Genesis / BeReshit {50:15} “Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood was, het hulle gesê: Sê nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die kwaad wat ons hom aangedoen het! {50:16} Daarom het hulle hierdie boodskap na Josef gestuur: U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde: {50:17} So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien. En Josef het geween toe hulle met hom spreek. {50:18} En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en gesê: Kyk, ons is u slawe. {50:19} Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God? {50:20} Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou. {50:21} Wees dan nou nie bevrees nie: ék sal julle en julle kinders onderhou. So het hy hulle dan getroos en na hulle hart gespreek.”
Ons behoort almal te besef dat Josef ‘n voorbeeld is van Jesus die Messias: Josef is deur sy broers verwerp, as ‘n slaaf verkoop, beledig en mishandel, in die gevangenis opgesluit, uit die gevangenis losgelaat en groot aansien verwerf onder die nasies, waarvan Egipte ‘n voorbeeld is. Jesus die Messias is deur Sy broers – Sy eie mense – verwerp. Hy is deur een van Sy dissipels vir dertig silwerstukke verkoop. Hy het neergedaal in die put (=hel), is opgewek en allerhoogste eerbied onder die nasies verwerf. Die ooreenkomste tussen Josef en Jesus die Messias eindig egter nie dáár nie – dit is slegs die begin en dít is ook hoegenaamd nie toeval nie. Hierdie gedeelte is vir my so tiperend van hedendaagse gelowiges. Vergun my om dit te verduidelik. Julle sal onthou dat in verlede week se parasha (parasha VaYigash), Juda en die ander broers hul harte voor hom bely het. Op daardie stadium het Josef homself nog nie aan hulle openbaar gemaak nie. Wanneer hy later egter sy ware identiteit aan sy broers bekendmaak, verseker hy hulle dat hy hul sonde vergewe en hul vrygespreek van wat hulle aan hom gedoen het.
Genesis / BeReshit {45:4} “Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. {45:5} Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. {45:6} Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. {45:7} Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing.”
Josef se broers is vrygespreek: Alles wat in die verlede plaasgevind het, is vergeet en vergewe. Josef het met sy lewe aangegaan, wat skynbaar nie die geval met sy broers was nie. Ten spyte van die feit dat Josef hulle vergewe het, het hulle hulself nie vergewe nie en steeds onder ‘n skuldgevoel gebuk gegaan.
Indien ons nou voortgaan met die vergelyking van Josef as ‘n voorbeeld van Jesus die Messias, is hierdie scenario nie ontstellend gelykstaande aan die lewens van menige gelowige vandag nie? Alles wat met Josef gebeur het, soos wat hy inderdaad erken het, is deur God beskik met die doel dat sy broers, toekomstige geslagte van die kinders van Israel en soveel meer uit ander nasies daardeur bevoordeel sou word. Die broers se belydenis aan Josef, het aan hulle die voordeel verleen om te woon onder die beskerming van Josef, wat tot die magtige posisie van onder-koning van Egipte verhoog is. Eweneens, was alles wat met Jesus die Messias plaasgevind het, deur die Vader bestem met die uitdruklike doel om die kinders van Israel en mettertyd die ganse wêreld te bevoordeel. Wanneer ons ons sonde voor Jesus bely – die sonde wat ons teen Hom gepleeg het deur die oortreding van Sy wette van die Tora, vergewe Hy ons, trouens, ons word verseker:
Miga / Michah {7:19} “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.”
Vergewe ons egter onsself? Baie van ons doen dit nie! Ten spyte daarvan dat ons vergifnis ontvang het, gaan ons nogtans onder skuldgevoelens gebuk. Laat hierdie week se parasha en die aangehaalde Skrifgedeeltes in die besonder, julle in staat stel om nie soos Josef se broers te wees nie. Aanvaar die vergifnis wat Jesus die Messias aan julle geskenk het en gaan voort met jul lewens.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking