Donderdag 05 Januarie 2023

VaYechi (En Hy Het Gelewe) - Vergewe jy jouself ten volle?





Genesis {50:12} "En sy seuns het met hom gedoen net soos hy hulle beveel het: {50:13} sy seuns het hom weggebring na die land Kanaän en hom begrawe in die spelonk van die stuk grond van Magpéla, die stuk grond wat Abraham as eiendomsgraf gekoop het van Efron, die Hetiet, oos van Mamre. {50:14} Daarna het Josef na Egipte teruggegaan, hy en sy broers en almal wat saam met hom opgetrek het om sy vader te begrawe, nadat hy sy vader begrawe het. {50:15} Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood was, het hulle gesê: Sê nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die kwaad wat ons hom aangedoen het! {50:16} Daarom het hulle hierdie boodskap na Josef gestuur: U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde: {50:17} So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien. En Josef het geween toe hulle met hom spreek. {50:18} En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en gesê: Kyk, ons is u slawe. {50:19} Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God? {50:20} Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ’n groot volk in die lewe te hou. {50:21} Wees dan nou nie bevrees nie: ék sal julle en julle kinders onderhou. So het hy hulle dan getroos en na hulle hart gespreek."

Ons het die einde van die verhaal oor Josef bereik. Ek het deurgaans gesê dat Josef ‘n ewebeeld van Jesus die Messias was. In die lig daarvan, laat ons die paralelle tussen die twee vergelyk: Josef is deur sy broers verwerp, deur hulle verkoop aan nie-Jode wat oor sy lot besluit het; sy broers het hom as dood geag; hy is in die tronk opgesluit, bevry en onder die nasies, waarvan Egipte, ‘n voorbeeld is, vernaam geraak. In vergelyking: Jesus die Messias was ook verwerp deur Sy broers (die Joodse mense) ook deur hulle verkoop aan nie-Jode, wat oor Sy lot besluit het; Sy broers het Hom ook as dood geag; Hy is begrawe, toe opgewek en vernaam onder die nie-Jode geword.

Die ooreenkomste tussen Josef en Jesus die Messias eindig nie daar nie. Wat ek aangeraak het, is slegs die punt van die ysberg. Dit beteken dat die ooreenkomste geensins toevallig kan wees nie. God het vir ons die Evangelie opgeteken deur die verhaal van Josef honderde jare voordat dit werklik plaasgevind het. Die “Ou Verbond” is dus nie slegs vir die Jode nie, dit is vir almal.

Dit is egter nie die onderwerp van my lesing nie. Ek het die bovermelde gedeelte so tipies van die hedendaagse gelowiges gevind. Ek sal verduidelik. Julle sal onthou dat in verlede week se Parasha, Vayigash, Juda en sy broers hulle harte voor Josef uitgestort het en hulle sonde aan hom bely. Op daardie stadium het Josef homself nog nie aan sy broers openbaar nie. Gevolglik het hy, nadat hy sy identiteit onthul het, sy broers verseker dat hy hulle sonde vergewe en hulle vrygespreek van wat hulle hom aangedoen het.

Genesis {45:4} "Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. {45:5} Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. {45:6} Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. {45:7} Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ’n groot verlossing."

Josef se broers is vergewe en alles wat in die verlede gebeur het was vergete. Josef het aansienlike opgang in sy lewe gemaak, maar duidelik uit ons vorige gedeelte, was dit nie die geval met sy broers nie. Ofskoon Josef hulle duidelik vergewe het, het hulle hulself nie vergewe nie en gevolglik steeds skuldig gevoel.

Indien ons met die vergelyking van Josef as ‘n ewebeeld van Jesus die Messias voortgaan, is hierdie scenario nie verskriklik soortgelyk aan die lewens van baie gelowiges vandag nie? Alles wat met Josef gebeur het, was soos hyself erken het, deur God beskik tot voordeel van sy broers, toekomstige geslagte van Israel sowel as vele ander nasies. Die broers se bekentenis aan Josef het hulle toegelaat om die voordele onder sy beskerming te geniet, omdat hy in die magtige posisie van onderkoning van Egipte was. Dit het Josef bevestig, was alles deur God beskik vir daardie uitsluitlike doel. Net so was alles wat met Jesus die Messias gebeur het, die beskikking van die Vader vir die uitdruklike doel om tot kinders van Israel se voordeel te wees en sodoende ook vir die hele wêreld. Wanneer ons ons sonde bely voor Jesus - die sonde wat ons teen Hom gepleeg het deur die oortreding van Sy gebooie, soos in die Tora vervat, vergewe Hy ons. Trouens ons word verseker:

Miga {7:19} "Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp."

Vergewe ons onsself wat Josef se broers nie gedoen het nie? Baie van ons laat dit na! Ten spyte van die feit dat ons vergifnis ontvang het, verkeer ons steeds onder die skuldgevoel van die verlede: ou bagasie wat ons neerdruk en ons vreugde demp. Laat hierdie week se Parasha en in besonder die Skrifgedeeltes waaruit ek aangehaal het, jou bemoedig sodat jy nie soos Josef se broers word nie. Aanvaar die vergifnis wat Jesus die Messias aan jou geskenk het en gaan aan met jou lewe - Josef het!

Ons het nou die boek Genesis afgehandel. By die afhandeling van die lees van elke boek van die Tora is dit gebruiklik om te sê:

Chazak, Chazak V’nitzChavek  (Wees sterk, wees sterk en laat ons versterk word)!  

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking