land veertig dae lank verken het, het hulle teruggegaan. {13:26} Die verkenners het toe by Moses en Aäron en die hele vergadering van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn aangekom. Daar het hulle aan Moses-hulle en aan die hele vergadering verslag gedoen en vir hulle die vrugte van die land gewys. {13:27} Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte. {13:28} Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook die nasate van Enak daar gesien. {13:29} Die Amalekiete woon in die Suidland, die Hetiete, Jebusiete en Amoriete in die Bergwêreld, en die Kanaäniete by die see en langs die Jordaan.” {13:30} Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.” {13:31} Maar die manne wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.” {13:32} Die manne het toe 'n slegte gerug onder die Israeliete versprei oor die land wat hulle verken het. Hulle het gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is 'n land wat die lewe vir sy inwoners onmoontlik maak, en die mense wat ons daarin gesien het, is almal baie groot. {13:33} Ons het daar ook die reuse gesien. Die Enakiete stam van hulle af. Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë.””
Soos ons kan sien is hierdie Parasha en die gedeelte daarvan wat ek gekies het om aan te haal, oor die twaalf verspieders wat Moses gekies het om die Land van Kanaän te gaan verken. Twee van die verspieders, Kaleb en Josua het die land as verowerbaar beskou en aan Moses ‘n positiewe verslag voorgehou, deur hom en die kinders van Israel te bemoedig dat die Kanaäniete verslaan sou kon word en hulle die land sonder moeite in besit sou kon neem. Tien verspieders het egter terug gekeer met ‘n negatiewe verslag en hulle oorredingsredes verstrek waarom die Kanaäniete nie deur die kinders van Israel verslaan sou kon word nie. Dit is tog interessant dat, nadat al twaalf verspieders alles belewe het wat God vir hulle gedoen het tydens hulle tog deur die wildernis, hulle steeds nie die vertroue gehad het om in God te glo nie, selfs nadat God aan Moses die versekering gegee dat Hy die land aan hulle sou gee. Kaleb en Josua was dus reg.
Numeri {13:1} “Die Here het vir Moses gesê: {13:2} “Stuur manne om Kanaän, wat Ek aan die Israeliete sal gee, te verken. Uit elke voorvaderlike stam moet jy een stuur wat 'n leier onder hulle is.””
Daar is ‘n valse leer wat al ‘n geruime tyd in omgang is in die kerk en wyd aangehang word. Dit word genoem “noem dit en eis dit”. Die aanhangers daarvan, glo dat God aan hulle oorwinning gegee het in elke opsig van hulle lewens, veral op die gebied van finansiële voorspoed; al wat hulle hoef te doen is om geloof te hê deur te glo dat God aan hulle sal skenk wat dit ookal is, wat hulle wil hê. In essensie, as hulle eis sonder om te weifel, deur hulle uitdrukking van geloof, staan God hulle versoek toe. Indien ‘n persoon toevallig egter nie ontvang wat hy geëis het nie, lê die fout nie by God nie maar by die persoon se geloof.
Natuurlik is dit ‘n valse onderrig en hierdie Parash bevestig dit. In dié Parasha het God alreeds aan die kinders van Israel oorwinning gegee oor die Kanaäniete. Al wat Israel moes doen, was om die land binne te val, daarvoor te veg en enige weerstand wat hulle ondervind het, sou oorwin word. In plaas daarvan het die Israel in opstand gekom teen God en geweier om Kanaän in te neem soos God dit wou gehad het en wanneer Hy dit wou gehad het.Toe hulle egter later hul sonde besef het en die fout wat hulle begaan het, het hulle besluit om teen die Amelekiete en Kanaäniete op te ruk, maar dié keer het hulle opgetree sonder God se beskerming en is verslaan. Al het hulle nou geloof en vertroue gehad dat hulle die inwoners van die land sou verslaan, was hulle roem op die oorwinning nie voldoende nie omdat God nie meer met hulle was nie.
Israel het alreeds die land Kanaän oorwin. Dit was ‘n oorwinning wat reeds in die hemel verorden is en daar is nou gewag dat hulle dit moet inneem. Teneinde daardie oorwinning vanuit die hemel te ontvang moes hulle hul wil met die wil van God laat ooreenstem. Om slegs die oorwinning te eis, sou nie gewerk het nie. Ongehoorsaamheid aan God se wil, het neerlaag en nie oorwinning meegebring nie.
Sekerlik is ons as gelowiges oorwinnend in Jesus en wag die oorwinning vir ons in die hemel, om dit op te neem. Om te oorwin, hang egter nie af van hoeveel ons dit noem en eis nie, of oor hoeveel geloof ons beskik nie. Oorwinning hang af van iets veel meer as dit; Dit hang af of óns wil ooreenstem met Gód se wil, sodat wat Hy vir ons beskik, vrygestel kan word. Elkeen van ons beste pogings om te noem en eis - sal as ons dit nie met God se wil, laat ooreenstem nie, tot neerlaag lei!
Kom gou Jesus!
![]() |
| PDF weergawe |

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking