Saterdag 11 Desember 2010

Vergewe en Word Vergewe

11 Desember 2010 / Tevet 4 5771

En Hy Het Nadergekom / VaYigash

Genesis / Bereshit 44:18 – 47:27

Genesis / Bereshit {44:18}” Toe kom Juda nader na hom en sê: Ag, my heer, mag u dienaar tog ‘n woord spreek voor die ore van my heer, en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie, want u staan gelyk met Farao. {44:19} My heer het sy dienaars gevra en gesê: Het julle ‘n vader of broer? {44:20} En ons het my heer geantwoord: Ons het ‘n ou vader; en daar is ‘n jong seun, ‘n kind van die ouderdom, maar sy broer is dood; en hy het alleen oorgebly van sy moeder, en sy vader het hom lief. {44:21} Toe het u aan u dienaars gesê: Bring hom af na my toe, dat ek my oog op hom kan rig. {44:22} En ons het my heer geantwoord: Die seun kan sy vader nie verlaat nie, want sy vader sal sterwe as hy hom verlaat. {44:23} Daarop het u aan u dienaars gesê: As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle my aangesig nie weer sien nie. {44:24} En toe ons na u dienaar, my vader, opgetrek het en hom die woorde van my heer te kenne gegee het, {44:25} het ons vader gesê: Gaan koop weer vir ons ‘n bietjie voedsel. {44:26} Maar ons het gesê: Ons kan nie aftrek nie. As ons jongste broer by ons is, sal ons aftrek; want ons mag die aangesig van die man nie sien as ons jongste broer nie by ons is nie. {44:27} En u dienaar, my vader, het aan ons gesê: Júlle weet dat my vrou vir my twee gebaar het— {44:28} die een het van my af weggegaan, en ek het gesê: Voorwaar, hy is verskeur, verskeur! En ek het hom tot hiertoe nie gesien nie.

Miskien ervaar ek nie juis ‘n goeie dag nie en voel ek ietwat sinies, omdat ek, met die lees van hierdie Skrifgedeelte, aanhoudednd gedink het: “Watter onsin het Juda nie gepraat nie.”. Hoe kon enigeen sulke leuens kwytraak? Sy broer Josef was dood! Sy vader was onder die indruk dat hy deur ‘n wilde dier verskeur is! Juda was egter terdeë bewus van wat met sy broer gebeur het – hy het hom as ‘n slaaf verkoop! Ja, dieselfde een wat voorgestel het om ‘n wins uit hul stiefbroer te maak, het nou in ‘n powere poging om hul oorblywende stiefbroer te red, blatant gelieg. Dit is egter ironies omdat ons almal weet aan wie hy hierdie leuens vertel het.

Kom ons plaas onsself vir ‘n oomblik in Josef se posisie. Indien dit jy of ek was, aan wie Juda hierdie opgemaakte storie vertel het, sou ons hom ongetwyfeld voor stok gekry het – veral (soos jy moontlik uit hierdie kommentaar wel kan aflei) was ek bloot, deur dit deur te lees, absoluut ontsteld! Stel jouself voor indien ek die tweede magtigste person in die land was en ek sulke bog werklik moes aanhoor – verstommend!

Weet jy wat is selfs nog meer verstommend – Josef se reaksie!

Genesis {45:1} “Toe kon Josef hom nie langer bedwing voor almal wat by hom gestaan het nie, en hy roep: Laat almal van my af weggaan! En daar het niemand by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie. {45:2} Daarop bars hy in trane uit, sodat die Egiptenaars en ook die huis van Farao dit gehoor het. {45:3} En Josef sê vir sy broers: Ek is Josef! Leef my vader nog? Maar sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom.

Of Josef was ‘n heilige óf God probeer hier vir ons iets meedeel – dit is vanselfsprekend die laasgenoemde. Op grond van vorige kommentare is ons reeds daarvan bewus dat Josef ‘n voorbeeld van Jesus die Messias is en ofskoon óns teenoor Juda, negatief sou reageer het, sou dit hoegenaamd nie God se reaksie gewees het nie. Hier het ons dus ‘n volmaakte beeld van die liefde en medelye wat Jesus die Messias teeonoor ons openbaar. Net soos Juda, was ons, vóór ons gered is, ook leuenaars en bedrieërs, terwyl ons altyd alles vir eie gewin skeef voorgestel het, maar toe is ons gered en het alles verander. Wat ons dus in Josef sien, is wat Jesus die Messias ons in die Brit Chadasha geleer het:

Markus / Mordechai {11:25}En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe. {11:26} Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.”

Josef het die volste rede gehad om vir sy broers kwaad te wees en veral nadat hy moes verduur wat Juda kwytgeraak het, sou dit hom des te meer rede gegee het om kwaad te word. Soos ek reeds gesê het, sou jy of ek beslis ons humeur verloor het, maar God leer hier vir ons ‘n uiters belangrike les, naamlik indien ons nie vergewe nie, sal ons nie vergewe word nie. Verder, leer ons nog ‘n bietjie meer aangaande die karakter van ons Hemelse Vader. Josef, weerspieël hier in werklikheid Jesus die Messias, wat God is. Op grond van hierdie parasha, sien ons waarlik hoedat God Homself aan sy eie Tora onderwerp.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking