Saterdag 22 September 2012

Israel beïnvloed die hele wêreld

22 September 2012 
D’Var Torah 
Gee Gehoor – Hazinu 

Romeine / Romim 10:14 – 11:12

Deuteronomium / Devarim {32:7} “Dink aan die dae van die ou tyd, let op die jare, van geslag tot geslag; vra jou vader, dat hy jou dit bekend maak; die ou mense, dat hulle jou dit sê. {32:8} Toe die Allerhoogste aan die nasies ‘n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel. {32:9} Want die HERE se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel.” 

Hierdie is ‘n merkwaardige gedeelte wat besonder moeilik is om te vertolk en gevolglik ewe moeilik is, onder leiding van die Heilige Gees (Ruach HaKodesh) natuurlik, om kommentaar op te lewer. Ek gaan egter poog om dit te verduidelik soos wat ek dit verstaan. 

Die grondliggende betekenis van hierdie verse kan verstaan word om te beteken dat toe God die grense van die land Kanaän bepaal het, het Hy dit gedoen met die bedoeling om dit uiteindelik as erfdeel aan die kinders van Israel te skenk. Toe Hy dus die grense bepaal het, het Hy die grootte van die bevolking van die kinders van Israel in oorweging geneem, deur die grense van die land Kanaän voldoende te bepaal om aan die kinders van Israel, op hulle mees bevolkte getal, verblyf te verskaf. Dit was my gevolgtrekking op grond van wat God aangaande die lande, wat aan die land Kanaän gegrens, gesê het. 

Deuteronomium / Devarim {2:4} “en gee aan die volk bevel en sê: Julle gaan trek deur die grondgebied van julle broers die kinders van Esau wat in Seïr woon, en hulle sal vir julle vrees; pas dan goed op; {2:5} begeef julle nie in die oorlog teen hulle nie, want Ek sal julle van hulle land selfs nie ‘n voetbreed gee nie; want Ek het aan Esau die gebergte Seïr as ‘n besitting gegee. “. 

Deuteronomium / Devarim {2:9} “Toe het die HERE vir my gesê: Behandel Moab nie as vyand en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van sy land as besitting gee nie, omdat Ek Ar aan die kinders van Lot as ‘n besitting gegee het. ”. 

Ons sien dus dat die kinders van Israel se grense volgens hulle bevolking bepaal is en hulle gevolglik geen lande wat aan die die land Kanaän gegrens het, kon versteur nie aangesien dit nie aan hulle gegee is omrede hulle dit nie nodig gehad het nie. 

Daar is egter ‘n ander betekenis waardeur ons hierdie Skrifgedeelte kan verstaan, veral in die lig van wat ons sien wat vandag in die wêreld plaasvind; lande word verdeel, skeurings vind plaas en nuwe lande en landsgrense word bepaal. Neem byvoorbeeld die voormalige land Joegoslawië, wat in die geskiedenis verdeel is in Slovenië, Masedonië, Kroasië, Serbië, Montenegro, Kosowo en Bosnië. Kon hierdie splitsing moontlik iets te doen gehad het met die bevolking van die kinders van Israel en die verdeling van God se erfdeel aan die kinders van Israel? Kan ons meer sodanige herskikking van landsgrense verwag namate die nasies van die wêreld daarin volhard om druk op Israel uit te oefen om ter wille van vrede, van sy land prys te gee? Slegs die tyd sal dit leer. Ons wéét egter dat Israel en die Joodse volk die appel van God se oog is! Daarom is dit seker: wat ook al met hulle gebeur, dit wil sê die wyse waarop hulle in sowel Israel as oor die wêreld heen behandel word, sal ‘n reaksie van God ontlok – óf positief óf negatief. 

Dit is waarlik verstommend dat die wêreldnasies nog nie tot die besef gekom het, dat wat met Israel en in Israel gebeur, die hele wêreld beïnvloed nie. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking