D’Var Torah
Sarah het gelewe – Chaye Sara
Genesis / Bereshit {23:2} “En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween. {23:3} Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het gespreek en gesê: {23:4} Ek is 'n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my 'n graf as besitting by julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe.”.
Genesis / Bereshit {23:16} “Toe luister Abraham na Efron, en Abraham het aan Efron die geld afgeweeg waarvan hy gespreek het voor die ore van die seuns van Het-vier honderd sikkels silwer gangbaar by die koopman. {23:17} So het dan die stuk grond van Efron wat in Magpéla teenoor Mamre lê, die stuk grond en die spelonk wat daarin is, en al die bome op die stuk grond wat op die ganse gebied daarvan rondom staan, {23:18} die eiendom van Abraham geword voor die oë van die seuns van Het, voor almal wat in die poort van sy stad ingegaan het. {23:19} Daarna het Abraham toe sy vrou Sara begrawe in die spelonk van die stuk grond van Magpéla, oostelik van Mamre, dit is Hebron, in die land Kanaän. {23:20} So is dan die stuk grond en die spelonk wat daarin was, deur die seuns van Het aan Abraham afgestaan om dit as graf in eiendom te besit.”.
Ek wil graag aan twee sake uit hierdie twee Skrifgdeeltes, aangehaal uit dié week se parasha, aandag skenk. In die eerste groep Skrifgedeeltes word vertel dat Sarah gesterf en Abraham gekom het om oor haar rou te beklaag. Die feit dat Abraham gekom het om oor haar rou te beklaag, veronderstel dat hulle met haar afsterwe nie op dieselfde plek was nie. Aangesien ‘n reis destyds nie was soos dit vandag is nie, is dit dus onmoontlik om te bepaal hoe lank dit Abraham moes geneem het om die plek van Sarah se afsterwe te bereik. Juis om hierdie rede, glo ek, verstrek die Skrif aan ons dié woorde van Abraham: “…dat ek die dode van my af weg kan begrawe.”.
Soos ons verneem het, was Sarah ‘n pragtige vrou en na my mening is dit hoe Abraham haar graag wou onthou. Sy was nou dood en weens ‘n gebrek aan hedendaagse verkoelingsgeriewe en dit toe ook nie prakties moontlik was om haar te balsem nie, kon Sarah se ontbindende liggaam en doodsreuk beslis nie aangenaam gewees het nie. Derhalwe kan ek begryp waarom Abraham haar so spoedig moontlik voor sy aangesig wou weghê. Hierdie waarheid bewys ook hoe bedorwe ons sterflike liggame is. Daar is niks goeds aan ons vlees nie; trouens, dit is die speelgrond van die duiwel. Eenhonderd persent van al ons sonde is as gevolg van ons vlees: begeerte van die oë, wellus van die vlees, lewenstrots. Juis om hierdie rede leer die Skrif ons:
Romeine / Romim {8:3} “Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, {8:4} sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”.
Die volgende saak wat ek wil oorweeg, handel oor die vraag: “Waarom het Abraham verkies om Sarah in Kanaän te begrawe?”. Ek meen die feit dat Abraham verkies het om haar dáár te begrawe, illustreer weereens sy geloof in die belofte van God. God het Abraham belowe dat Hy aan hom hierdie land as ‘n besitting gee. Ofskoon Abraham nooit die vervulling van daardie belofte beleef het nie, sou hy tog. Eendag, met die opstanding, sal Sarah opstaan uit hierdie plek in Hebron – nie net sy nie, aangesien Abraham, Isak, Ragel, Jakob en Lea ook daar begrawe is. Dit word selfs deur die rabbi’s gemeen dat Adam en Eva dieselfde plek deel. Waarom is die aartsvaders en vermoedelik ook Adam en Eva in die land Kanaän begrawe? Die rede, volgens my mening, is dat met die opstanding, hulle in hulle vlees die vervulling van God se belofte sal aanskou.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking