Sondag 01 Januarie 2012

Messias Seun van Josef / Mashiach ben Yosef

1 Januarie 2012 
D’Var Torah 
En Hy Het Gelewe / Vayechi 


 Genesis / Bereshit {47:27} “So het Israel dan in Egipteland gewoon, in die land Gosen; en hulle het vaste besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder.{47:28} En Jakob het sewentien jaar in Egipteland gelewe, sodat die dae van Jakob, die jare van sy lewe, honderd sewe en veertig jaar was. {47:29} En toe die dae van Israel nader kom dat hy moes sterwe, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: As ek nou guns in jou oë gevind het, sit dan tog jou hand onder my heup en bewys my liefde en trou—begrawe my tog nie in Egipte nie. {47:30} Wanneer ek met my vaders ontslaap het, bring my dan weg uit Egipte en begrawe my in hulle graf. En hy antwoord: Ek sal handel ooreenkomstig u woord. ”. 

Met die lees van hierdie verse, het ek iets besonder interessant teëgekom. In die verlede het ek verwys na God se gebruik van die name Israel en Jakob in die beskrywing van een en dieselfde persoon. Soms sou God Isak se seun Jakob noem en andersins Israel. Soos ons bewus is, was dit God wat Sy naam van Jakob na Israel (Genesis 32:28) verander het. Die naam “Jakob” beteken “Uitoorlêer” en Israel, “Prins van God”. Die wisselwerking tussen die name was nie toevallig nie – niks in die Bybel geskied lukraak nie! Die feit is dat God doelbewus die name afgewissel het om tussen die twee geaardhede van dieselfde man te onderskei. 

Sy naam Jakob verwys na sy wêreldse natuur, sy ou self, wat dikwels geblyk het in sy omgang met ander mense in die Bybel. Sy naam Israel daarenteen verwys na sy spirituele natuur, oftewel sy nuwe self. Dit is dus op hierdie wyse – so glo ek – dat God die twee name in die bovermelde Skrifgedeeltes gebruik. Kom ons kyk hoedat God dit doen en wat Hy vir ons verduidelik ten opsigte van die afwisseling van die name Jakob en Israel. 

Genesis / Bereshit {47:27} “So het Israel dan in Egipteland gewoon, in die land Gosen; en hulle het vaste besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder.” 

Hier, glo ek, word ons vertel dat gedurende Jakob se leeftyd, in die tyd wat hy en sy familie in Egipte gewoon het, hulle tog ‘n verhouding met God gehad het. Dat hulle verblyf in Egipte, in die land Gosen was, dui daarop dat hulle afgesonder was, verban in ‘n godlose materialistiese land. “Wat, ons dus hier sien, is dat die familie steeds in ‘n geestelike, verwante verhouding met God geplaas was, hoewel verban in die materiële fisiese wêreld wat deur Egipte verteenwoordig word. 

Genesis / Bereshit {47:28} “En Jakob het sewentien jaar in Egipteland gelewe, sodat die dae van Jakob, die jare van sy lewe, honderd sewe en veertig jaar was.”. 

Ek meen dat twee sake hier aan ons meegedeel word. Eerstens, deur die gebruik van die naam Jakob in hierdie vers, dat die man inderdaad deur die materialisme van Egipte beïnvloed is. Tweedens, deel God ons mee van die fisiese dood van die man en die aantal jare wat sy fisiese liggaam hierdie aarde bewandel het. Die wysgere is van mening dat wanneer die Tora na Jakob se sewentienjarige verblyf in Egipte verwys, dit gegrond was op sy aardse genot en om te breek met die spirituele onrus wat hy tot op daardie tydstip ondervind het. 

Genesis / Bereshit {47:29} “En toe die dae van Israel naderkom dat hy moes sterwe, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: As ek nou guns in jou oë gevind het, sit dan tog jou hand onder my heup en bewys my liefde en trou—begrawe my tog nie in Egipte nie.”. 

Ek dink dat hierdie gedeelte ons van ‘n magdom inligting voorsien. God wys vir ons daarop dat met die dood van Jakob, ‘n spirituele dood vir die volk sou aanbreek. Dít word bevestig deur die verandering van sy naam na Israel, wanneer na Jakob se dood verwys word. 

‘n Verdere interessante waarneming is, naamlik, waarom het Jakob nou juis sy seun Josef laat kom, toe hy besef het dat die tyd van sy dood naby was? Was sy ander elf seuns dan nie by hom nie? Kon hy nie een van hulle geroep het nie? Daarbenewens, was Juda op daardie tydstip eintlik die familiehoof en nie Josef nie. 

Ek meen die antwoord lê eintlik opgesluit in die feit dat Josef dwarsdeur hierdie verhaal, ‘n voorstelling van Jesus is. In essensie, kyk ons in die toekoms in. Jakob versoek Jesus om te belowe dat Hy die spirituele verhouding tussen die volk en God sal herstel en hulle in die Beloofde Land vestig. 

Ons weet dat, na Jakob se dood, die volk vir meer as tweehonderd jaar in slawerny in Egipte verkeer het. Gedurende daardie tyd, het hulle alle begrip van hulle verhouding met die God van hemel en aarde verloor en gevolglik die gewoontes en praktyke van die Egiptenare aangeneem. Ongelukkig, leef die grootste gedeelte van die volk Israel tot vandag toe, steeds in ballingskap en spirituele duisternis. Binnekort sal Jesus kom, hulle verhouding met hul God herstel en hulle laat terugkeer na die Land van die Belofte. Congregation 


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking