D’Var Torah
En Hy Het Nadergekom – Vayigash
Genesis / Bereshit {44:31} “sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal. {44:32} Want u dienaar het die seun deur borgskap van my vader verkry deurdat hy gesê het: As ek hom nie na u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig staan. {44:33} Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun my heer se slaaf bly, en laat die seun saam met sy broers optrek. {44:34} Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar net die ellende nie aansien wat my vader sal tref nie!”.
Beslis ‘n beeld van regstreekse plaasvervanging: Juda bied homself vrywilliglik aan as plaasvervanger vir sy broer Benjamin. Benjamin se oorspronklike naam was Benoni, wat “Seun van my pyn” (so het sy moeder hom met sy geboorte genoem) beteken. Sy het hierdie naam gekies vanweë die pyn wat sy tydens sy geboorte verduur het en uiteindelik haar dood veroorsaak het. Benoni is inderwaarheid ook ‘n beeld van die kinders van Israel, want hulle was ongetwyfeld meeste van die tyd ongehoorsaam, hardnekkig en het ander gode aanbid – dus het hulle hul hemelse Vader veel pyn besorg. Juda, soos ons weet, beteken “Lofpryser van God” en dit is uit die stam van Juda wat Jesus die Messias gekom het. In ons verhaal is Juda ‘n voorstelling van Jesus die Messias. Jakob is ‘n voorstelling van God, die Vader, ten behoewe van wie Juda besig is om op te tree. Egipte, in die Skrif, stel die wêreldgesindheid met sy gepaardgaande dekadensie en materialisme voor. Dus kan ons ‘n betekenisvolle beeld hieruit sien te voorskyn tree.
Benoni was gevange gehou in Egipte, as straf vir sy sonde (hy is betrap met die onderkoning se drinkbeker in sy sak vol graan). Juda tree na vore en ter wille van sy vader, bied hy homself aan as plaasvervanger vir Benoni: daardeur sou hy vir sy broer instaan, die aanklagte op hóm neem asook die straf wat sy broer opgelê sou word. Ek vertrou werklik dat julle sal kan besef wat ek hier verduidelik aangesien dít die Evangelie is. Ons sien hier in beeldvorm die reddingsplan. Wie beweer dat die Evangelie nie in die Tora voorkom nie? Het Jesus nie gesê:
Johannes / Yochanan {5:46} “Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe. {5:47} En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?”.
Volgens hierdie Skrifgedeelte, kom nie net die Evangelie in die Torah voor nie, maar alles wat daar aangaande Jesus te wete is, word vervat in die woorde van die Tora, soos deur Moses geskryf is; trouens, Jesus is die Lewende Tora.
Vanweë hulle hardnekkige ongehoorsaamheid, was die kinders van Israel ver van God af. Hulle het dít van die oë, maar nie van die gees nie, nagejaag: wêreldgesindheid, mag en materialisme het hulle verhouding met God verbreek. Hulle was inderdaad “Die Seun van my Pyn” vir God en dit was juis na hierdie mense wat God Sy Seun (vleeswordende God) gestuur het, na die wêreld om húlle sonde op Homself te neem.
Ons persoonlike situasie was ook hopeloos. Ons was vasgevang deur ‘n wêreldstelsel, wat skoonheid, seks en materialisme nagejaag het, waarvan Egipte tipies was en ons het dit nagevolg en daaraan verslaaf geraak. So het ook ons God se “Seun van my Pyn” geword. As dit nie was dat God iets goeds in ons gesien het nie, sou ons in ons sonde omgekom en die ewigheid in die hopeloosheid van die hel moes deurbring, maar 200 jaar gelede het God Sy Seun, Jesus die Messias, na hierdie wêreld gestuur om ons direkte plaasvervanger te wees. Hy het die straf vir óns sonde op Hom geneem.
Romeine / Romim {5:6} “Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. {5:7} Want nouliks sal iemand vir ‘n regverdige sterwe vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe {5:8} maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking