Vrydag 03 Julie 2020

Heiligheid

Chukat
(Statute)

My kommentaar op Parasha Chukat is gebaseer op die volgende gedeeltes van die Skrif:

Numeri {19:1} "VERDER het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: {19:2} Dit is die wetsinsetting wat die HERE beveel het deur te sê: Spreek met die kinders van Israel dat hulle vir jou ’n rooi koei sonder gebrek bring waar geen liggaamsgebrek aan is, waarop geen juk gekom het nie. {19:3} En julle moet haar aan die priester Eleásar gee, en hulle moet haar buitekant die laer uitbring en voor hom slag. {19:4} En die priester Eleásar moet van haar bloed met sy vinger neem en van haar bloed sewe maal in die rigting van die voorkant van die tent van samekoms sprinkel. {19:5} Daarna moet hulle die koei voor sy oë verbrand; haar vel en haar vleis en haar bloed, saam met haar mis, moet hulle verbrand. {19:6} En die priester moet sederhout en hisop en skarlakendraad neem en dit binne-in die brand van die koei gooi. {19:7} Dan moet die priester sy klere was en sy liggaam in die water bad, en daarna mag hy in die laer kom; en die priester sal tot die aand toe onrein wees. {19:8} Ook die een wat haar verbrand het, moet sy klere in die water was en sy liggaam in die water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees. {19:9} En ’n rein man moet die as van die koei bymekaarmaak en buitekant die laer op ’n rein plek neersit, en dit moet vir die vergadering van die kinders van Israel bewaar word vir die reinigingswater: dit is ’n sondoffer. {19:10} En die een wat die as van die koei bymekaargemaak het, moet sy klere was en sal tot die aand toe onrein wees. En dit moet vir die kinders van Israel en vir die vreemdeling wat onder hulle vertoef, ’n ewige insetting wees. {19:11} Die een wat aan ’n dooie, enige lyk van ’n mens, raak, hy sal sewe dae lank onrein wees. {19:12} Op die derde dag en op die sewende dag moet hy hom daarmee ontsondig — dan sal hy rein wees; maar as hy hom op die derde dag en op die sewende dag nie ontsondig nie, sal hy nie rein wees nie. {19:13} Elkeen wat aan ’n dooie raak, aan die lyk van ’n mens wat gesterf het, en hom nie ontsondig nie, verontreinig die tabernakel van die HERE, en dié siel moet uit Israel uitgeroei word. Omdat geen reinigingswater op hom uitgegooi is nie, sal hy onrein wees; sy onreinheid is nog aan hom." 

Hierdie Skrifgedeeltes het betrekking op verontreiniging. Die besprinkeling van die mengsel, wat voorberei is uit die  rooi vers en die ritueel van die was van iemand se liggaam en klere, het alles betrekking gehad op spirituele verontreiniging. Soos ons gelees het, kon geeneen wat verontreinig is, - waardeur ‘n mens ookal ontreinig is - die kamp van die kinders van Israel binnegaan of voor die Here in die tabernakel (Mishkan) of die tempel (Bet Ha Mikdash) verskyn nie. ‘n Onrein persoon moes gereinig word alvorens hy, dit selfs kon binnegaan en deel van die gemeente word. Ons as gelowiges in Jesus die Messias kan selfs vandag nog verontreinig word. Spirituele verontreiniging het nie geëindig met die koms van Jesus die Messias in die wêreld nie; dit het ook nie geëindig nadat Hy versoening (kappora) vir ons sondes gedoen het nie en ook nie na Sy hemelvaart om Sy plek aan die regterkant van die troon van die Vader in te neem nie. Ons kan steeds spiritueel verontreinig raak. Miskien is die toepassing of gevolge van ons verontreiniging nie meer dieselfde as wat dit destyds was nie (omdat daar nie langer ‘n tabernakel of tempel is nie), maar die gevolge verskil. Spirituele verontreiniging skei ons van God. Hierdie feit blyk duidelik wanneer ons die ritueel (soos in die Skrif beskrywe) met die  rooi vers verstaan, dat dit as’t ware ‘n voorstelling of simbool van die versoenende bloed van Jesus die Messias is, wat figuurlik besprinkel is oor almal wat in Hom glo en Hom as Here en Redder aanneem. Met die lees van die hele gedeelte van Parasha Chukat oor hierdie onderwerp, behoort ons die ooreenkoms tussen die besprinkeling van die bloed van die rooi vers oor ‘n onrein persoon en die besprinkeling van die bloed van Jesus die Messias oor ons as gelowiges te verstaan. Let byvoorbeeld daarop, dat die bloed wat deur die priester (cohen) besprinkel is, die persoon oor wie dit besprinkel is, ritueel rein (tahor) gemaak het, terwyl die rein persoon, naamlik die priester, deur wie die besprinkeling gedoen is, ritueel onrein geword het. Dit is asof dié een wat die besprinkeling gedoen het, die onreinheid van die een wat besprinkel is, op homself geneem het. Dit is ‘n volmaakte Tora - voorbeeld van wat Jesus die Messias - ons “Cohen” - vir ons gedoen het.

Jesaja {53:6} "Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom."

Hoe het iemand in die Bybelse tye onrein geword? Die antwoord, uit ons Skrifgedeelte, is naamlik deur in aanraking te kom met enigiets wat ‘n persoon van God geskei het. Spesifieke vermelding in hierdie Parasha is om in aanraking te kom met ‘n dooie liggaam of ‘n huis binne te gaan waarin iemand gesterf het. Daar was egter, volgens die Skrif, baie wyses om onrein te raak en ‘n persoon spiritueel te verontreinig. God is lewe en enigiets wat op die dood betrekking gehad het, asook sonde, kon nie in Sy teenwoordigheid, (Sy fisiese teenwoordigheid) destyds, Sy Shekinah (Gees) kom nie. Vanaf die bestaan van die tabernakel, tot en met die tyd van die tempel, was die Here fisies teenwoordig tussen die gerubs in die vorm van ’n wolk wat verskyn het bo-oor die Kapparet (genadetroon) in die Heilige van Heiligstes. Om hierdie rede kon geeneen wat verontreinig was deur enigiets wat God as onrein geag het, die kamp van die kinders van Israel en vanselfsprekend ook die die tabernakel of tempel binnegaan nie.

Deuternomium {23:14} "Want die HERE jou God wandel midde-in jou laer om jou te red en jou vyande aan jou oor te gee; daarom moet jou laer heilig wees, sodat Hy niks skandeliks by jou mag sien en Hom van jou afwend nie."

Ofskoon ons spirituele onreinheid ons nie verhinder om ons Messiaanse sinagoge binne te gaan of in ons samelewings van vandag te woon nie, ons eie onreinheid - indien dit nie aangespreek en deur die bloed van Jesus die Messias besprinkel word nie, skei dit ons van God. Skeiding van God beteken dat Sy beskerming oor ons asook Sy seëninge van ons weggeneem word. Dit stel ons bloot aan misleiding en al die werke van die Satan. Wat is dus die “mengsel” wat vandag ons onreinheid kan wegneem? Dit is die bloed van Jesus die Messias wat vir ons gestort is en oor ons lewens moet wees. Hierdie bloed moet egter keer op keer afgebid word omdat ons op sovele wyses weer en weer verontreinig raak. Dit is verkeerd vir ons om te dink dat slegs omdat ons gered is deur die gestorte bloed van Jesus, ons nie langer Sy bloed oor ons lewens moet pleit nie. Inteendeel, dit moet op ‘n daaglikse basis by herhaling geskied. Nie om Jesus opnuut te offer nie, soos wat sommige denominasies deur die Eucharistie (nagmaal) doen en die proses transubstansiasie noem nie, maar deur die belydenis, berou en om die bloed van Jesus die Messias te pleit oor ons lewens. Dit moet minuut na minuut en indien nodig , selfs sekonde na sekonde besprinkel word, sodat ons voortdurend in ‘n toestand kan verkeer wat God se beskerming oor ons lewens verseker. Jesus die Messias is die Eén wat versinnebeeld word deur deur die rooi vers, deur Sy bloed oor onsself te pleit en deur belydenis en berou, word ons rein en bly ons spiritueel skoon.  

Kom gou Jesus!

PDF weergawe


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking