✦

Heiligheid

Chukat
(Statute)

My kommentaar op Parasha Chukat is gebaseer op die volgende gedeeltes van die Skrif:

Numeri {19:1} "VERDER het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: {19:2} Dit is die wetsinsetting wat die HERE beveel het deur te sê: Spreek met die kinders van Israel dat hulle vir jou ’n rooi koei sonder gebrek bring waar geen liggaamsgebrek aan is, waarop geen juk gekom het nie. {19:3} En julle moet haar aan die priester Eleásar gee, en hulle moet haar buitekant die laer uitbring en voor hom slag. {19:4} En die priester Eleásar moet van haar bloed met sy vinger neem en van haar bloed sewe maal in die rigting van die voorkant van die tent van samekoms sprinkel. {19:5} Daarna moet hulle die koei voor sy oë verbrand; haar vel en haar vleis en haar bloed, saam met haar mis, moet hulle verbrand. {19:6} En die priester moet sederhout en hisop en skarlakendraad neem en dit binne-in die brand van die koei gooi. {19:7} Dan moet die priester sy klere was en sy liggaam in die water bad, en daarna mag hy in die laer kom; en die priester sal tot die aand toe onrein wees. {19:8} Ook die een wat haar verbrand het, moet sy klere in die water was en sy liggaam in die water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees. {19:9} En ’n rein man moet die as van die koei bymekaarmaak en buitekant die laer op ’n rein plek neersit, en dit moet vir die vergadering van die kinders van Israel bewaar word vir die reinigingswater: dit is ’n sondoffer. {19:10} En die een wat die as van die koei bymekaargemaak het, moet sy klere was en sal tot die aand toe onrein wees. En dit moet vir die kinders van Israel en vir die vreemdeling wat onder hulle vertoef, ’n ewige insetting wees. {19:11} Die een wat aan ’n dooie, enige lyk van ’n mens, raak, hy sal sewe dae lank onrein wees. {19:12} Op die derde dag en op die sewende dag moet hy hom daarmee ontsondig — dan sal hy rein wees; maar as hy hom op die derde dag en op die sewende dag nie ontsondig nie, sal hy nie rein wees nie. {19:13} Elkeen wat aan ’n dooie raak, aan die lyk van ’n mens wat gesterf het, en hom nie ontsondig nie, verontreinig die tabernakel van die HERE, en dié siel moet uit Israel uitgeroei word. Omdat geen reinigingswater op hom uitgegooi is nie, sal hy onrein wees; sy onreinheid is nog aan hom." 

Hierdie Skrifgedeeltes het betrekking op verontreiniging. Die besprinkeling van die mengsel, wat voorberei is uit die  rooi vers en die ritueel van die was van iemand se liggaam en klere, het alles betrekking gehad op spirituele verontreiniging. Soos ons gelees het, kon geeneen wat verontreinig is, - waardeur ‘n mens ookal ontreinig is - die kamp van die kinders van Israel binnegaan of voor die Here in die tabernakel (Mishkan) of die tempel (Bet Ha Mikdash) verskyn nie. ‘n Onrein persoon moes gereinig word alvorens hy, dit selfs kon binnegaan en deel van die gemeente word. Ons as gelowiges in Jesus die Messias kan selfs vandag nog verontreinig word. Spirituele verontreiniging het nie geëindig met die koms van Jesus die Messias in die wêreld nie; dit het ook nie geëindig nadat Hy versoening (kappora) vir ons sondes gedoen het nie en ook nie na Sy hemelvaart om Sy plek aan die regterkant van die troon van die Vader in te neem nie. Ons kan steeds spiritueel verontreinig raak. Miskien is die toepassing of gevolge van ons verontreiniging nie meer dieselfde as wat dit destyds was nie (omdat daar nie langer ‘n tabernakel of tempel is nie), maar die gevolge verskil. Spirituele verontreiniging skei ons van God. Hierdie feit blyk duidelik wanneer ons die ritueel (soos in die Skrif beskrywe) met die  rooi vers verstaan, dat dit as’t ware ‘n voorstelling of simbool van die versoenende bloed van Jesus die Messias is, wat figuurlik besprinkel is oor almal wat in Hom glo en Hom as Here en Redder aanneem. Met die lees van die hele gedeelte van Parasha Chukat oor hierdie onderwerp, behoort ons die ooreenkoms tussen die besprinkeling van die bloed van die rooi vers oor ‘n onrein persoon en die besprinkeling van die bloed van Jesus die Messias oor ons as gelowiges te verstaan. Let byvoorbeeld daarop, dat die bloed wat deur die priester (cohen) besprinkel is, die persoon oor wie dit besprinkel is, ritueel rein (tahor) gemaak het, terwyl die rein persoon, naamlik die priester, deur wie die besprinkeling gedoen is, ritueel onrein geword het. Dit is asof dié een wat die besprinkeling gedoen het, die onreinheid van die een wat besprinkel is, op homself geneem het. Dit is ‘n volmaakte Tora - voorbeeld van wat Jesus die Messias - ons “Cohen” - vir ons gedoen het.

Jesaja {53:6} "Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom."

Hoe het iemand in die Bybelse tye onrein geword? Die antwoord, uit ons Skrifgedeelte, is naamlik deur in aanraking te kom met enigiets wat ‘n persoon van God geskei het. Spesifieke vermelding in hierdie Parasha is om in aanraking te kom met ‘n dooie liggaam of ‘n huis binne te gaan waarin iemand gesterf het. Daar was egter, volgens die Skrif, baie wyses om onrein te raak en ‘n persoon spiritueel te verontreinig. God is lewe en enigiets wat op die dood betrekking gehad het, asook sonde, kon nie in Sy teenwoordigheid, (Sy fisiese teenwoordigheid) destyds, Sy Shekinah (Gees) kom nie. Vanaf die bestaan van die tabernakel, tot en met die tyd van die tempel, was die Here fisies teenwoordig tussen die gerubs in die vorm van ’n wolk wat verskyn het bo-oor die Kapparet (genadetroon) in die Heilige van Heiligstes. Om hierdie rede kon geeneen wat verontreinig was deur enigiets wat God as onrein geag het, die kamp van die kinders van Israel en vanselfsprekend ook die die tabernakel of tempel binnegaan nie.

Deuternomium {23:14} "Want die HERE jou God wandel midde-in jou laer om jou te red en jou vyande aan jou oor te gee; daarom moet jou laer heilig wees, sodat Hy niks skandeliks by jou mag sien en Hom van jou afwend nie."

Ofskoon ons spirituele onreinheid ons nie verhinder om ons Messiaanse sinagoge binne te gaan of in ons samelewings van vandag te woon nie, ons eie onreinheid - indien dit nie aangespreek en deur die bloed van Jesus die Messias besprinkel word nie, skei dit ons van God. Skeiding van God beteken dat Sy beskerming oor ons asook Sy seëninge van ons weggeneem word. Dit stel ons bloot aan misleiding en al die werke van die Satan. Wat is dus die “mengsel” wat vandag ons onreinheid kan wegneem? Dit is die bloed van Jesus die Messias wat vir ons gestort is en oor ons lewens moet wees. Hierdie bloed moet egter keer op keer afgebid word omdat ons op sovele wyses weer en weer verontreinig raak. Dit is verkeerd vir ons om te dink dat slegs omdat ons gered is deur die gestorte bloed van Jesus, ons nie langer Sy bloed oor ons lewens moet pleit nie. Inteendeel, dit moet op ‘n daaglikse basis by herhaling geskied. Nie om Jesus opnuut te offer nie, soos wat sommige denominasies deur die Eucharistie (nagmaal) doen en die proses transubstansiasie noem nie, maar deur die belydenis, berou en om die bloed van Jesus die Messias te pleit oor ons lewens. Dit moet minuut na minuut en indien nodig , selfs sekonde na sekonde besprinkel word, sodat ons voortdurend in ‘n toestand kan verkeer wat God se beskerming oor ons lewens verseker. Jesus die Messias is die Eén wat versinnebeeld word deur deur die rooi vers, deur Sy bloed oor onsself te pleit en deur belydenis en berou, word ons rein en bly ons spiritueel skoon.  

Kom gou Jesus!

PDF weergawe


Die Rooi Koei en Jesus die Messias

Chukat
(Statute)


Númeri / Bamidbar {19:1} “Verder het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: {19:2}  Dit is die wetsinsetting wat die HERE beveel het deur te sê: Spreek met die kinders van Israel dat hulle vir jou ‘n rooi koei sonder gebrek bring waar geen liggaamsgebrek aan is, waarop geen juk gekom het nie. {19:3}  En julle moet haar aan die priester Eleásar gee, en hulle moet haar buitekant die laer uitbring en voor hom slag. {19:4}  En die priester Eleásar moet van haar bloed met sy vinger neem en van haar bloed sewe maal in die rigting van die voorkant van die tent van samekoms sprinkel. {19:5}  Daarna moet hulle die koei voor sy oë verbrand; haar vel en haar vleis en haar bloed, saam met haar mis, moet hulle verbrand. {19:6}  En die priester moet sederhout en hisop en skarlakendraad neem en dit binne-in die brand van die koei gooi. {19:7}  Dan moet die priester sy klere was en sy liggaam in die water bad, en daarna mag hy in die laer kom; en die priester sal tot die aand toe onrein wees.”

Hierdie voorskrif met betrekking tot die rooi koei is aan die kinders van Israel gegee terwyl hulle in die wildernis rondgetrek het. Die tabernakel (Mishkan) was nog nie gebou nie en derhalwe was daar vir die kinders van Israel geen amptelike plek om heen te gaan vir geestelike reiniging van sonde nie. Onthou egter dat God in hulle midde was in die laer en daarom móés hulle geestelik rein wees om saam met God in die laer te woon.

Terwyl hulle in die wildernis rondgeswerwe het, sou daar oorlog plaasvind en sowel dood as sonde wees – alles wat geestelike reiniging sou verg. Om hierdie rede het God die voorskrif (mitzvah) aangaande die rooi koei gegee. Die mengsel van die rooi koei se as, sederhout, hissop en water was bedoel om die kinders van Israel te reinig van sonde en onreinheid, terwyl hulle deur die wildernis getrek het. Wanneer die laer nie vir lank oorgestaan het nie, moes daar noodwendig ‘n wyse wees om met sonde te handel. Die as van die rooi koei is vir hierdie doel aangewend.

Ek wil graag wys op die ooreenkomste tussen die rooi koei en Jesus die Messias. Eersgenoemde móés sonder letsel of liggaamsgebrek wees.

1 Petrus / Kefa Aleph {1:19} “maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,”

Die rooi koei moes buite die laer geslag word.

Hebreërs / Ivrim {13:12} “Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely.”

Die bloed van die rooi koei moes in die rigting van die voorkant van die tent van samekoms (Ohel Moed) gesprinkel word.

Hebreërs / Ivrim {9:13} “Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, {9:14}  hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.”

Die persoon op wie die mengsel van die as van die rooi koei gesprinkel was, is rein geag maar die priester wat die persoon besprinkel het, het deur hierdie handeling self onrein geword.

1 Petrus / Kefa Aleph {2:24} “wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.”

Toe Jesus vir ons sonde gesterf het, het Hy eenkeer vir al ons sonde (verlede, nou en toekomstig) gesterf. Ons sondig egter steeds selfs ná ons redding. Hierdie sonde móét gereinig word. Jesus die Messias het na die hemel opgevaar maar funksioneer steeds soos wat die as van die rooi koei; Sy bloed, wat duisende jare gelede vir ons gestort is, reinig ons van al ons sonde.

Die apostel Johannes het geskrywe:

1 Johannes / Yochanan Aleph {1:9} “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. {1:10}  As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-06-24



Nie Van Ons Afhanklik Nie

Chukat
(Statute)

Númeri / BaMidbar {20:7} “En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {20:8}  Neem die staf en laat die vergadering byeenkom, jy en jou broer Aäron, en spreek julle die rots aan voor hulle oë; dan sal hy sy water gee. So moet jy dan vir hulle water uit die rots laat vloei en die vergadering en hulle vee laat drink. {20:9}  Toe neem Moses die staf voor die aangesig van die HERE weg soos Hy hom beveel het. {20:10}  En Moses en Aäron het die vergadering voor die rots laat byeenkom, en hy het vir hulle gesê: Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei? {20:11}  Daarop tel Moses sy hand op en hy slaan die rots twee maal met sy staf; en daar het baie water uitgekom, sodat die vergadering gedrink het en hulle vee. {20:12}  Toe sê die HERE vir Moses en Aäron: Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie. {20:13}  Dit is die waters van Mériba waar die kinders van Israel met die HERE getwis het en Hy Hom onder hulle as die Heilige laat ken het.”

Dit was nie die eerste waternood wat die kinders van Israel ooit in die woestyn ondervind het nie; trouens, dit was die derde keer. Die eerste geval was by Mara (“bitter”) toe die water bitter en ondrinkbaar was. Dáár het Moses God aangeroep en God het aan hom ‘n staf getoon en bevel om dit in die water te gooi. Toe Moses God se Woord gehoorsaam het, het die bitter water soet geword. Wat hier plaasgevind het was simbolies; God was besig om vir Israel ‘n voorstelling van Jesus se geboorte te toon. Die staf wat Moses in die water gegooi het, was ‘n sort “Boom van Lewe”, ‘n sinnebeeld van Jesus. Tydens ons Tora-diens sing ons “Aitz Chaim” (Boom van Lewe). Hierdie gedeelte van die liturgie, wat verwys na die Tora – die Woord van God – versinnebeeld die Messias Jesus, wat die lewende Woord is. Toe die die “Boom van die Lewe” dus in die dooie water gegooi is, het dit die water lewend gemaak. Eweneens het Jesus, toe Hy in die ‘n “dooie” wêreld gekom het, lewe daarin gebring.

Die tweede geval van waternood was by Rephidim, oftewel “rusplekke”. Moses het weereens die Here aangeroep en God get hom beveel om Hom by die “Rots” te ontmoet. God se heerlikheid sou saam met Hom by die “Rots” verskyn; Moses moes die “Rots” eenmaal slaan waarop God water daaruit sou laat voortkom. Moses het die opdrag uitgevoer en water het uit die “Rots” gevloei. Ook dit was simbolies en ‘n voortsetting van die beeld van die lewe van Jesus. Daar word heeldikwels in die Skrif na Jesus verwys, as die “Rots”. Dit was dáár waar God aan Israel getoon het dat Hy sal toelaat dat die “Rots”, Sy seun Jesus, éénmaal geslaan word om die lewende water van die Ruach Kodesh (Heilige Gees) te laat voortvloei en die dors van hulle hulle wat dors het, te les. Dit was ‘n beeld van Jesus se dood.

Nou is ons weer terug by die waternood. God het weereens die kinders van Israel van water ontneem, nou vir die derde maal. Die kinders van Israel bevind hulself in Kades (letterlik “heilig’) en kyk na Moses vir uitkoms. Laat ons kyk wat hier gebeur het: Errstens het Moses die staf geneem – netsoos God hom voorheen beveel het (goed tot dusver!). Tweedens het hy die volk by die rots laat vergader (alles steeds reg!), maar inplaas daarvan om die rots aan te spreek, ooreenkomstig God se opdrag voorheen, het Moses in woede die volk aangespreek: {20:10} “En Moses en Aäron het die vergadering voor die rots laat byeenkom, en hy het vir hulle gesê: Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei?”. God het Moses nooit beveel om vir die volk te preek nie! Hy het hom beveel om as Sy instrument, water te voorsien sodat Hy verheerlik mag word. In sy woede, het Moses egter gedeeltelik, indien nie geheel-en-al nie, God as’t ware van sy heerlikheid ontneem en dit op Hom laat neerkom. Waar het die “ons” dan vandaan gekom? Moses se groot sonde blyk egter hieruit: {20:11} “Daarop tel Moses sy hand op en hy slaan die rots twee maal met sy staf; en daar het baie water uitgekom, sodat die vergadering gedrink het en hulle vee.”.

Soos ek vroëer daarop gewys het, het God Moses beveel om die rots aan te spreek en nie daaarteen te slaan nie! Deurdat Moses teen die rots geslaan het, het hy die finale beeld wat God van ons Messias, Jesus, wou verduidelik, vernietig! Die Here het by Mara alreeds simbolies aan die kinders van Israel, Jesus se geboorte getoon, Sy dood by Rephidim en nou wou Hy die finale beeld aan hulle toon. Wat is daardie finale deel van die beeld? Teneinde verlossing te ontvang, moet ons almal “Die Rots” (Jesus) vra (aanspreek) en Hy sal Sy lewende water uitstort. Ons ontvang daardie lewende water van Jesus af bloot om daarvoor te vra (bid), maar Moses het Jesus simbolies gekruisig deur Hom ‘n tweede keer (by Kades) te slaan. Wat veronderstel was om ‘n heilige tyd te wees, is letterlik verander in ‘n tyd van “tweedrag” en “stryd”. Besef julle dus wat hier plaasgevind het? Geen wonder dat God vir Moses kwaad was nie! Hy moes die “Rots” aangespreek het en die redding sou hulle s’n gewees het omdat die “Rots” alreeds (by Rephidim) geslaan is.

Moses het in sy woede die volk bestraf, God se heerlikheid “gesteel” en God se verklaring van genade vernietig, maar wat egter verstommend is, is dat God in ieder geval die water geskenk het. Dit is omdat God se voorsienigheid nie afhanklik is van ons dade of geregtigheid nie. Sy voorsienigheid hang hoegenaamd nie af van wat óns gedoen of nagelaat het om te doen nie. God se voorsienigheid word allenlik bevestig deur Sy barmhartigheid en genade. Moses het geen aandeel in die voorsiening van die water gehad nie. Dit was God se volk hierdie. Dit was God se staf. Dit was God se Rots en dit was God se water. Moses was slegs die instrument wat God gekies het om te gebruik. God was geensins van Moses afhanklik om die water te voorsien nie. Netso is Hy ook nie van ons afhanklik nie! Dit is reg: Hy is nie vir enigiets van jou of my afhanklik nie. Hy seën ons deur van ons gebruik te maak; Hy word nie vir één oomblik deur ons beperk nie. Hy is, in en Vanself, waarlik algenoegsaam.

Jakobus / Ya’acov {4:10} “Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” 


Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-07-02

Hulle Het Hul Toets Gedruip

Chukat
(Statute)




Hulle Het Hul Toets Gedruip


Numeri / BaMidbar {20:1} ”En toe die kinders van Israel, die hele vergadering, in die woestyn Sin kom, in die eerste maand, het die volk in Kades gebly. En Mirjam het daar gesterwe en is daar begrawe. {20:2} En daar was geen water vir die vergadering nie. Toe het hulle teen Moses en Aäron saamgekom. {20:3}  En die volk het met Moses getwis, en hulle het gespreek en gesê: Ag, het ons tog maar gesterwe toe ons broers voor die aangesig van die HERE gesterf het! {20:4} En waarom het julle die vergadering van die HERE in hierdie woestyn gebring, dat ons en ons vee daar sou sterwe? {20:5}  En waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om ons in hierdie slegte plek te bring? Dit is geen plek van graan of van vye of van wingerdstokke of van granate nie; ook is daar geen water om te drink nie.”


Kan dit moontlik dieselfde kinders van Israel wees wat, toe Moses hulle aangebied het om die Beloofde Land (‘n land wat vloei van melk en heuning, ‘n land waarvandaan ‘n druiwetros op ‘n paal tussen twee mans gedra moes word) binne te gaan geweier het? Waarom beskuldig hulle Moses en Aäron dan nou dat hulle hul na hierdie plek van verlatenheid gebring het en húlle aanspreeklik hou daarvaar dat hulle in die woestyn verkeer? Hierdie mense het die geleentheid gehad om die goeie en voorspoedige land wat God aan hulle beloof het, binne te gaan maar hulle was opstandig en het geweier om dit te doen. Ja, hulle het die geleentheid verwerp om ‘n oorvloed van vye, druiwe en granate te geniet aangesien ‘n paar negatiewe mense hulle vertel het van die reuse wat die land bewoon het.


As ‘n mens daaroor nadink, het daar in die afgelope vyfduisend jaar nie veel in die Beloofde Land verander nie. Dit is steeds ‘n skrikaanjaende plek want ofskoon Israel die grootste gedeelte daarvan besit, is daar nogtans vyandelike groepe wat nooit verdryf is nie.


Numeri / BaMidbar {33:55} ”Maar as julle die bewoners van die land nie voor julle uit verdrywe nie, sal die wat julle van hulle laat oorbly, soos dorings in julle oë wees en soos angels in julle sye, en hulle sal julle beveg in die land waar julle in woon. {33:56}  En soos Ek gedink het om aan hulle te doen, sal Ek aan julle doen.”

Hierdie Skrifgedeelte is vandag nog netso ‘n realiteit soos op die dag waarop dit geskryf is. Dié inwoners van die land vertoorn Israel; hulle is vandag ‘n doring in hul vlees en prikkels in hul oë. Israel word tans nog netso omring deur vyande soos duisende jare gelede. Die bedreiging is nie slegs van binne nie maar ook van buite. Die enigste werklike oplossing, wat deur God voorgestel is, naamlik om hulle te verdryf, is vandag ondenkbaar. Dit is slegs moontlik indien Israel met die res van die sekulêre wêreld wil tredhou, wat wel die geval is. Maar God se Woord is waar en ons lees en hoor daagliks, oor en oor, in die media die gevolg van Israel se ongehoorsaamheid.


Wat selfs meer onstellend is, is dat meeste Jode wat in die Diaspora woon – wat in werklikheid méér is as diegene wat tans in die land Israel woon – onwillig is om na Israel te immigreer om redes wat maar alte bekend klink: “Dit is te gevaarlik dáár. Ek wil nie hê my kinders moet weermag toe gaan nie. Die land word omring deur vyandige nasies” ensovoorts. Wat is dit nou eintlik wat hulle sê? Dit is presies dieselfde as wat meer a vyfduisend jaar gelede gesê is: “Ons sal nie ingaan nie omdat daar reuse in die land is!”


Daarbenewens is Israel as ‘n volk uiters sekulêr. Hulle het ‘n vorm van Godsdiens, maar verloën die mag daarvan. Godsdiens is vir meeste Israeli’s bloot ‘n tradisie en allermins ‘n verhouding met hul God.


Rigters  / Shoftim {2:21} ”sal Ek ook verder geeneen van die nasies wat Josua by sy dood laat oorbly het, voor hulle uit verdrywe nie— {2:22}  om Israel deur hulle op die proef te stel, of hulle die weg van die HERE sal hou deur daarin te wandel soos hulle vaders dit gehou het, of nie. {2:23}  Daarom het die HERE daardie nasies laat oorbly sonder om hulle dadelik te verdrywe, en hulle nie in die hand van Josua gegee nie.”


Ons sal sekerlik saamstem dat die kinders van Israel tot dusver hul toets jammerlik gedruip het!


Kom gou Jesus!




Voorheen uitgegee: 2010-06-19