16 September 2012
D’Var Torah
En Hy Het Gegaan / Vayelech
Deuteronomium / Devarim {31:1} “Daarna het Moses gegaan en die hele Israel met hierdie woorde toegespreek {31:2} en vir hulle gesê: Ek is vandag honderd en-twintig jaar oud; ek kan nie meer uit— en ingaan nie, en die HERE het vir my gesê: Jy mag deur hierdie Jordaan nie gaan nie. {31:3} Die HERE jou God, Hy trek voor jou oor; Hy sal hierdie nasies voor jou uit verdelg, en jy sal hulle uit hul besitting verdrywe; Josua, hy trek voor jou oor soos die HERE gespreek het. {31:4} En die HERE sal met hulle doen soos Hy met Sihon en met Og, die konings van die Amoriete, en met hulle land gedoen het, wat Hy verdelg het; {31:5} die HERE sal hulle aan julle oorgee, en julle moet met hulle handel geheel en al volgens die gebod wat ek julle beveel het. {31:6} Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie. “.
My vrou en ek gaan nou ons sewentiende jaar van bediening by Kehila (Gemeente) Melech Yisrael in en dit is heel natuurlik dat ons na soveel jaar, hierdie gemeente as ons “baba” beskou! Toe ons destyds die leierskap daarvan oorgeneem het, het dit in wanorde verkeer. Daar was nie sprake van ‘n familie nie en ons is werklik moeilik aanvaar; trouens, vir die eerste vyf jaar was ons in ‘n stryd gewikkel om die gemeente te verenig en aanvaarding as leiers te ervaar. Prys God (Baruch Hashem), dit het sedertien alles verander. Die gemeente Melech Yisrael is nou ‘n lewendige, liefdevolle gemeente, waar ons leierskap hoog aangeslaan word. Nog belangriker is dat ons in ‘n ware familie (mispocha) ontwikkel het en vanweë daarvan, gesëen word. My vrou en ek het besonder hard gewerk om hierdie gemeente op te bou en op grond daarvan, sou dit vir ons baie maklik gewees het om die eer vir die welslae daarvan vir onsself toe te eien. Sewentien jaar van harde werk wat vanselfsprekend met veel stryd, teleurstellings en hartseer gepaardgegaan het, sou ‘n mens heel maklik trots en besitlik kon gemaak het. Indien daar egter die geringste mate van trots of besitlikheid in ons was, sal die verse hierbo aangehaal, dit sonder twyfel weerspreek.
Moses sou die volste reg gehad het om ten opsigte van die kinders van Israel trots en besitlik te gewees het. Hy het inderdaad bloed, sweet en trane gestort vanaf die oomblik wat hy hulle uit Egipte gelei het totdat hy die bovermelde verse geskryf het, Desondanks het hy erken dat die kinders van Israel nie aan hom behoort het nie – hy was bloot die werktuig wat God gebruik het om Sy wil te volbring en Sy volk te help bou.
Moses het niks gehad om homself op te beroem nie of besitlik oor te wees nie – die volk was nie syne nie, hulle het aan God behoort!
Ek hoor dikwels dat gemeenteleiers na die gemeente wat onder hulle leiding staan, daarna as “My gemeente” verwys, terwyl dit nie húlle gemeente is nie, maar wel God s’n. Die gemeente Melech Yisrael het reeds bestaan voordat ek die leier geword het en sal nog bestaan nadat my vrou en ek weg en vergete is. Ons is slegs dienaars as deel van ‘n reeks dienaars wat God dien om Sy koninkryk te bou deur Sy mense op te hef deur die onderrig van Sy Woord.
Lukas / Uri {17:7} “En wie is daar van julle wat ‘n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel? {17:8} Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink? {17:9} Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie. {17:10} So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen. ”.
Ten slotte, aan al die lesers daarbuite, wat trots op – of besitlik geraak het ten opsigte van die gemeentes wat julle lei, sê gerus “my gemeente”, maar hou altyd in gedagte dat dit nie julle gemeente is nie, maar God se gemeente.
Deuteronomium / Devarim {31:6} “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie. ”.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking