D’Var Torah
En Hy Het Gelewe – Vayechi
Genesis / Bereshit {47:27} “So het Israel dan in Egipteland gewoon, in die land Gosen; en hulle het vaste besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder. {47:28} En Jakob het sewentien jaar in Egipteland gelewe, sodat die dae van Jakob, die jare van sy lewe, honderd sewe en veertig jaar was. {47:29} En toe die dae van Israel nader kom dat hy moes sterwe, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: As ek nou guns in jou oë gevind het, sit dan tog jou hand onder my heup en bewys my liefde en trou—begrawe my tog nie in Egipte nie. {47:30} Wanneer ek met my vaders ontslaap het, bring my dan weg uit Egipte en begrawe my in hulle graf. En hy antwoord: Ek sal handel ooreenkomstig u woord.”
Dit was vir my nie nodig om veel verder te lees ten einde ‘n baie belangrike beginsel, opgeteken in hierdie week se Parasha, te vind nie.
Ons lees hier dat toe Jakob ‘n voorgevoel van sy naderende dood gehad het, hy sy gunstelingseun ontbied en aan hom te kenne gegee het die wyse waarop sy begrafnis moes geskied. As onderkoning van Egipte, tweede in beheer naas die farao self, sou Josef die middele en gesag gehad het om sy vader se wense uit te voer.
Wat is dus die beginsel wat ons hier uit ‘n les kan leer? As ‘n Messiaanse rabbi, is een van my pligte en die minder aangename, om tydens begrafnisse op te tree. Ek onthou nog die geval van ‘n geliefde lidmaat van die gemeente wat gesterf het. Voor sy dood het hy aan my sy begeerte bekendgemaak dat, indien hy sterf ek by sy begrafnis moes optree. Hierdie persoon het hoegenaamd nie ‘n voorgevoel van sy naderende dood gehad nie en het inteendeel toe nog goeie gesondheid geniet. Hy wou my net daarvan bewus maak dat ingeval hy sterf, ek die begrafnis volgens die Messiaans-Joodse gebruik laat geskied.
Hierdie persoon het familielede gehad wat ek al dikwels ontmoet het. Hy was ongetwyfeld die hoof van sy familie en ‘n besondere agressiewe, charismatiese mens. Hy was egter die enigste Messiaanse gelowige in die familie. Aangesien hy baie jare reeds ‘n gemeentelid was, sou ‘n mens aanvaar het dat hy sy laaste wense met sy familie sou bespreek het. Hy was ook ‘n voorspoedige sakeman, van wie mens sou verwag het dat hy oor ‘n testament beskik het waarin sy begrafnisvoorkeure uiteengesit sou gewees het.
Toevallig het hy skielik baie siek geword, is kort daarna oorlede en gegaan om by die Here te wees. Ek het vanselfsprekend so gou doenlik met sy familie in verbinding getree om die nodige begrafnisreëlings te tref. Tot my grootste verbasing het geeneen van die familie sy finale wense, soos hy my meegedeel het, uitgevoer nie. Hulle het inteendeel voortgegaan met ‘n Katolieke begrafnis, terwyl hulle my sowel as enige iemand anders in ons gemeente uitgesluit het van enige deelname aan die verrigtinge. Ons het geen beheer gehad oor wat sou plaasvind nie en mede-gemeentelede, wat oor die jare heen hegte verhoudings met hom opgebou het, is nie genooi om lofredes te lewer nie.
Toe ek teenoor die familie beswaar aangeteken het, is ek as’t ware opsy gestoot en meegedeel dat geen instruksies aan hulle gegee is of deur hom opgeteken is dat hy ‘n Messiaans-Joodse begrafnis versoek het nie.
Dit is nou juis die punt. Ons almal gaan eendag sterwe – met die uitsondering van die wegraping, gaan geeneen die planeet lewendig verlaat nie. Jakob het geweet sy dood was op hande en dus het hy seker gemaak dat sy wense oor waar hy begrawe wou word, bekend was. Indien Jakob dit nie met Josef bespreek het nie, is ek oortuig daarvan dat hy, die onderkoning van Egipte, ‘n staatsbegrafnis vir sy vader in Egipte sou gereël het.
Laat ons ‘n les leer van Jakob en uit hierdie Parasha. Ons tref hier ‘n baie belangrike praktiese voorbeeld aan, wat ons moet oorweeg en ter harte neem. Indien jy nie oor ‘n testament beskik nie, moet jy een (laat) opstel, waarin uitdruklik bepaal word waar en hoe jy begrawe wil word. Aangesien die inhoud van testamente dikwels eers na begrafnisse bekendgemaak word, moet ‘n afskrif van jou begrafnis-instruksie, behoorlik deur getuies onderteken, aan jou trustee(s) of instansie wat jy verkies om jou begrafnis te onderneem, oorhandig word. Moet nie met jou laat gebeur, soos met die persoon hierbo die geval was nie, want dan sal jou familie na goeddenke handel, sonder inagneming van jou geloof en laaste wense.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking