2 September 2012
D’Var Tora
Wanneer Julle Gekom Het / Ke Tavo
Deuteronomium / Devarim {29:1} “Dit is die woorde van die verbond wat die HERE Moses beveel het om met die kinders van Israel te sluit in die land Moab, behalwe die verbond wat Hy met hulle by Horeb gesluit het. {29:2} En Moses het die hele Israel geroep en vir hulle gesê: Julle het self gesien alles wat die HERE in Egipteland voor julle oë aan Farao en aan al sy dienaars en aan sy hele land gedoen het, {29:3} die groot versoekinge wat jou oë gesien het, dié groot tekens en wonders. {29:4} Maar die HERE het julle nie ‘n hart gegee om te verstaan en oë om te sien en ore om te hoor tot vandag toe nie. {29:5} En Ek het julle veertig jaar lank in die woestyn laat trek; julle klere het aan julle nie verslyt nie, ewemin jou skoen aan jou voet. {29:6} Brood het julle nie geëet en wyn en sterk drank nie gedrink nie, dat julle kan weet dat Ek die HERE julle God is. {29:7} En toe julle by hierdie plek kom, het Sihon, die koning van Hesbon, en Og, die koning van Basan, uitgetrek ons tegemoet om te veg, maar ons het hulle verslaan {29:8} en hulle land ingeneem en dit as erfenis gegee aan die Rubeniete en Gadiete en aan die halwe stam van die Manassiete. {29:9} Onderhou dan die woorde van hierdie verbond en volbring dit, sodat julle voorspoedig kan uitvoer alles wat julle doen.”
Baie gelowiges in Jesus die Messias begryp nie ten volle waartoe hulle hul verbind het toe hulle Jesus as hul Heer en Redder aangeneem het nie. Parasha Ke Tavo bevat die verbonde ten opsigte van die lewenswyse wat Israel opgelê is om te volg en na te kom. Wat egter by vele gelowiges in Jesus die Messias ontbreek, is dat hulle nie volkome begryp dat toe hulle Jesus die Messias as hul Heer en Redder aangeneem het, hulle onderneem en aanvaar het om volgens al hierdie verbonde te lewe en hulle gevolglik onderworpe is aan die seëninge en vervloekinge wat die onderhouding aldan nie, daarvan inhou.
Romeine {11:17} “En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat ‘n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom, ”.
Die olyfboom simboliseer Israel, die natuurlike afgebreekte takke is die fisiese afstammelinge van Abraham (Avraham), Isak (Yitzchak), en Jakob (Ya’acov), terwyl die wilde takke op die nie-Joodse gelowiges in Jesus die Messias betrekking het. Lees wat in die volgende vers geskrywe staan:
Romeine {11:18} “moet dan nie teen die takke roem nie; en as jy roem dit is nie jy wat die wortel dra nie, maar die wortel vir jou... “
Indien ons hierdie verse saamlees met die volgende Skrifgedeelte, kan ‘n mens begin om te begryp wat Paulus sê:
Efésiërs / Efesos {2:12} “dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. {2:13} Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. {2:14} Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het …”.
Wat hier aan ons meegedeel word is dat gelowige nie-Jode, deur hulle geloof in Jesus die Messias, mededeelgenote van die verbondbeloftes word. Paulus gaan dan verder deur te sê:
Efésiërs / Efesos {3:5} “wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik {3:6} dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie…”.
Nie-Joodes gelowiges wat, deur hulle geloof in Jesus die Messias as’t ware by Israel ingeënt is, word onlosmaaklik deel van Israel – onafskeidbaar, onwaarneembaar; die twee wat één geword het. Die skeidsmuur, naamlik hulle ongeloof en uitsluiting uit die Verbond, is afgebreek en hulle is nou één met Israel.
Eksodus / Shemot {12:49} “Een wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef. ”.
Voordat ek gered is, was ek ‘n natuurlike tak vanweë die ongeloof van my voorouers. Toe ek egter Jesus die Messias as my Heer en Redder aangeneem het, het ek my met die Verbond verbind, soos in parasha Ke Tavo en in die hele Tora uiteengesit. My “handtekening” is deur die kosbare bloed van Jesus die Messias op hierdie Verbond aangebring. Net so die nie-Jode, wat Jesus die Messias aangeneem het as hulle Heer en Redder, is as ‘n nie-natuurlike tak, ook op dieselfde boom “ingeënt”. Daarom het hulle ook deur die bloed van Jesus die Messias, hulle “handtekening” op die Verbond, aangebring. Die skeidsmuur tussen die Joodse gelowiges en die nie-Joodse gelowiges is afgebreek omdat ons albei in Israel “ingeënt” is. Die nie-Joodse gelowige (Christen) het net soos die Joodse gelowige op dieselfde Verbond geteken en op grond daarvan, is hulle net so onderworpe aan al die bepalings en voorwaardes daarvan.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking