Sondag 11 November 2012

Jou Geboortereg Verag

11 November 2012 
D’Var Torah 
Geskiedenis – Toledot 


Romeine / Romim 9:1 – 13

Genesis / Bereshit {25:30} “Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem. {25:31} En Jakob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my. {25:32} En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan? {25:33} Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. {25:34} En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag. ”. 

‘n Mens is alte geneig om Esau te kritiseer oor so ’n dwaasheid soos om sy geboortereg te verkoop. Hy was ongetwyfeld honger, maar was hy werklik tot die dood toe honger? Ek dink nie so nie! Na my mening het sy vlees bloot die oorhand oor hom gekry. Die lensie gereg het heerlik geruik, smaaklik gelyk en hy was honger. Sommige mense sal enigiets sê om te verkry wat hulle wil hê. Kan julle eerlik sê dat julle dit nog nooit gedoen het nie? Boonop is ek seker dat Jakob in hierdie omstandigheid ook nie geheel-en-al onskuldig was nie; trouens, hy het nie sommer uit die bloute met die “verkoop aan my jou geboortereg”-eis gekom nie. Dit was iets waaraan hy waarsynlik lankal reeds gedink en moontlik beplan het. Ek is daarvan oortuig dat Esau nie doelbewus sy geboortereg verag het nie, andersins sou hy daarna nie so berou oor sy daad gehad het en woede teenoor sy broer gekoester het nie. Anders as in die geval van Jakob, was dit met Esau ‘n besluit wat hy impulsief geneem het. Dit is egter nie die punt wat ek wil maak nie: die punt is dat versoeking die oorhand oor Esau gekry en hy gevolglik dadelik daaraan toegegee het. 

Dink gerus daaroor na aangesien hierdie presiese scenario sigself moontlik herhaaldelik vandag in die lewens van gelowiges in Jesus die Messias afspeel. Miskien het dit selfs met julle al gebeur! Wanneer ons in Jesus die Messias weergebore word, ontvang ons ‘n geboortereg. Daardie geboortereg is verlossing wat die belofte van ewige lewe inhou terwyl ons die wedren van ons geloofslewe aflê, met die vaste voorneme om te oorwin. 

1 Korinthiërs / Korintim Aleph {9:24} “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal. {9:25} En elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles—húlle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike. {9:26} Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. {9:27} Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.”. 

Sommige van ons kom egter maklik in versoeking. Net soos Esau, gee ons toe aan die begeerte van ons oë en ons vlees, veral in tye van swakheid. Juis om dié rede, leer ons hier by Melech Yisrael om jouself nooit in situasie te laat beland wat daartoe mag lei dat jy in gevaar verkeer om aan versoeking toe te gee nie. Enkellopendes van die teenoorgestelde geslag behoort nooit saam alleengelaat te word nie, selfs nie eers verloofdes nie. ‘n Getroude persoon behoort ook nooit sonder sy / haar gade alleen in die geselskap van ‘n persoon van die teenoorgestelde geslag te verkeer nie, of dié persoon nou ookal getroud is aldan nie. In elke situasie moet ons op ons hoede wees om nie in versoeking gestel te word of selfs die indruk van boosheid te skep nie. 

1 Petrus / Kefa Aleph {5:8} “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. ”. 

Talle gelowiges in Jesus die Messias het al aan versoeking toegegee en hulle geboortereg vir seks, geld, ‘n partytjie, dwelms, ens. verkoop. Hulle het geensins beplan om hulle geboortereg te verkoop nie – dit het soos in Esau se geval op die ingewing van die oomblik plaasgevind. Kom ons leer iets hieruit: Nadat Esau sy geboortereg verkoop het, kon hy dit nie terugkry nie, dit was te laat. Hy het wel ‘n seëning ontvang en was geseënd in sy lewe, maar hy het sy posisie (as eersgeborene) verloor en moes die tweede plek inneem. Is dit wat julle werklik verlang? 

1 Korinthiërs / Korintim Aleph {10:11} “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het. {10:12} Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”. 

Mag dit nóóit van julle “(vul jou naam hierin)” gesê word, “het sy / haar geboortereg verag nie” nie. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking