4 Desember 2010 / Kislev 27 5771
Aan Die Einde / Miketz
Genesis / BeReshit 41:1 – 44:17
Sagariá / Zekharyah 2:14 – 4:7
Matthéüs / Mattityahu 27:15 – 46
Genesis {42:8}” En Josef het sy broers herken, maar húlle het hom nie herken nie. {42:9} Toe dink Josef aan die drome wat hy aangaande hulle gedroom het; en hy sê vir hulle: Julle is spioene, julle het gekom om te kyk waar die land oop is. {42:10} Maar hulle het hom geantwoord: Nee, my heer, maar u dienaars het gekom om voedsel te koop. {42:11} Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie.”
Dit is die eerste keer wat ons in die Skrif verneem van politieke spioene, selfs in Bybelse tye. Koning Salomo was inderdaad reg toe hy gesê het:
Prediker / Kohelet {1:9} ” Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie. ”
Die bekendste spioene in die Bybel is die twaalf stamhoofde wat deur Moses gestuur is om die land Kanaän te verken, wat terloops ook nie juis geslaagd was nie! Volgens die Skrif, het die Fariseërs ook van spioene gebruik gemaak om ondersoek in te stel na en verslag te doen oor Jesus, die Man van Galilea. Toe die Fariseërs Hom egter wou dood hê en uit die pad uit, maar tog klagtes teen Hom moes vind om Hom die doodstraf te laat oplê, het hulle spioene gebruik. Alle lande van die wêreld maak van spioene gebruik, ten einde inligting of enige ander soort voordeel oor ander regerings in te win, ongeag of hulle op vriendelike of vyandige voet met mekaar verkeer. Die hedendaagse Israel gebruik ook spioene; een van hulle, Jonathan Pollard, dien tans gevangenisstraf uit in die Verenigde State van Amerika, waar hy skuldig bevind is van spioenasie vir Israel op Amerika.
Wanneer spioene vasgetrek word, erken geeneen ooit dat hulle spioene is nie – dit is tensy hulle besig was om te spioeneer op ‘n land wat van marteling gebruik maak om ‘n bekentenis te verkry. Die land vir wie hulle gespioeneer het, ontken egter gewoonlik enige kennis van hulle en gevolglik moet hulle hulself verdedig. Dit is seker maar die prys wat ‘n mens moet betaal om ‘n spioen te gewees het.
Ons kan dus met redelike sekerheid veronderstel dat spioenasie betreklik algemeen in die Antieke Nabye Ooste voorgekom het en tydens Josef se onder-koningskap in Egipte, reeds ‘n probleem was. Indien dit nie die geval was nie, sou hy sy broers moontlik van ‘n klag van ‘n ander aard beskuldig het. Dit is egter nie die feit dat Josef sy broers van spioenasie verdink het wat my opgeval het nie, maar wel hul reaksie op sy beskuldiging.
Genesis {42:11} “Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie.”
Dit is beslis seker dat hulle hoegenaamd nie besef het aan wie hulle dit gesê het nie. Josef het geweet dat hierdie manne alles behalwe eerlik was! Hulle het so pas vir hom gelieg deur voor te gee dat hy, Josef, dood was, terwyl hulle hom sonder enige berou vir ‘n wins aan ‘n groep Midianiete verkoop het. Ten spyte hiervan, is ek tog van mening dat hierdie tien manne hulself inderdaad as eerlik beskou het, ongeag die skuldgevoel oor wat hulle hul broer, Josef, aangedoen het. Dit is tog verbasend watter verwronge beeld ons in ons verstand oor onsself kan versin.
Kan jy nog jou selfbeeld onthou voordat jy bekeer is? Geeneen van ons het onsself tóé as sondaars beskou nie. Ek weet nie van jou nie, want ek het myself altyd as ‘n goeie person beskou. Ek was meelewend, vrygewig en liefdevol – of ten minste so het ek gedink voordat ek gered is. Selfs noudat ons gelowiges is, ten spyte van die feit dat ons almal baie dinge het wat verkieslik uit ons lewens verwyder moet word, is ek oortuig daarvan dat meeste van ons onsself beskou as beter as wat ons werklik is.
Die probleem met Josef se broers, wat, trouens ook ons s’n is, is dat ons onsself beoordeel volgens ons eie norme in plaas van God s’n. Josef was terdeë bewus daarvan wie voor hom gestaan het, maar sy broers was geheel-en-al onbewus van wie hy werklik was. Josef moes hulle eers beproef voordat hulle eindelik besef het dat hulle na alles nie sulke “eerlike manne” was nie.
Soos ons weet, is Josef ‘n voorbeeld van Jesus die Messias. Daarom, as ons besef wat Josef moes gedoen het om sy broers se oë te open vir die waarheid van hul werklike aard, dink net wat Jesus moontlik moet doen om jou aan jou ware aard te openbaar. My raad aan jou is – selfs al is jy gered en glo jy in Jesus die Messias as jou Here en Redder – bely dat jy nog ver van volmaak is en en bid die Here om jou sagkens tot verandering te lei.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking