✦

Dit Is Nie 'n Verskoning Nie

Shemini
(Agtste)


Levítikus / VaYikra {10:16} “En Moses het rondgesoek na die sondofferbok, maar dit was verbrand! Daarom was hy baie kwaad vir Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron wat oorgebly het; en hy het gesê: {10:17}  Waarom het julle die sondoffer nie op ‘n heilige plek geëet nie? Want dit is hoogheilig, en Hy het dit aan julle gegee om die ongeregtigheid van die vergadering weg te neem, om versoening vir hulle te doen voor die aangesig van die HERE. {10:18}  Kyk, die bloed daarvan is nie binne in die heiligdom gebring nie. Julle moes dit sekerlik in die heiligdom geëet het soos ek beveel het. {10:19}  Toe sê Aäron vir Moses: Kyk, hulle het vandag hul sondoffer en hul brandoffer voor die aangesig van die HERE gebring, en sulke dinge het my oorgekom; as ek vandag sondoffer geëet het, sou dit goed gewees het in die oë van die HERE? {10:20}  Toe Moses dit hoor, was dit goed in sy oë.”

Ek het nog altyd 'n probleem ondervind met hierdie Skrifgedeelte; trouens, ek het tot nou toe 'n probleem ondervind om dit behoorlik te verstaan. Die sondofferbok moes, volgens God se opdrag, geslag word. Gedeeltes daarvan moes dan verbrand word en 'n deel deur Aäron en sy twee oorblywende seuns, in die gewyde plek geëet word. Indien hulle egter nie hulle porsie van die offerande geëet het nie, moes die bloed van daardie offerdier in die tent van samekoms ingeneem word vir versoening. Versuim om God se opdrag na te kom kon onsettende gevolge vir al die kinders van Israel meegebring het.

Levítikus / VaYikra {6:25} “Spreek met Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet van die sondoffer: Op die plek waar die brandoffer geslag word, moet die sondoffer voor die aangesig van die HERE geslag word. Dit is hoogheilig. {6:26}  Die priester wat dit as sondoffer bring, moet dit eet; op ‘n heilige plek moet dit geëet word, in die voorhof van die tent van samekoms. {6:27}  Alles wat aan die vleis daarvan raak, word heilig; en as daar van die bloed op ‘n kledingstuk spat, moet jy die stuk waar dit op spat, op ‘n heilige plek was. {6:28}  En ‘n erdepot waar dit in gekook is, moet stukkend gebreek word; maar as dit in ‘n koperpot gekook is, moet dit geskuur en met water afgespoel word. {6:29}  Almal wat manlik is onder die priesters, mag dit eet; dit is hoogheilig. {6:30}  Maar elke sondoffer waarvan ‘n deel van die bloed in die tent van samekoms gebring word, om in die heiligdom versoening te doen, mag nie geëet word nie; dit moet met vuur verbrand word.”

Moses was kwaad vir Aäron omdat hy en sy oorblywende seuns nie hul porsie van die sondoffer  geëet het nie en ook nie die bloed in die gewyde plek ingeneem het nie.  Aäron het wel opgetree volgens die opdrag wat Moses van God ontvang het. Soos Israel vantevore dikwels reeds ervaar het, kon versuim om God se opdragte uit te voer, verskriklike gevolge inhou.

Toe  Aäron egter aan Moses 'n logiese verduideliking verstrek het waarom die Here se voorskrifte nie uitgevoer is nie, het Moses dit so aanvaar en is alles vergewe. Dit is juis hierdie aspek wat my altyd verwar het. Is God se voorskrifte dan buigsaam indien ons goeie verskonings aanbied waarom ons nie Sy opdragte uitgevoer het nie? Voordat ek dit behandel, wil ek eers aandag skenk aan Moses se oënskynlike woede.

Volgens die Skrif was Moses die ootmoedigste man wat ooit geleef het en tog dui die teks aan dat hy vir sy broer en neefs kwaad geword het omdat hulle nie gedoen het wat hy hulle beveel het nie. Is dit dan moontlik om kwaad te word maar nogtans as verdraagsaam en ootmoedig beskou te word? Die antwoord is blykbaar ja, indien 'n mens se woede regverdiglik verontwaardig is. Moses was kwaad, nie omdat  Aäron en sy oorblywende twee seuns hom veronreg het nie, maar wel dat hulle teen God gesondig het.

Ek word ook dikwels kwaad vir mense hier by die sinagoge (shul) wat dinge gedoen of nagelaat het om dit te doen, byvoorbeeld om 'n belofte te maak en dit te verbreek of om eredienste, wat aan die gang is, te versteur of om die gemeenteleierskap nie te respekteer nie. Dit is nie dinge wat hulle my aangedoen het nie maar hulle het wel teen God gesondig! Dit is dus bloot op grond van my liefde vir God en my innige begeerte om slegs Sy wil te doen, dat ek kwaad word. Jesus het iets soortgelyk gedoen:

Johannes / Yochanan {2:15} “En Hy het ‘n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste, en die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer. {2:16}  En vir die duiweverkopers het Hy gesê: Neem daardie dinge hier weg; moenie die huis van my Vader ‘n handelshuis maak nie.”

Wat nou van die opvatting dat God se bepalings inderdaad buigsaam is indien ons 'n aanvaarbare verskoning aanbied?  Aäron  het egter nie 'n verskoning aangevoer nie – hy het trouens oor 'n goeie redeneervermoë beskik! Sy oudste twee seuns het onlangs gesterf en moontlik het hy ietwat verantwoordelik vir hul dood gevoel. Indien dit jou kinders was, sou jy moontlik ook so gevoel het, veral by die gedagte, dat as jy hulle beter beheer het, hulle nie sou gesterf het nie. Aäron en sy oorblywende seuns – vanweë die dag se gebeure – het dus geen eetlus gehad of geneë gevoel om die vereistes van die gewyde plek na te kom nie. Indien ons in Aäron se posisie was, sou die laaste waaraan ons gedink het, sekerlik voedsel of ons werk gewees het. Is dit regmatig om iets vir die Here te doen as dit nie met opregte bedoelings geskied nie? Ek dink nie enigeen van ons sou 'n probleem daarmee hê om die vraag negatief te beantwoord nie. Indien ons enigiets sonder die regte gesindheid vir die Here doen, is dit hoegenaamd onaanvaarbaar en onbehaaglik vir die Here. Daarbenewens sou  Aäron, indien hy iets met die verkeerde gesindheid gedoen het, hierdie heilige handeling ontheilig het, wat in wese dieselfde was wat Nedav en Avihu gedoen het.

Ek meen dat dit wat ons uit die Skrifgedeelte, uit vandeesweek se Parasha asook my verduidelikings, geleer het, is dat  Aäron nie slegs 'n verskoning aangevoer het nie, maar inderdaad gedoen het wat reg was: om dit wat heilig was, van die onheilige te onderskei.

Levítikus / VaYikra {10:10} “en julle moet onderskeid maak tussen wat heilig en wat onheilig, en tussen wat onrein en wat rein is;”


Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-04-10

Is God Besig om "Vreemde Vuur" na jou te roep?



Shemini 
(Agtste)


Levitikus / Vayikra {10:1} “En die seuns van Aäron, Nadab en Abíhu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie. {10:2} Daarop het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE.”

Die dood van Aaron se twee seuns, Nadab en Abihu, so tragies soos dit ookal was, verleen krag aan die opdrag wat God aan Aaron gegee het.

Levitikus / Vayikra {10:8} “En die HERE het met Aäron gespreek en gesê: {10:9} Moenie wyn of sterk drank drink nie, jy of jou seuns saam met jou as julle in die tent van samekoms ingaan, dat julle nie sterwe nie; ‘n ewige insetting is dit vir julle geslagte; {10:10} en julle moet onderskeid maak tussen wat heilig en wat onheilig, en tussen wat onrein en wat rein is; {10:11} en julle moet die kinders van Israel leer al die insettinge wat die HERE deur die diens van Moses aan hulle verkondig het.”

Die twee sterftes het aan Aaron, God se aangestelde en gesalfde hoëpriester, getoon dat Hy geen onreinheid in Sy teenwoordigheid duld nie. Hy sou ook geen opstand of ongehoorsaamheid duld nie. Aangesien God dieselfde is gister, vandag en tot in ewigheid, moet ons as priesters van die Here, uiters versigtig wees om ook voor God eerlik en opreg te wandel. Hy sal ons miskien nie daar en dan met die dood tref, soos vir Nadab en Abihu, nie maar die gevolge van ons sonde, sal net so seker wees.

Die uitdruklike opdrag van God oor hoe Aaron moes funksioneer in die Heilige van Heiliges en die dood van sy twee seuns het die boodskap wat God wou tuisbring, baie duidelik uitgespel: Sy opperste heiligheid en die mens se volslae sondigheid. Wat sal dit neem dat ons ook die boodskap ten volle begryp? Ek hoor steeds dat mense na "die grootman in die lug" of "die ou daarbo" verwys. Word God se heiligheid deur sulke praatjies verklaar? Ek sidder altyd wanneer ek hoor hoedat mense na God verwys. Ek vrees om te naby hulle te wees, vir ingeval hulle deur weerlig getref en dit ook na my toe opslaan. God verdra dit nie en sal nie ons onheilige woorde of dade teenoor Hom verduur nie.

Spreuke / Mishlei {16:25} "Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood."

Baie mense beweer dat alle godsdienste goed is en daar vele maniere is om by God uit te kom, maar ek sê, sonder die geringste twyfel in my gemoed, dat dit 'n leuen uit die hel is. Daar is slegs één weg na God, en dit is Sy weg. Alle ander weë lei na die verderf. Iemand wat tot God bid, maar nie volgens Sy weg - dit is Jesus - tot hom kom nie, nader God op 'n vreemde wyse, wat nie vir Hom aanvaarbaar is nie. Juis dit was die sonde van Nadab en Abihu. Hulle het hulle aan God opgedring, oftewel Hom op hul wyse genader, en tragies genoeg, is dit die sonde wat tans in sinagoges regoor die wêreld gepleeg word. Hulle probeer om God te nader deur weldade , uitgerekte liturgiese gebede en liefdadigheid. In werklikheid offer hulle vreemde vuur aan God. Hy het ons nie geleer dat daar slegs één weg tot Hom en dit is deur bloed:

Hebreërs / Ivrim {9:22} "En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie."

God het dit baie duidelik aan Aaron gestel: Wees versigtig dat jy nie op jou manier tot My nader nie anders sal jy sterf. Bid asseblief vir die verlore skape van die huis van Israel!

Levitikus / Vayikra {10:1} "En die seuns van Aäron, Nadab en Abíhu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie."

Let op wat God hier gesê het "...wat Hy hulle nie beveel het nie". Dit was nie enige gewone ongehoorsaamheid nie. God het hulle duidelik beveel wat hulle nie moes doen nie. Gevolglik was dit eiesinnige en opsetlike ongehoorsaamheid. Wie van ons wat dit vandag lees, ken die gebooie van God, weet wat Hy van ons verlang maar gee nie gehoor daaraan nie? Indien dit jy is, weet dan dat dit eiesinnigheid en opsetlike ongehoorsaamheid van jou kant is. Diegene van ons vir wie dit geld, moet ernstig op ons lewens let. Waar is ek nou? Wat gebeur in my huis of gesin? Maak 'n eerlike opname en onthou dan dat God 'n verterende vuur is en wat Hy verteer, is die ongehoorsames, selfsugtiges en onvergewensgesindes; Hy verteer haat, onversetlikheid, luiheid asook owerspelers, ontugtiges en leuenaars, om 'n paar sondes te noem.

Hebreërs / Ivrim {12:25} "Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ‘n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek."

Dit is een van die grootste sondes van ons tyd: Mense gee nie gehoor aan wat God spreek nie. Die hedendaagse mense wil dinge op hul eie manier doen, maar wat hulle in werklikheid doen is om God in hul eie afbeelding te skep. Die media sê: "Doen jou eie ding". Die wêreld verkondig aan ons: "As dit goed voel, doen dit" Die sportindustrie moedig ons aan: "Doen dit net" God sê egter: "Vreemde Vuur! Vreemde Vuur!" Wie gaan jy glo?

Kom gou Jesus!



Voorheen uitgegee: 2009-04-18