D’Var Torah
Dit het plaasgevind / Miketz
Genesis / Bereshit {41:14} “Toe laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis uitgehaal, en hy het hom geskeer en ander klere aangetrek; en hy het by Farao gekom. {41:15} Toe sê Farao vir Josef: Ek het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy 'n droom net hoef te hoor om dit uit te lê. {41:16} En Josef het Farao geantwoord en gesê: Niks vir my nie! God sal Farao 'n gunstige antwoord gee.”.
Ons bevind onsself dikwels in ‘n situasie waarvoor klaarblyklik geen oplossing bestaan nie – ‘n probleem, wat volgens menslike oorweging onmoontlik blyk om ongeskonde daarvan af te kom. Ek is daarvan oortuig dat baie van ons al in soortgelyke situasies verkeer het – hopelose situasies met hoegenaamd geen gunstige vooruitsigte nie. Ek noem dit verloorsituasies, wat slegs erger of selfs onoorkomlik kan word.
Ek meen dat ons as gelowiges in Jesus die Messias, almal kan terugkyk, voordat ons tot bekering gekom het, en tye in ons lewens onthou waar ons voor situasies, soos hierbo vermeld, te staan gekom het. Noudat ons egter gered is, besef ons dat God selfs in sulke onmoontlike situasies, Sy hand oor ons gehou het.
In my jongdae het ‘n vriend en ek eendag oor “Cape Cod”-baai, Massachusetts, gaan seil. Ons het vanaf Plymouth na “Cod”-baai gevaar – dit was ‘n pragtige helder sonskyndag met slegs ‘n ligte bries wat die water effens laat dein het. Vol selfvertroue dat alles sou goed gaan en met volle vertroue in my vermoë om te seil asook in die boot wat ek besit het, het ons die vaart aangepak. Halfpad oor die baai – op ‘n punt wat ek sou dink, ons nie kan omdraai nie, het die wind egter begin waai. Aanvanklik het dit my bemoedig omdat dit ons vinniger laat seil het, maar binne minute het die wind stormagtig begin raak. Die baai het verander van ‘n deining na ‘n ontstuimige see met gepaardgaande stortende reën. Ongelukkig het ek die betrokke oggend, vóór ons vertrek, nie na die weervoorspelling geluister nie en eers heelwat later besef dat ‘n tropiese storm vanuit die suide opbeweeg en die hele gebied met erge wind en reën geteister het. Water was besig om in ons boot in te stroom en omdat die kuslyn heeltemal onsigbaar geraak het, was ek bevrees dat ons van koers af gewaai en in die ope see sou beland, waar die omstandighede selfs erger sou wees. Ons het met alle mag probeer om verder te seil sonder om te weet waar ons was of hoe ver ons was om veiligheid te bereik. Die boot het boonop dikwels gedreig om om te slaan. In die verte het ons later ‘n kuswagboot gewaar maar elke poging om aandag te trek, het misluk – ons het gevoel asof ons oorgelaat is om te sterf. Hoe ons egter daarin geslaag het om eindelik die oorkantste oewer te bereik, kan ek nie verklaar nie. Wanneer ‘n mens hieroor terugdink, besef ek net dat God ons gered het. Hy het nog ‘n plan (redding) vir my lewe gehad en dit was bloot nog nie my tyd om te sterf nie.
God alleen kan ons uit onmoontlike situasies red en net so kon slegs Hy bereik wat Hy met Josef gedoen het. Geen omstandighede kon méér hopeloos en ontmoedigend as syne gewees het nie – verlate in die gevangenis, met geen kans op parool nie, vergete deur diegene aan wie hy hulp verleen het, sonder vriend of familie. Nogtans, uit die bloute en op één dag het God alles in Josef se lewe verander.
Genesis / Bereshit {41:37} “En die woord was goed in die oë van Farao en van al sy dienaars. {41:38} Daarop het Farao aan sy dienaars gesê: Kan ons wel iemand vind soos hierdie man in wie die Gees van God is? {41:39} En Farao sê vir Josef: Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het, is daar niemand verstandig en wys soos jy nie. {41:40} Jy moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik; alleen deur die troon sal ek groter wees as jy. {41:41} Verder het Farao vir Josef gesê: Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipteland. {41:42} Toe trek Farao sy seëlring van sy hand af en sit dit aan die hand van Josef; en hy het hom fyn linneklere laat aantrek en die goue ketting om sy hals gehang {41:43} en hom laat ry op sy tweede rytuig; en hulle het voor hom uitgeroep: Pas op! So het hy hom dan oor die hele Egipteland aangestel. {41:44} En Farao sê vir Josef: Ek is Farao, maar sonder jou mag niemand sy hand of voet in die hele Egipteland verroer nie.”.
Ek weet nie wat julle omstandighede vandag is nie, maar ek is oortuig daarvan dat dit nie hopeloos is nie. God is by magte om dÍt wat menslik onmoontlik skyn te wees, om te keer sodat dit tot julle voordeel en Sy eer kan strek. Julle moet net in Hom glo, Hom vertrou en volhard in die geloof. Wat Hy vir Josef gedoen het, kan en wil Hy ook vir julle doen.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking