Sondag 09 September 2012

Die geheimenisse behoort aan God

9 September 2012 
D’Var Torah 
Julle Staan – Nitzavim 


Deuteronomium / Devarim {29:9} “Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet. ”. 

Daar is vele dinge aangaande God wat ons nie begryp nie. In die boek Job word dit baie beter gestel as wat ek kan, waar dit soos volg lui: 

Job / Iyov {38:4} “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. {38:5} Wie het sy afmetinge bepaal? —jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan? {38:6} Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê? {38:7} Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het? {38:8} En wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek, uit die moederskoot voortgekom het? {38:9} Toe Ek die wolk tot sy kleding gemaak het en die donkerheid tot sy windsel. {38:10} Toe Ek my grens daarvoor uitgebreek en grendel en deure gemaak het; {38:11} en gesê het: Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie; en hier word ‘n grens gestel vir jou trotse golwe. {38:12} Het jy, solank as jy lewe, die môre ontbied, die dageraad sy plek aangewys, {38:13} om die some van die aarde aan te gryp, sodat die goddelose daarvan afgeskud word? {38:14} Dit neem nuwe vorme aan soos die klei onder ‘n seël; en die dinge kry gestalte soos ‘n kleed. {38:15} En aan die goddelose word hulle lig ontneem, en die hoë arm word verbreek. {38:16} Het jy gekom tot by die bronne van die see? En het jy rondgewandel in die binneste diepte van die wêreldvloed? {38:17} Is die poorte van die dood vir jou ontbloot? En het jy die poorte van die doodskaduwee gesien? ”. 

Ons behoort dus nie so voortvarend te wees om voor te gee dat ons alles weet wat daar aangaande God en Sy Woord te wete is nie. Hy het ons beslis nie alles meegedeel nie en daar is baie dinge wat ons nooit sal begryp nie voordat ons Hom van aangesig to aangesig in die Hemel ontmoet nie. Dit wat ons egter wel weet, is dit waarvoor ons verantwoordelik is en juis dít is wat ek uit vandeesweek se Parasha graag wil bespreek. 

Baie mense is oordrewe besig met die sogenaamde bepaling van tye en datums, veral wanneer dit op die eindtye betrekking het. Ek word heel dikwels gekonfronteer met vrae aangaande die “wegraping” en die anti-Messias. Ofskoon ons wel inligting oor hierdie twee onderwerpe in die Bybel gegee word, weet ons nogtans nie alles nie en veel wat hieroor geleer word, is blote spekulasie. 

Selfs al beskik ons oor Skrifgedeeltes soos die volgende, verstaan ons dit in geheel glad nie: 

1 Korithiërs / Korintim Aleph {15:52} “in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.”. 

Nêrens in dé Skrifgedeelte word die woord “wegraping” vermeld nie en gevolglik is enige verwysing daarna spekulasie. Dit is hoegenaamd nie dat ek nie wil glo in die “wegraping” van die heiliges nie; inteendeel, sal ek graag wil glo dat die heiliges van God nie die verdrukkingstyperk moet verduur wat die wêreld sal moet ondervind wanneer die anti-Messias oor die aarde heers nie. Die kans hiervoor is egter betwyfelbaar. Dit is juis hierdie Skrifgedeelte wat my inspireer om aan die “wegraping” te twyfel: 

Jesaja / Yeshayahu {26:20} “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ‘n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan. {26:21} Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie. ”. 

Gaan God ons verberg wanneer die oordeelsdag oor die aarde aanbreek of gaan Hy ons van die aarde af wegneem vóór daardie tyd? Julle teologies eskatologie of gissings is seker net so goed soos myne! Ons móét begryp, wat in hierdie week se parasha aan ons meegedeel word: “Die verborge dinge is vir die HERE onse God;”. Laat ons dus nie spekuleer nie maar eerder voorbereid wees op één van die twee: die “wegraping” of om hier op aarde verberg te word. Laat ons egter onthou wat in hierdie week se parasha aan ons meegedeel word: “… maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet. ”.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking