Shemini
(Agtste)
Levitikus / Vayikra {10:1} “En die seuns van Aäron, Nadab en Abíhu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie. {10:2} Daarop het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE.”
Die dood van Aaron se twee seuns, Nadab en Abihu, so tragies soos dit ookal was, verleen krag aan die opdrag wat God aan Aaron gegee het.
Levitikus / Vayikra {10:8} “En die HERE het met Aäron gespreek en gesê: {10:9} Moenie wyn of sterk drank drink nie, jy of jou seuns saam met jou as julle in die tent van samekoms ingaan, dat julle nie sterwe nie; ‘n ewige insetting is dit vir julle geslagte; {10:10} en julle moet onderskeid maak tussen wat heilig en wat onheilig, en tussen wat onrein en wat rein is; {10:11} en julle moet die kinders van Israel leer al die insettinge wat die HERE deur die diens van Moses aan hulle verkondig het.”
Die twee sterftes het aan Aaron, God se aangestelde en gesalfde hoëpriester, getoon dat Hy geen onreinheid in Sy teenwoordigheid duld nie. Hy sou ook geen opstand of ongehoorsaamheid duld nie. Aangesien God dieselfde is gister, vandag en tot in ewigheid, moet ons as priesters van die Here, uiters versigtig wees om ook voor God eerlik en opreg te wandel. Hy sal ons miskien nie daar en dan met die dood tref, soos vir Nadab en Abihu, nie maar die gevolge van ons sonde, sal net so seker wees.
Die uitdruklike opdrag van God oor hoe Aaron moes funksioneer in die Heilige van Heiliges en die dood van sy twee seuns het die boodskap wat God wou tuisbring, baie duidelik uitgespel: Sy opperste heiligheid en die mens se volslae sondigheid. Wat sal dit neem dat ons ook die boodskap ten volle begryp? Ek hoor steeds dat mense na "die grootman in die lug" of "die ou daarbo" verwys. Word God se heiligheid deur sulke praatjies verklaar? Ek sidder altyd wanneer ek hoor hoedat mense na God verwys. Ek vrees om te naby hulle te wees, vir ingeval hulle deur weerlig getref en dit ook na my toe opslaan. God verdra dit nie en sal nie ons onheilige woorde of dade teenoor Hom verduur nie.
Spreuke / Mishlei {16:25} "Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood."
Baie mense beweer dat alle godsdienste goed is en daar vele maniere is om by God uit te kom, maar ek sê, sonder die geringste twyfel in my gemoed, dat dit 'n leuen uit die hel is. Daar is slegs één weg na God, en dit is Sy weg. Alle ander weë lei na die verderf. Iemand wat tot God bid, maar nie volgens Sy weg - dit is Jesus - tot hom kom nie, nader God op 'n vreemde wyse, wat nie vir Hom aanvaarbaar is nie. Juis dit was die sonde van Nadab en Abihu. Hulle het hulle aan God opgedring, oftewel Hom op hul wyse genader, en tragies genoeg, is dit die sonde wat tans in sinagoges regoor die wêreld gepleeg word. Hulle probeer om God te nader deur weldade , uitgerekte liturgiese gebede en liefdadigheid. In werklikheid offer hulle vreemde vuur aan God. Hy het ons nie geleer dat daar slegs één weg tot Hom en dit is deur bloed:
Hebreërs / Ivrim {9:22} "En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie."
God het dit baie duidelik aan Aaron gestel: Wees versigtig dat jy nie op jou manier tot My nader nie anders sal jy sterf. Bid asseblief vir die verlore skape van die huis van Israel!
Levitikus / Vayikra {10:1} "En die seuns van Aäron, Nadab en Abíhu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie."
Let op wat God hier gesê het "...wat Hy hulle nie beveel het nie". Dit was nie enige gewone ongehoorsaamheid nie. God het hulle duidelik beveel wat hulle nie moes doen nie. Gevolglik was dit eiesinnige en opsetlike ongehoorsaamheid. Wie van ons wat dit vandag lees, ken die gebooie van God, weet wat Hy van ons verlang maar gee nie gehoor daaraan nie? Indien dit jy is, weet dan dat dit eiesinnigheid en opsetlike ongehoorsaamheid van jou kant is. Diegene van ons vir wie dit geld, moet ernstig op ons lewens let. Waar is ek nou? Wat gebeur in my huis of gesin? Maak 'n eerlike opname en onthou dan dat God 'n verterende vuur is en wat Hy verteer, is die ongehoorsames, selfsugtiges en onvergewensgesindes; Hy verteer haat, onversetlikheid, luiheid asook owerspelers, ontugtiges en leuenaars, om 'n paar sondes te noem.
Hebreërs / Ivrim {12:25} "Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ‘n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek."
Dit is een van die grootste sondes van ons tyd: Mense gee nie gehoor aan wat God spreek nie. Die hedendaagse mense wil dinge op hul eie manier doen, maar wat hulle in werklikheid doen is om God in hul eie afbeelding te skep. Die media sê: "Doen jou eie ding". Die wêreld verkondig aan ons: "As dit goed voel, doen dit" Die sportindustrie moedig ons aan: "Doen dit net" God sê egter: "Vreemde Vuur! Vreemde Vuur!" Wie gaan jy glo?
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2009-04-18
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking