22 Januarie
D’Var Torah
Kom Binne / Bo
Eksodus / Shemot {10:7} “Toe vra Farao se dienaars vir hom: Hoe lank sal die man vir ons ‘n strik wees? Laat die manne trek, dat hulle die HERE hulle God kan dien. Weet u nog nie dat Egipte te gronde gaan nie? {10:8} Daarop bring hulle Moses en Aäron na Farao terug, en hy sê vir hulle: Gaan heen, dien die HERE julle God. Wie is dit eintlik wat wil gaan? {10:9} En Moses antwoord: Ons wil gaan met ons jong mense en ons ou mense, met ons seuns en ons dogters; met ons kleinvee en ons beeste wil ons gaan, want ons wil ‘n fees vir die HERE hou. {10:10} Toe sê hy vir hulle: Mag die HERE só met julle wees as wat ek julle en julle kinders sal laat trek! Pas op, want julle het ‘n verkeerde ding voor oë. {10:11} Nie so nie! Gaan dan, julle manne, en dien die HERE, want dít het julle verlang. En hulle het hulle van Farao af weggedrywe. ”.
Die Farao het vermoed dat indien hy elkeen van die kinders van Israel, dit wil sê kinders ingesluit, sou laat gaan, Moses in die woestyn sou intrek en dan net verder wegtrek. Dit was dus die bedoeling van die Farao, ten einde die ekonomie van Egipte te verseker, om nie sy slawe-arbeiders te verloor nie. Hy het besef dat solank hulle kinders agterbly, die kinders van Israel nie sou probeer ontvlug nie. Daar was egter geen moontlikheid dat Moses sou instem om die kinders agter te laat nie. Nie omdat hy oorweeg het om te vlug nie maar wel dat hy nie geweet het wat daarna sou gebeur nie. Al wat Moses wél geweet het, is wat God hom meegedeel het en dit was om die kinders van Israel drie dae ver in die woestyn in te lei om Hom te aanbid. Dit was Moses se besluit om niemand in Egipte agter te laat nie en hieruit is daar vir ons ‘n besondere les te leer. In die Messiaanse gemeenskap is kinders ons grootste bate. Ons was al almal in ‘n mindere of meerdere mate by evangelisasie betrokke en ons besef dus hóé moeilik dit kan wees om van Jesus die Messias te getuig. Ons kan meer verwerping as aanvaarding ondervind en vir sommige mense plaas juis dít ‘n demper op die bereidheid om ons geloof te deel.
Met ons kinders is dit egter nie die geval nie: ons het die geleentheid om hulle vanaf geboorte in Messiaanse Judaïsme op te voed. Selfs indien óns met hulle geboorte nog nie gered was nie, kan bloot ons veranderde lewens, nadat ons gered is, ‘n magtige getuie vir ons kinders wees.
‘n Goeie voorbeeld is die verhaal wat deur my Rabbi aan my vertel is. Nadat hy, op grond van sy nuut-gevonde geloof, vir baie jare van sy Joodse familie vervreemd was, sou hy en sy gesin uiteindelik met hulle herenig word. Sy kinders was nog nie tieners nie en al wat hulle geken het, was Messiaanse Judaïsme. Omdat hulle vader nie sy familie wou aanstoot gee tydens hulle eerste besoek nie, het hy hulle versoek om nie van Jesus te praat nie. As Messiaanse Jode, word die naam van Jesus normaalweg dikwels in gesprekke gemeld en veral in gebed vóór ete genome. Gevolglik het hy hulle ernstig versoek om nie Sy naam te meld nie. Daarop het sy dogter gevra: “Waarom Pappa, is hulle dan nie Jode nie?”.
Moses het geweier om die kinders agter te laat. Hy wou seker maak dat die volgende geslag hulle geloof sou ervaar deur te aanskou hoedat hulle kinders God aanbid op dieselfde wyse as hulle voorvaders duisende jare tevore. Hy het die belangrikheid daarvan besef om kinders deur dié voorbeeld te leer en hulle alles te laat sien, hoor en ruik van wat plaasvind, sodat hulle eendag die tradisie sou voortsit.
Ongelukkig laat baie Messiaanse gelowiges egter vandag hulle kinders agter. Ja, hulle dwing hulle om op die Sabbat na die sinagoge te gaan en laat hulle spesiale klasse bywoon om met ander kinders te verkeer en sodoende saam met hulle van Messiaanse Judaïsme te leer. Maar dit word nie tuis opgevolg nie. Hulle vier die feesdae in die sinagoge maar nie tuis nie. So byvoorbeeld “Chanuka”: hulle bring moontlik hul kinders saam om op die eerste aand van Chanuka die Chanuka-kerse aan die brand te steek, maar laat dan na om vir die ander sewe dae ook sáám kerse aan te steek. Hulle laat inderdaad hulle kinders agter! Sommige ouers neem hulle kinders selde indien ooit saam na die sinagoge – sodoende laat hulle hul kinders letterlik agter.
As ons wil hê ons kinders moet die Here hulle God liefhê met hulle hele hart en siel, moet ons die gebod nakom, wat ons bid, elke dag wanneer ons die Shema voordra:
Deuteronomium / Devarim {11:9} “en leer dit aan julle kinders deur daaroor te spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan;”.
Dit is nie ‘n opsie nie, dit is ‘n gebod (mitzvah) en om enigiets nie uit te voer nie, sal wees soos om jou kinders by die Farao in Egipte agter te laat!
Spreuke / Mishlei {22:6} “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking