✦

God ontmasker die bedrieërs

D’Var Torah
Korag / Korach


Númeri / Bamidbar {16:5} “en hy het met Korag en sy hele bende gespreek en gesê: Môre vroeg, dan sal die HERE bekend maak wie Hom toebehoort en wie die heilige is, en wie Hy na Hom laat nader kom: wie Hy uitkies, sal Hy na Hom laat nader kom.”.

My eggenote en ek is tans in ons 19de jaar van bediening hier by die Gemeente Melech Yisrael. Gedurende hierdie tyd het ons vele mense sien kom en gaan, met die gevolg dat ons dikwels gevoel het asof dit bloot ‘n treinstasie was waardeur mense onderweg na ander Messiaans-Joodse gemeentes beweeg het. Die feit is, trouens, dat daar in heelwat nuwer gemeentes mense is wat voorheen hier aanbid het maar om een of ander rede vertrek het. Ons is egter seker dat elkeen wat na Melech Yisrael gekom en vir ‘n bepaalde tyd gebly het, ons telkens meegedeel het hoedat hulle ons gevind het en die seën wat hulle ervaar het om eindelik so geestelike tuiste te vind.

Die rede waarom ek hierna verwys, is omdat my eggenote en ek oor die jare heen ‘n patroon en wyse gevind het om die egtheid van mense se harte teenoor God en ons te ontbloot. Soos reeds gesê, kom elkeen met opgewondenheid en groot verwagtings hier aan en solank hulle nie moeilikheidmakers blyk te wees nie, verwelkom ons hulle met ope arms. ‘n Verskynsel wat ons nog altyd by sulke nuwe aankomelinge ervaar het, is hulle toewyding aan God, toewyding aan die bywoning by die kehila, getrouheid met hulle tiendes en diens. Ons, daarenteen, volstaan met die Bybelse riglyn:

1 Timótheus / Timoteos Alef {5:22} “Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.”.

Die toepassing van hierdie riglyn was vir ons nog altyd baie doeltreffend in soverre dat ons enigiets van ses maande tot twee jaar wag voordat ‘n nuwe lidmaat by ‘n bediening hier by die kehila betrek word. Die duur van die wagperiode word bepaal deur die tipe bediening waarby so ’n persoon betrek sal word. Indien daar dus enige teenstrydigheid in die persoon se lewe is, sal dit teen daardie tyd reeds geblyk het. In die geval van sommige mense mag dit moontlik langer neem as met ander maar volgens ons Skrifgedeelte uit parasha Korag, trek God die opregte aanbidders nader aan Hom en verwerp Hy diegene wat hulle eie agendas het.

Dit gebeur tog soms dat sommige mense selfs ná die tweejaar-wagperiode ons bedrieg. Ons het egter één onfeilbare metode gevind deur noukeurig te let op die betroubaarheid, getrouheid en toewyding van ‘n persoon wanneer hy in ‘n bediening geplaas word. Ons het ondervind dat sodra ‘n persoon werklik in ‘n bediening geplaas word, hy óf faal en begin terugsak. Interessant genoeg is wanneer iemand homself in die terugsakkingsproses bevind, hy nooit die fout by homself soek nie maar altyd by ons.

Was dit nie ook die fout met Korag en sy groep nie? God het aan hulle, as Leviete, ‘n verhewe posisie onder die kinders van Israel verleen, maar in hierdie gesagsposisie, wat ‘n mens sou verwag dat hulle meer lojaal en toegewyd in hulle diens aan God en Moses moes wees, het hulle begin terugsak en rebelleer. Interessant genoeg het ook hulle nie hulself blameer nie, maar die blaam op ander geplaas.

Númeri / Bamidbar {16:3} “En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE? ”.

Korag en sy groep het ‘n spirituele vervlakking ondergaan en dit blyk asof dit ontstaan het deurdat hulle hulsef in ‘n leierskapsposisie bevind het; ‘n effek van leierskap, soortgelyk aan wat ons hier by Melech Yisrael ondervind nadat iemand in ‘n leierskapsposisie geplaas is.

Mense is geneig om twee uiteenlopende gesigte voor te hou: één wat hulle graag wil hê jy moet sien maar ‘n ander wat metterheid deur hulself openbaar word. Is ons nie geseënd dat God diegene wat Hy uitverkies na Hom toe trek en die bedrieërs verwerp en onthul nie!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Slegte Geselskap Bederwe Goeie Sedes

17 Junie 2012 
D’Var Torah 
Korag / Korach 


Númeri / BaMidbar {16:24} “Spreek met die vergadering en sê: Maak dat julle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram! {16:25} Toe het Moses opgestaan en na Datan en Abíram gegaan, en die oudstes van Israel het agter hom aan gegaan. {16:26} Daarop het hy die vergadering toegespreek en gesê: Verwyder julle tog van die tente van hierdie goddelose manne en raak nie aan iets wat aan hulle behoort nie, dat julle nie weens al hulle sondes omkom nie. ”. 

Het julle al ooit die vonnis: “Skuldig deur assosiasie” gehoor? Ek het verneem van ‘n jong man, ‘n Christen; laat ons hom maar Petrus (nie sy regte naam nie) noem, wat in ‘n motor saam met ‘n groep van sy vriende gery het. Sy vriende het die reputasie van ietwat wild gehad maar nooit juis in werklike moelikheid beland nie en hy het hulle geselskap geniet. 

Toe die bestuurder van die motor by die oprit van ‘n vriend se huis stilhou, het almal – Petrus ook – uitgeklim en in die huis ingegaan. Petrus het naderhand besef dat alles nie pluis was nie. Dit was ‘n dwelmverskaffer en sy vriende was besig om dwelms te koop. Meteens het die voordeure oopgebars en die polisie van die Dwelm– wetstoepassingsagentskap het in die huis ingestorm. Hulle het almal teenwoordig – Petrus inkluis - in hegtenis geneem en hulle na die polisiestasie geneem. In die huis is daar ‘n verskeidenheid straatdwelms asook vuurwapens gevind. 

Petrus was onskuldig aangesien hy nog nooit dwelms gebruik het nie en was heeltemal onbewus daarvan dat sy vriende sou stilhou om dwelms te koop. Hy was egter op die verkeerde plek op die verkeerde tyd en gevolglik is hy “skuldig deur assosiasie” bevind. ‘n Uitgerekte hofsaak het gevolg en in dié proses het Petrus sy werk, sy gehuurde woonstel en vanselfsprekend sy reputasie verloor. Sy lewe is dus eenvoudig vernietig deur ander mense se sonde en omdat hy saam met die skuldiges was. 

Die Skrif en in die besonder ons Parasha-gedeelte hierbo waarsku ons om nie in die geselskap van goddeloses te verkeer nie. Ons móét uiters versigtig wees met wie ons omgaan en wie ons vriende is. 

1 Korinthiërs / Korintim Aleph {15:33} “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.”. 

Korag en sy groep volgelinge was opstandig. God het Moses en Aäron aangewys as leiers van die gemeente. Korag en sy volgelinge het geen gesag gehad om hulle in daardie opsig uit te daag nie en ons almal weet wat met hulle gebeur het as gevolg van hulle opstand. 

Númeri / BaMidbar {16:31} “En toe hy al hierdie woorde klaar gespreek het, skeur die grond wat onder hulle was, {16:32} en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hul huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed. ”. 

Ek dink dat God in vandeesweek se Parasha aan ons ‘n baie duidelike boodskap gee: Vermy opstandige mense – dit sal net moelikheid meebring! 

Spreuke / Mishlei {4:14} “ Kom nie op die pad van die goddelose en betree die weg van die slegtes nie. {4:15} Vermy dit, gaan nie daarop nie, wyk daarvan af en gaan verby; {4:16} want hulle kan nie slaap as hulle geen kwaad doen nie; en hulle slaap is weg as hulle nie tot ‘n val bring nie. {4:17} Want hulle eet brood van goddeloosheid en drink wyn van gewelddadigheid. Pro 4:18 Terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe, {4:19} is die weg van die goddelose soos duisternis: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie. ”. 


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Die Erns van Leierskaphoedanigheid

12 Junie 2010 / Sivan 30 5770

Korag / Korach (Congregation Melech Yisrael)

Numeri / BaMidbar 16:1 – 18:32

Jesaja / Yeshayahu 66:1 – 24

Romeine / Romim 13:1 - 7

Numeri / BaMidbar {18:1} ”En die HERE het vir Aäron gesê: Jy en jou seuns en die huis van jou vader saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot die heiligdom dra; en jy en jou seuns saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot julle priesteramp dra. {18:2} En laat ook jou broers, die stam van Levi, die stam van jou vader, saam met jou nader kom, dat hulle by jou kan aansluit en jou dien, terwyl jy en jou seuns saam met jou voor die tent van die Getuienis is. {18:3} En hulle moet jou diens waarneem en die diens van die hele tent; maar naby die voorwerpe van die heiligdom en naby die altaar mag hulle nie kom nie, dat hulle nie sterwe, hulle sowel as julle nie. {18:4} Maar hulle moet by jou aansluit en die diens van die tent van samekoms waarneem: al die dienswerk van die tent; en ‘n onbevoegde mag nie na julle toe aankom nie. {18:5} En julle moet die diens van die heiligdom en die diens van die altaar waarneem, sodat daar verder geen toorn oor die kinders van Israel kom nie. ”

Hierdie gedeelte bevat etlike baie ernstige instruksies! Trouens, so ernstig dat ons myns insiens weer daarna moet kyk.

Numeri / BaMidbar {18:1} ”En die HERE het vir Aäron gesê: Jy en jou seuns en die huis van jou vader saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot die heiligdom dra; en jy en jou seuns saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot julle priesteramp dra. ”

Begryp julle wat dit beteken? Dit beteken dat Aäron en sy seuns aanspreeklik gehou sou word vir alles wat in die tabernakel plaasgevind het. Dit behels dat al die toenaderingsoffers (korbanot) deur die mense gebring, al die voorskrifte betreffende belydenis en berou, en voorskrifte met betrekking tot die bedryf van die tabernakel, alles wat plaasgevind het en verrig is en alles onderrig deur óf Aäron óf sy seuns, selfs aan diegene (Leviete) in sy vader se huis, húl verantwoordelikheid was. Om op te som: indien enigeen van hulle op welke wyse ookal fouteer het, iets verkeerds gesê of gedoen het, hulle selfs teenoor hul vader se huis, aanspreeklik gehou word. Ons het ‘n voorbeeld van wat die gevolge van aanspreeklikheid was toe Nadab en Abihu, seun van Aäron, fouteer en gevolglik gesterf het. Ek weet nie van julle nie maar dit sou my tweemaal laat dink het voordat ek die verantwoordelikheid van ‘n priester sou aanvaar het!

Dit is egter ‘n feit dat hierdie swaar verpligting van aanspreeklikheid tot vandag toe nog op gemeenteleiers rus en ek bedoel nie slegs op die rabbi nie, maar eerder op elkeen in ‘n leierskaphoedanigheid.

Jakobus / Ya’acov {3:1} “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan.”

Dit klink sekerlik soortgelyk aan wat on sopas hierbo gelees het. Dieselfde swaar aanspreeklikheid wat Aaron en sy gesin opgelê is, word, trouens, in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) uitgebrei na elkeen in ‘n leierskap hoedanigheid.

Ek kan julle verseker dat ek hierdie aanspreeklikheid elke keer terdeë besef wanneer ek iets hier by die Gemeente Melech Yisrael doen. Dit kon moontlik die rede wees dat mense my soms as streng en ontoegewend beleef. Ek beskou dit egter dat, aangesien ek die één is wat aanspreeklik en rekenpligtig gaan wees, ék die één sal wees wat die besluit moet neem. Gevolglik neem ek nooit enige belangrike besluit op my eie nie, maar raadpleeg altyd die ander gemeenteleiers en betrek hulle by besluitneming. Sodoende word die aanspreeklikheid en verantwoording tussen ons verdeel. Ek erken egter dat ek volstaan met dit wat reg en Bybels is. Ongelukkig besef ek en het ek al gewetenlose gemeenteleiers teëgekom wat hul posisies misbruik - ek sidder om te dink aan die gevolge daarvan vir hulle. Oorweeg byvoorbeeld hierdie Skrifgedeelte:

Matthëús / Mattityahu {5:18} “ Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. {5:19} Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. ”

Die wet, waarna Jesus verwys, is die Tora. Die kleinste Hebreeuse letter, ook bekend as ‘n tittel of letterstrepie, waarna Hy verwys, is die jod en kotz (doring). Laasgenoemde verwys na die klein “doringagtige puntjie” wat uit ‘n letter uitsteek.

Maar soos ons weet, het die hemel en aarde nog nie vergaan nie en ons besef dat dit nie sal plaasvind tot na afloop van die duisendjarige ryk van die Messias nie.

Openbaring / Hitgalut {21:1} “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. ”

Ek vind dit ontstellend wanneer ek daaraan dink dat al die kerke en al die pastore leer en verkondig dat ons nie langer onder die Tora-“Wet” verkeer nie.

Hebréérs / Ivrim {13:17} “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.”

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou