Saterdag 28 Januarie 2012

Gebed: Om Ons Wil met Sy Wil te Verenig

28 Januarie 2012 
D’Var Torah 
Toe Hy Laat Gaan Het / BeShalach 


Eksodus / Shemot {17:8 – 17:13} “Daarop het Amalek gekom om teen Israel by Ráfidim te veg. {17:9} En Moses het aan Josua gesê: Kies vir ons manne en trek uit, veg teen Amalek. Môre sal ek op die top van die heuwel staan met die staf van God in my hand. {17:10} En Josua het gedoen soos Moses aan hom gesê het, om te veg teen Amalek. Maar Moses, Aäron en Hur het op die top van die heuwel geklim. {17:11} En telkens as Moses sy hand ophou, was Israel die sterkste; maar as hy sy hand laat sak, was Amalek die sterkste. {17:12} Maar die hande van Moses het swaar geword; daarom het hulle ‘n klip geneem en dit onder hom neergelê, dat hy daarop kon sit. En Aäron en Hur het sy hande ondersteun, die een duskant en die ander anderkant. So het sy hande dan vas gebly tot sononder. {17:13} En Josua het Amalek en sy volk met die skerpte van die swaard ‘n neerlaag toegebring.”. 

Ek het al dikwels oor die betekenis van hierdie gedeelte gewonder en myself afgevra: “Waarom was die oorlog in die guns van die kinders van Israel terwyl Moses sy hande, met die staf daarin, omhoog gehou het en om welke rede het dit in die guns van Ámalek verander toe hy sy hande laat sak het?.” Moses het die staf met albei hande vasgehou; Aäron het sy hand aan die eenkant ondersteun en Hur aan die anderkant. Beide het Moses te hulp gekom en sy hande omhoog gehou. Solank as wat Moses se hande in hierdie posisie was, was die stryd in die kinders van Israel se guns. 

Indien die staf die mag om die oorlog te wen of verloor, beslis het, sou dit nie meer sinvol gewees het vir Moses om die staf in een hand vas te hou terwyl dit na die stryende magte uitgestrek is nie? Of, as die staf ‘n simbool van God se teenwoordigheid was, bedoel om die vegtendes aan te moedig, sou dit nie sinvoller gewees het indien Josua dit in die stryd ingedra het waar dit vir die kinders van Israel sigbaar kon wees nie? In plaas daarvan, was dit hoog bokant hulle gehou, waar dit vir hulle onsigbaar was. Ons kan dus tot die gevolgtrekking kom dat die krag nie in die staf geleë was nie, maar in die omhoog hou van Moses se hande. 

Psalm / Tehillim {28:2} “Hoor die stem van my smekinge as ek U aanroep om hulp, as ek my hande ophef na die binneste van u heiligdom. ”. 

Psalm / Tehillim {63:4} “Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef.”. 

In hierdie Parasha verneem ons dat die kinders van Israel in hulle eerste oorlog betrokke geraak het en wel teen die Ámalekiete. My afleiding uit hierdie gedeeltes is dat Ámalek inderdaad meer as ‘n groep heidense mense was – hulle versinnebeeld die menslike, vleeslike begeertes en alles in die wêreld wat teen God is. Ámalek versinnebeeld dus die mens se sondige, vleeslike natuur. 

Die oorlog tussen Ámalek en die kinders van Israel het in werklikheid nie op die slagveld plaasgevind nie, maar wel op die top van die berg met Moses. Die kinders van Israel se geledere het bestaan uit onervare en waarskynlik swaktoegeruste soldate. Die oorlog kon gevolglik nie deur hulle gevegsvermoë gewen word nie. Nee, hierdie oorlog is geveg en gewen deur deurdat Moses sy hande in gebed opgehef het. Die staf in sy hande was bloot visueel; nie vir die kinders van Israel, wat in die stryd gewikkel was nie, maar vir God, wat vantevore Moses se staf gebruik het om die farao en sy leer te verneder en verslaan. Die geveg teen Ámalek is deur gebed beslis. 

Gebed is ‘n onskatbare voorreg wat ons, as gelowiges, van God ontvang het. Dit is ‘n roepstem om ‘n wagter op die mure te wees, dag en nag sonder rus, totdat redding, hulp, genesing en oorwinning kom. Gebed is magtig, omdat God verkies om deur middel van ons gebede te werk. Dit is dus die handeling van gelowiges, in samewerking met God, om ons wil aan Sy wil te onderwerp. Gebed is egter nie ‘n poging om God te oorreed om óns wil uit te voer nie. Dit is ook nie om as’t ware ‘n wenslys aan God voor te lê nie, asof Hy ‘n tipe kersvader is, van wie ons verwag om aan ons vertoë gehoor te gee en ons “kerskouse” met óns selfsugtige begeertes te vul nie. Dit is ook nie ‘n poging om óns wil op God af te dwing, sodat ons kan ontvang wat volgens ons mening, die beste vir onsself en ander mense is nie. Gebed is om onsself aan God se beskikking te onderwerp: om te verneem wat God se wil is en dan deur gebed met Hom saam te stem / aanvaar. 

Gebed verander nooit iets wat God vantevore bepaal het nie. Dit word bloot volbring, terwyl gebedloosheid niks bereik nie. Dikwels stel God uit wat Hy wil doen, slegs omdat Hy nie ons gebedsamewerking het nie. Ofskoon ons nie weet waarom nie, wéét ons egter dat God nie onafhanklik handel nie. Hy het aan ons ‘n vrye wil geskenk en sal dit nie gering ag deur Sy wil op ons af te dwing nie. Hy wag vir ons om in gebed met Hom te verenig voordat hy handel, selfs indien dit beteken dat die satan tydelik offensief in ons lewens is. Dit bewys hoeveel God óns reg om te kies respekteer en in hoe ‘n mate God ons gebede begeer. 

Jy en ek sal nooit die Ámalekiete in ons lewens kan verslaan nie. Ons vleeslike begeertes kan nie deur wilskrag oorwin word nie. Die enigste manier om oor ons vlees die oorwinning te behaal, is deur gebed, net soos Moses gedoen het. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking