8
Januarie 2012
D’Var Torah
Shemot / Eksodus
Ek het dit interessant gevind dat God vir Moses berg Horeb (Berg Sinai) aangedui het as plek van aanbidding en Hy vir Moses na die kinders van Israel gestuur het. So ook die feit dat God Berg Horeb as teken bevestig dat Hy met Moses sal wees. Dit is vreemd aangesien die kinders van Israel nie voor ‘n aansienlike tydverloop eers dáár sou aankom nie. Daarbenewens het God vir Moses oor bonatuurlike geestesgawes laat beskik en Homself bewys om dwarsdeur die Eksodus-proses met hom te wees. Waarom sou aanbidding by Berg Horeb dan enigsins ‘n groter teken wees as die tog deur die Rooi See? Wat was dan so uitsonderlik aan Berg Horeb, dat dit ‘n teken was dat God met Moses sou wees, as die ander tekens wat hy alreeds ontvang het?
Dit is klaarblyklik uit sy teësin om na Egipte terug te keer, dat hierdie voormalige, vreeslose prins inderdaad getemper is gedurende die veertig jaar wat hy in die wildernis van Midian skape opgepas het. Hy het duidelik die politieke aandrif en aktivisme waaroor hy vroeër beskik het, verloor. Dit het alles aan die verlede behoort en hierdie ontmoeting met God op Berg Horeb, het Moses onverhoeds betrap. Gevolglik, lees ons dat hy sê: “Wie is ek, dat ek na die Farao moet gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte moet lei?”
Moses het homself nie langer as iemand besonders beskou nie en homself beslis nie bevoeg geag om die Farao te konfronteer nie, nog minder om die kinders van Israel uit Egipte te lei.
Ek kan begryp waarom Moses hierdie woorde tot God gerig het. As ‘n prins in Egipte, het hy kontakte gehad, invloedryke persone geken en dus betrekkinge gehad waardeur hy invloed kon uitoefen. Nou, nadat hy vir veertig jaar ‘n skaapherder was, het hy enige kontakte of invloed verloor. Hy was polities vergete.
Wat Moses op dié stadium beleef het, is tot selfs vandag toe nie ongewoon nie. Baie afgetredenes, wat vroeër oor mag en invloed in hul werkplek beskik het, ervaar na jare se aftrede, dieselfde belewenis. Selfs indien hulle onverwags versoek sou word om na hulle werkplek terug te keer en voort te gaan vanwaar hulle opgehou het, sou hulle ongetwyfeld ook skepties gevoel en die werkaanbod van die hand gewys het, ongeag of dit deur God so beskik was.
God het dit klaarblyklik verstaan en met reg ook, want Hy het Moses immers geskep! God het besef dat Moses behoefte aan aanmoediging sou hê om die politieke aktivis in hom weer te laat opvlam. Gevolglik is aan hom tekens gegee van sy staf wat in ‘n slang verander het en sy hand wat met ‘n velsiekte oortrek geraak het. Ten spyte van hierdie tekens, wat moontlik voldoende sou gewees het om meeste mense te oortuig, het Moses nogtans skepties gebly tot op ‘n punt waar God sy broer, Aäron, saam met hom moes stuur, om as sy spreekbuis op te tree.
Ek is egter oortuig daarvan dat God inderdaad met Moses in Egipte was toe hy eindelik daarheen gegaan het; trouens, die wonders wat hy dáár verrig het, bewys dit onteenseglik. Maar, soos ons almal wil weet of ons ‘n opdrag bevredigend uitgevoer het, het God besef dat Moses ‘n teken daartoe nodig gehad het. God se teken van teveredenheid was tweërlei.
Wat Moses moes uitvoer, was hoegenaamd geen maklike taak nie – hy het deurentyd behoefte aan bemoediging en gerusstelling deur God gehad. Nogtans het Moses, ongeag wat alles plaasgevind het, homself nooit as iemand besonders geag nie; trouens, hy het nooit van die “Wie is ek” – gesindheid afgesien nie, wat myns insiens hierdie Skrifgedeelte genoodsaak het.
Numeri / Bamidbar {12:3) “Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.”
Gevolglik was die eerste rede vir die Berg Horeb-ontmoeting, bedoel om as sy uiterste bemoediging en gerusstelling te dien, dat Gód hom gestuur het. Moses het gegaan van prins tot herder en dit was by Berg Horeb wat hy as’t ware weer ‘n prins geword het – selfs meer as ‘n prins, maar wel ‘n koning, priester en profeet. Tweedens, die verlossing en bevryding van die kinders van Israel het eintlik begin met Moses by Berg Horeb. Watter beter, meer gepaste plek vir die volk Israel om “gebore” te word, as op die Berg Horeb!
Congregation
Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking