✦

Die Tora en die invloed daarvan op die lewe van ‘n gelowige

Shoftim 
(Rigters) 


Deuteronomium / Devarim  {18:18} “‘n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel. {18:19} En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis.”

Hierdie is ‘n besondere belangrike Skrifgedeelte. God het alreeds daardie Profeet (Navi) wat soos Moses is, verwek. Moses het die kinders van Israel gelei uit slawerny na vryheid, uit gebondenheid na vrylating. Wat Moses fisies gedoen het, het die Profeet – net soos Moses – geestelik gedoen. Soos Moses, het Hy verlos en verlos Hy nog steeds almal wat Hom volg uit die slawerny van sonde en gebondenheid deur die satan. Daardie Profeet is Jesus die Messias. Dit is egter nie die punt wat ek wil maak ten opsigte van hierdie Skrifgedeelte uit vandeesweek se parasha nie. Wat ek graag uit hierde gedeelte wil bespreek, is:

Deuteronomium / Devarim {18:18}  “… en ek sal My woorde in sy mond lê, en Ek sal vir hulle alles sê wat Ek hom beveel. {18:19} En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis.”

Ek vind dit betreurenswaardig en steurend dat daar soveel “Christene” is wat glo dat Jesus die Messias iets nuuts onder die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) gedoen het en “Christene” gevolglik nie onder die Tora is nie. Dit is hoegenaamd nie wat ek aflei uit die bovermelde Skrifaanhaling nie. Uit wat ek lees, word aan my vertel dat Jesus slegs gespreek het wat die Vader aan Hom gegee het om te spreek. Is dit trouens nie wat Jesus aan ons bevestig het nie?

Johannes / Yochanan {8:28} “En Jesus sê vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek.”

Dink daaroor! Sou die Vader aan Sy Seun gesê het om te weerspreek wat Hy in Sy Woord sê? Hoegenaamd nie! Ons God is dieselfde gister, vandag en tot in alle ewigheid. Ek besef dat ek vantevore al hierdie onderwerp behandel het, maar ek kan dit nie genoeg benadruk nie en sal nie ophou om dit te sê totdat die Kerk dit regstel nie: “Daar is niks nuuts in die Hernieude Verbond nie en Jesus het nie die Tora weerspreek nie”.

Matthéüs / Mattityahu {5:17} “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.”

Jesus het gekom ter vervulling van wat die Tora en profete aangaande Hom voorspel het. Hy het nie gekom om ‘n einde aan die Tora te maak en ‘n nuwe godsdiens in te stel nie. Boonop verseker Hy ons hier dat die Tora geldig sal bly “totdat alles vervul is.”. Dit beteken: totdat die nuwe hemel en die nuwe aarde aanbreek, wat nie sal plaasvind tot ná die Duisendjarige Ryk nie.

Ek beweer nie dat die Mesiaanse Judaïsme al die antwoorde kan verstrek óf indien jy nie ‘n Messiaanse Joodse gelowige is nie, jy nie gered is nie. Wat ek wel sê, is indien jy glo dat jy nie langer onder die Tora is nie, is jy mislei en onbeteulde misleiding kan begryplikerwyse tot verlies van jou redding lei. Die Torah is vandag nog net so geldig soos wat dit met die skepping van die aarde was.

Konteks is alles. Hier by Kehila Melech Yisrael, vier ons die kerngebruike van Joodse lewe, met inbegrip van die Sabbat, Kosher en Feesdae (Moedim), ons nadruk is op die Tora, wat die gebooie van God bevat. Vanselfsprekend eerbiedig ons slegs daardie gebooie, wat vandag nog toepaslik is, aangesien die tempel nie langer bestaan nie. Ons volg die Tora, soos van toepassing op ‘n wêreld sonder ‘n fisiese tempel. Die Tora en die invloed wat dit op die lewe van ‘n Messiaanse Joodse gelowige het, is juis dit wat ons onderskei en van die wêreld afsonder.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2007-09-03

Geloof en Oorlog

Shoftim 
(Rigters) 


Deuteronomium / Devarim {20:1} “As jy na die oorlog uittrek teen jou vyand en perde en strydwaens sien, ‘n volk meer in getal as jy, dan moet jy vir hulle nie vrees nie; want die HERE jou God wat jou uit Egipteland laat optrek het, is met jou. {20:2}  En as julle na die geveg kom, moet die priester nader kom en die volk toespreek; {20:3}  en hy moet aan hulle sê: Hoor, Israel, julle trek vandag nader om te veg teen julle vyande; laat julle hart nie week word nie, wees nie bevrees en beangs en word nie verskrik vir hulle nie; {20:4}  want dit is die HERE julle God wat saam met julle trek om vir julle te stry teen julle vyande, om aan julle die oorwinning te gee. {20:5}  Dan moet die opsigters die volk toespreek en sê: Wie is die man wat ‘n nuwe huis gebou en dit nie ingewy het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit inwy nie. {20:6}  En wie is die man wat ‘n wingerd geplant en dit nie in gebruik geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit in gebruik neem nie. {20:7}  En wie is die man wat hom met ‘n vrou verloof en haar nie geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders haar neem nie. {20:8}  Dan moet die opsigters verder die volk toespreek en sê: Wie is die man wat bevrees en week van hart is? Hy kan teruggaan huis toe, dat die hart van sy broers nie smelt soos sy hart nie. {20:9}  En as die opsigters die volk klaar toegespreek het, moet leërowerstes aan die hoof van die volk aangestel word.”

Ek het iets baie interessant gemerk toe ek die voorafgaande verse van hierdie week se parasha gelees het, naamlik dat God se leërmag ‘n vrywillige leër was! In die boek Numeri (BaMidbar) vind ons dat Moses die manskappe van twintig jaar en ouer, wat geskik was om oorlog te voer, laat tel het. Dit het natuurlik die indruk geskep dat Israel se leër tot krygsdiens verplig was. Hier lees ons egter dat God verskeie redes verstrek het vir iemand wat verkies het om nie te gaan oorlog voer nie – die eenvoudigste rede was vrees! Hieruit blyk dit dat al wat so ‘n persoon moes aanvoer om vir militêre diens vrygestel te word, was dat hy bevrees was. ‘n Mens kan aanvaar dat daar met enigeen wat dit gedoen het, moontlik die spot gedryf is, maar vir sommige het dit desnieteenstaande ‘n beter opsie geblyk as om te sneuwel.

As ‘n mens nou kyk wat met verpligte krygsdiens vir Wêreldoorloë I en II gebeur het, sien ons dat al die volkere wat in hierdie oorloë betrokke was, hul burgers tot krygsdiens verplig het. Enige van dié nasies, het dus geen ander keuse gehad om van betrokkenheid in militêre diens vrygestel te word nie. Ek onthou dat gedurende die Viëtnamese oorlog, die opsies vir Amerikaanse burgers was om te gaan veg óf tronkstraf opgelê te word of om na Kanada uit te wyk. Ek is nie ten gunste daarvan om konskripsie te ontduik nie en glo vas dat indien jou land jou nodig het, jy bereid behoort te wees om dit te verdedig. Destyds met die Viëtnamese oorlog, het die Verenigde State van Amerika nie in gevaar verkeer nie en die oorlog was basies om die verspreiding van kommunisme teen te staan. Soos ons egter bewus is, het die VSA die oorlog verloor, maar toevallig is die Viëtnamese vandag veel beter daaraan toe as wat hulle ooit sou gewees het.

Waarom was God dan so toegeeflik en genadig om toe te laat dat diegene wat vreesagtig was, nie verplig was om te gaan veg nie nie? Die vernaamse rede was dat die veilgheid en moreel van die troepe, wat oorlog sou voer, van die uiterste belang in die leer is. Soldate maak op mekaar staat en as een van hulle vreesbevange is, kan daar nie op so ’n manskap staatgemaak word nie. Erger nog, is dat één soldaat wat vreesagtig is, sy vrees moontlik onwetend onder die ander manskappe kan laat versprei, wat vanselfsprekend chaos kan veroorsaak, net soos wat die tien verspieders onder die kinders van Israel veroorsaak het toe hulle die beloofde land moes binnegaan. Gevolglik sal so ’n vreesagtige mens meer van ‘n struikelblok as hulp wees.

Daar is egter ‘n veel belangriker rede as dit:

Deuteronomium / Devarim {20:4} “want dit is die HERE julle God wat saam met julle trek om vir julle te stry teen julle vyande, om aan julle die oorwinning te gee.”

God is die Een wat vir Israel veg. Waarom sou God dan nie hulle wat bevrees is, deel van Sy leer wil hê nie? Dit is omdat hulle wat vreesagtig is, nie ‘n vrees-probleem het nie – inteendeel hulle ervaar ‘n geloofsprobleem! Die Skrif sê vir ons:

Hebreërs / Ivrim {11:6} “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”

Indien ons die Bybel glo en ook alles wat dit ons van God meedeel, dan móét ons oor die geloof beskik dat Hy in beheer is van alles in ons lewens. Ons lewens is in God se hande.
Ten slotte wil ek graag die volgende Skrifgedeelte in julle midde laat:

1 Johannes / Yochanan Aleph {4:18} “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2007-09-03

Rykdomme

Shoftim
(Rigters)



Deuteronomium / Devarim {17:15} ”dan moet jy sekerlik ‘n koning oor jou aanstel wat die HERE jou God sal verkies; uit die midde van jou broers moet jy ‘n koning oor jou aanstel; jy mag geen uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie. {17:16}  Hy mag net nie vir hom baie perde aanskaf nie, en hy mag die volk nie na Egipte teruglei om baie perde aan te skaf nie, aangesien die HERE vir julle gesê het: Julle mag nooit meer teruggaan op hierdie pad nie. {17:17}  Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie; hy mag ook vir hom nie uitermate baie silwer en goud aanskaf nie.”

Ek het onwillekeurig aan koning  Salomo (Shlomo) gedink toe ek hierdie gedeelte gelees het. Indien dít die maatstaf moes gewees het waarvolgens ‘n koning in Israel veronderstel was om te leef, het Salomo inderdaad in alle opsigte gefaal! Koning  Salomo het nie net baie perde uit Egipte aangeskaf nie, maar ook baie vroue gehad en groot hoeveelhede  goud en silwer vergaar.

1 Konings / Malachin Aleph {10:21} ”En die hele drinkservies van koning Salomo was van goud, en al die voorwerpe van die huis van die Líbanon-bos van fyn goud; silwer was daar nie by nie: dit is in die dae van Salomo as niks gereken nie. {10:27} Verder het die koning die silwer in Jerusalem gemaak soos klippe en die seders gemaak soos wildevyebome wat in die Laeveld is, in menigte.”

Dit is duidelik dat koning Salomo grootliks fouteer het. Die vreemdste is egter dat God aan hom groot rykdom belowe het. Die vraag ontstaan dus enersyds, dat indien die koning nie veronderstel was om groot rykdom te vergaar nie, maar andersyds, dat God wel aan hom groot rykdom belowe het, wat ons dan hieruit moet aflei?

2 Kronieke / Divre Hayamim Bet {1:11} ”Toe sê God aan Salomo: Omdat dít in jou hart gewees het, en jy nie rykdom, skatte en eer en die lewe van jou haters of selfs ‘n lang lewe begeer het nie, maar wysheid en kennis vir jou begeer het om my volk waaroor Ek jou koning gemaak het, te kan regeer— {1:12}  daarom word dié wysheid en dié kennis aan jou gegee. Ek sal jou ook rykdom en skatte en eer gee soos die konings wat voor jou gewees het, nie gehad het nie, en soos ná jou nie sal wees nie.”

Soos ons weet, was Salomo se rykdom juis een van die dinge wat uiteindelik tot sy ondergang gelei het. Sy rykdom en buitensporige lewenswyse het ongetwyfeld bygedra tot sy versameling van perde uit Egipte en die aanskaf van honderde vreemde vroue, wat hom uiteindelik tot afgodsdiens verlei het. Was God dan verantwoordelik vir Salomo se afvalligheid van genade? Het God vir hom daardie strik gestel?

Spreuke / Mishlei {26:1} ”Soos sneeu in die somer en soos reën in die oestyd, so pas eer nie by ‘n dwaas nie.”

Koning Salomo was beslis nie ‘n dwaas nie. Volgens die Psalmis, is ‘n dwaas iemand wat ontken dat daar ‘n God is (Psalm / Tehillim 14:1). Salomo het egter die bestaan van God erken, maar teen die einde van sy lewe het hy soos ‘n dwaas opgetree deur saam met sy vroue valse gode te dien. Ofskoon God wel aan Salomo rykdom belowe het, het Hy egter nooit aan hom toestemming verleen om daardie rykdom buitensporig aan te wend deur die vermenigvuldiging van perde en vroue nie; dit was sy eie doen en late. Die aanspreeklikheid vir Salomo se ondergang berus dus geheel-en-al by homself en kan ons geensins beweer dat God vir hom die strik gestel of selfs beproef het nie.

Jakobus / Ya’acov {1:13} ”Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. {1:14}  Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. {1:15}  Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”

God het nie Salomo se afvalligheid van Sy genade beskik nie – dit was ook deur sy eie toedoen. Toe Salomo om wysheid en kennis in plaas van rykdom gevra het, het God aan Hom sowel rykdom as eer geskenk. Rykdom en eer vir iemand wat reeds oor wysheid en kennis beskik, behoort totaal beheerbaar te wees, maar vir Salomo wat wys en kundig was, het die rykdom en eer tog die oorhand oor hom gekry.

Ek dink dit is ‘n goeie les vir ons almal om te leer omdat baie van ons meen dat indien ons baie geld gehad het, ons soveel wat goed is, daarmee sou kon doen. Ons moet egter ons les leer by Salomo, wat die slimste man was wat ooit geleef het. Hierdie les is dat mag, rykdom en eer – selfs by mense wat oor oortreffende wysheid en kennis beskik – ‘n mens se ondergang kan bewerkstellig! Laat ons dus eerder by ‘n ander Koning – Jesus – leer, wat gesê het:

Matthéüs / Mattityahu {8:20} “En Jesus sê vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy Sy hoof kan neerlê nie. {11:29} Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele;”


Kom gou Jesus!



Voorheen uitgegee: 2008-08-14

Die Toralose een!

D’Var Torah
Regters / Shoftim


Deuteronomium / Devarim {16:18} “Regters en opsigters moet jy vir jou aanstel in al jou poorte wat die HERE jou God jou sal gee volgens jou stamme; en hulle moet die volk oordeel volgens ‘n regverdige regspraak. {16:19}  Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het. ”.

Geregtigheid is gewigtige en belangrike komponent in enige samelewing. Sonder geregtigheid en beamptes om dit toe te pas, sou daar totale anargie wees. Die wette van die Tora is die gebooie (mitzvoth) van God, die Wet van God, wat aan die kinders van Israel deur Moses voorgehou is. Die Tora wat Moses aan die kinders van Israel deur Moses gehou is. Die Tora wat Moses aan die kinders van Israel deur Moses oorgedra het, behels die gebooie van God. Waarom is God so gesteld op geregtigheid? Dit is omdat die satan so op ongeregtigheid gesteld is!

In Christelike kringe word die Tora aan die reg gelykgestel, soos wat dit meer dikwels in ons moderne Engelse vertalings van die Bybel, na verwys word en die teenoorgestelde van die reg is wetteloosheid. Die satan staan bekend as die wettelose een. Dit beteken dat wetteloos gelykstaande is aan Toraloos. Derhalwe is dit maklik om tot die gevolgtrekking te kom waarom die satan as die wettelose een bekendstaan: omdat hy sonder die tora (anti-Torah, anti-wet) is.

2 Thessalonisense / Tesolonikum Bet {2:8} “n dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, {2:9}  hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen”.

Indien die satan, synde sonder die Tora, wetteloos genoem word, waar laat dit vandag die kerk, wat leer dat ons nie langer onder die Tora (Wet) is nie?

Matthéüs / Mattityahu {5:17} “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. {5:18}  Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. {5:19}  Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. ”.

Dit is ‘n ontnugterende gedeelte, veral wanneer ‘n mens in aanmerking neem wat vandag in meeste kerke geleer word. Is dit dan enige wonder dat hulle soveel wanvertolking van hierdie gedeelte aanmoedig om sodoende hulle gebrekkige teologie te regverdig?

Wanneer ons aan ongeregtigheid dink, dink ons onwillekeurig aan ons sekulêre hofstelsel; ‘n stelsel wat in meeste opsigte reg en geregtigheid verwring.

Reg en geregtigheid word egter vandag ook in ons kerke verdraai. Pastore en predikers huiwer vandag geensins om hulle gemeentelede te leer dat hulle nie langer onder die Torah is nie en sodoende verdraai hulle die reg en geregtigheid. Hulle haal gedeeltes uit die boeke van Galasiërs en Efesiërs aan, wat hulle verdraai om hulle teologie te regverdig; maar die feit van die saak is dat God hulle Toraloos noem. Wat gebeur egter wanneer hierdie “Wet” tot hulle voordeel geskryf is?

Deuteronomium / Devarim {18:3} “En dit moet die reg van die priesters wees van die kant van die volk, van die wat ‘n slagoffer bring, of dit ‘n bees of ‘n stuk kleinvee is: hulle moet aan die priester die blad en die twee kakebene en die maag gee. {18:4}  Die eerstelinge van jou koring, jou mos en jou olie en die eerstelinge van die skeersel van jou kleinvee moet jy aan hom gee. {18:5}  Want die HERE jou God het hom uit al jou stamme uitverkies, dat hy altyd kan staan om te dien in die Naam van die HERE, hy en sy seuns.”.

Hier is nou iets wat my waarlik verbaas. Pastore en predikers wat hulle gemeentes leer dat hulle nie langer onder die Tora is nie, gebruik hierdie gedeelte as ‘n Skrifverwysing om van hulle gemeentelede te verwag om vir hulle die eerste vrug van hulle arbeid te bring. Wat ek eintlik bedoel is dat daar gemeenteleiers is wat aan hulle gemeentelede vertel dat indien hulle ‘n nuwe betrekking aanvaar, daar van hulle verwag word om aan die pastoor hulle eerste salaristjek te oorhandig as die eerste vrug – offerande. Hierdie pastore en predikers gebruik God se Tora – ‘n Tora wat hulle beweer nie langer geld nie, tot hulle eie voordeel. Klink dit nie belaglik nie? Eintlik is dit meer as belaglik – dit is skynheilig.

Die gee van tiendes (tien persent van ‘n mens se totale inkomste) is ook ‘n Tora-beginsel, een wat elke kerk aanmoedig.

Vertel gerus vir julle pastoor dat hulle jul tiendes gaan weerhou omdat hy julle geleer het dat julle nie langer onder die Tora is nie en kyk wat hy aan julle kwytraak.

Die Bybelse Wet, Tora, is die fondasie en grondslag van ‘n gemeente van gelowiges. Dit is die grondslag van reg en geregtigheid. God het dit in sy Woord aan ons meegedeel en geleer. Enigiets of enigeen wat dit weerspreek of selfs die Tora marginaliseer, verdraai die reg en is dus wetteloos!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou