Statute - Balak / Chukat-Balak | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link
4 Julie 2009 / Tammuz 12th 5769
Númeri / BaMidbar 19:1-25:9
Miga / Mikhah 5:6-6:8
Johannes / Yochanan 3:10-21
1 Korinthiers / Korintim Aleph 1:20-31
Aangesien ek soveel te sê het oor oordenking Chukat, het ek gedink om slegs kommentaar daaroor te lewer, al het ons vandeesweek 'n dubbele oordenking.
Númeri {19:1} “Verder het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: {19:2} Dit is die wetsinsetting wat die HERE beveel het deur te sê: Spreek met die kinders van Israel dat hulle vir jou ‘n rooi koei sonder gebrek bring waar geen liggaamsgebrek aan is, waarop geen juk gekom het nie. {19:3} En julle moet haar aan die priester Eleásar gee, en hulle moet haar buitekant die laer uitbring en voor hom slag. {19:4} En die priester Eleásar moet van haar bloed met sy vinger neem en van haar bloed sewe maal in die rigting van die voorkant van die tent van samekoms sprinkel. {19:5} Daarna moet hulle die koei voor sy oë verbrand; haar vel en haar vleis en haar bloed, saam met haar mis, moet hulle verbrand. {19:6} En die priester moet sederhout en hisop en skarlakendraad neem en dit binne-in die brand van die koei gooi. {19:7} Dan moet die priester sy klere was en sy liggaam in die water bad, en daarna mag hy in die laer kom; en die priester sal tot die aand toe onrein wees. {19:8} Ook die een wat haar verbrand het, moet sy klere in die water was en sy liggaam in die water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees. {19:9} En ‘n rein man moet die as van die koei bymekaarmaak en buitekant die laer op ‘n rein plek neersit, en dit moet vir die vergadering van die kinders van Israel bewaar word vir die reinigingswater: dit is ‘n sondoffer. {19:10} En die een wat die as van die koei bymekaargemaak het, moet sy klere was en sal tot die aand toe onrein wees. En dit moet vir die kinders van Israel en vir die vreemdeling wat onder hulle vertoef, ‘n ewige insetting wees. {19:11} Die een wat aan ‘n dooie, enige lyk van ‘n mens, raak, hy sal sewe dae lank onrein wees.{19:12} Op die derde dag en op die sewende dag moet hy hom daarmee ontsondig—dan sal hy rein wees; maar as hy hom op die derde dag en op die sewende dag nie ontsondig nie, sal hy nie rein wees nie. {19:13} Elkeen wat aan ‘n dooie raak, aan die lyk van ‘n mens wat gesterf het, en hom nie ontsondig nie, verontreinig die tabernakel van die HERE, en dié siel moet uit Israel uitgeroei word. Omdat geen reinigingswater op hom uitgegooi is nie, sal hy onrein wees;sy onreinheid is nog aan hom. {19:14} Dit is die wet: As iemand in ‘n tent sterwe, sal elkeen wat in die tent kom en al wat in die tent is, sewe dae lank onrein wees.”
Hierdie hele Skrifgedeelte, wat ek geredigeer het om dit te verkort, handel oor verontreiniging. Die besprinkeling met die mengsel, wat van die rooi koei berei is en die ritueel van die was van 'n mens se liggaam en klere, het alles betrekking op geestelike verontreiniging. Soos ons gelees het, mag geeneen wat onrein is, die laer van die kinders van Israel binnegegaan of in die teenwoordigheid van die Here in die tabernakel of tempel gekom het nie. 'n Onrein persoon moes eers gereinig word alvorens hy kon binnekom en deel van die gemeenskap word. Vandag kan ons, as gelowiges in Jesus die Messias, nog steeds geestelik onrein word. Geestelike verontreiniging het nie met die koms van Jesus die Messias na die wêreld geëindig nie; dit het nie geëindig nadat Hy versoening vir ons bewerkstellig het nie en ook nie na Sy hemelvaart om Sy plek aan die regterhand van die Vader in te neem nie. Ons kan nog steeds geestelik onrein word. Miskien is die toepassing of gevolge van ons geestelike verontreiniging nie dieselfde nie (daar is nie meer 'n tabernakel of tempel nie), maar die gevolge daarvan is beslis nog daar. Geestelike onreinheid skei ons van God. Daardie feit blyk duidelik wanneer ons verstaan dat die rooi-koei ritueel, soos hierbo in die skrif beskrywe, 'n tipe of simbool van die versoenende bloed van Jesus die Messias is, wat figuurlik besprinkel is oor almal wat in Hom glo.
Wanneer die hele gedeelte gelees word, behoort julle die ooreenkoms te sien tussen die besprinkeling van die bloed van die rooi koei oor 'n onrein persoon en die besprinkeling van die bloed van Jesus die Messias oor ons. Let, byvoorbeeld, daarop dat die bloed wat deur die priester gesprinkel is, dié een op wie dit gesprinkel is, gereinig het, terwyl die rein persoon (te wete die priester) wat in aanraking met die mengsel gekom en die besprinkeling gedoen, onrein geword het. Dit is asof die persoon wat die besprinkeling gedoen het, die onreinheid van dié een wat besprinkel is, op homself geneem het. Dit is 'n volkome Torah-beeld van wat Jesus die Messias vir ons gedoen het
Jesaja / Yeshayahu {53:6} “Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.”
Hoe het iemand in die Bybelse tye onrein geraak? Die antwoord is, natuurlik, deur in aanraking te kom met enigiets wat hulle van God geskei het. Wat in die besonder in hierdie oordenking vermeld word, is wanneer iemand in aanraking kom met 'n dooie liggaam of 'n huis binnegaan waarin iemand gesterf het. Volgens die Skrif, was daar egter baie ander maniere om onrein te raak. Hierdie, tesame met dié wat in vandeesweek se oordenking vermeld word, het 'n persoon geestelik onrein gemaak. God is lewe en enigiets verwant aan die dood, kon nie in Sy teenwoordigheid kom nie, Sy fisiese teenwoordigheid, Sy "Shachinah".
Sedert die tyd van die bestaan van die tabernakel dwarsdeur tot in die tyd van die tempel, het God fisies gewoon tussen die engele in die vorm van 'n wolk wat bokant die Genadesetel (Kapparet) in die Heilige van Heiliges (Kadosh Kedushim) verskyn het. Dit was juis om hierdie rede dat iemand wat verontreinig is deur enigiets wat God onrein geag het, nie die laer van die kinders van Israel mag binnegegaan en beslis ook nie die tabernakel nie.
Deuteronomium / Devarim {23:14} “Want die HERE jou God wandel midde-in jou laer om jou te red en jou vyande aan jou oor te gee; daarom moet jou laer heilig wees, sodat Hy niks skandeliks by jou mag sien en Hom van jou afwend nie.”
Ofskoon ons geestelike onreinheid ons nie verhinder om ons Messiaanse sinagoges binne te gaan of in ons samelweing te woon nie, kan ons onreinheid, indien dit nie deur die bloed van Jesus die Messias besprinkel is nie, ons van God skei; skeiding van God beteken dat Sy beskerming weggeneem word en sodoende sy seëninge. Dit stel ons bloot aan misleiding en die werke van die duiwel.
Wat is die mengsel om vandag ons onreinheid te verwyder? Dit is die bloed van Jesus die Messias oor ons. Hierdie bloed moet egter keer op keer weer gesprinkel word omdat ons weer en weer op soveel wyses verontreinig word. Dit is verkeerd van ons om te dink dat, juis omdat ons gered is, ons nie langer die besprinkeling van die bloed van Jesus die Messias in ons lewens nodig het nie. Inteendeel, dit moet elke keer wat ons hoegenaamd op enige wyse verontreinig word, weer en weer besprinkel word. Nie deur Jesus die Messias opnuut elke keer wat ons ontreinig word, te offer nie, maar deur belydenis, berou en die bloed van Jesus die Messias oor ons lewens te pleit. Dit moet minuut vir minuut en, indien nodig, sekonde vir sekonde 'n besprinkeling wees sodat ons voortdurend in 'n toestand mag bly, wat God se beskerming oor ons lewens verseker.
Jesus die Messias is ons "rooi koei" en belydenis en berou is die wyse waardeur ons met Sy bloed besprinkel word.
Congregation Melech Yisrael All rights Reserved
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking