D’Var Torah
En hy het geleef / Vayeshev
Genesis / Bereshit {37:8} “ Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde. {37:9} Daarna het hy nog 'n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: Kyk, ek het nog 'n droom gehad-die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig. {37:10} Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê: Wat is dit vir 'n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig? {37:11} En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.”.
Genesis / Bereshit {37:17} “Toe sê die man: Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het hulle hoor sê: Laat ons na Dotan gaan. En Josef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gevind. {37:18} En hulle het hom van ver af gesien. Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak. {37:19} En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan! {37:20} Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: 'n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word.”
Afguns is ‘n lokval wat ons van ons vergenoegdheid beroof.
Filippense / Pilifim {4:11} “Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.”.
Skynbaar is afguns ‘n dryfkrag in die lewens van baie mense. Dit dryf hulle om mededingend, hardwerkend en suksesvol te wees – ‘n mens sou dus verwag dat so ’n motivering “iets goeds” sou wees. Dit is egter glad nie die geval nie, omdat, soos ons uit ons Skrifgedeelte sal sien, afguns tot wrok en dÍt tot teenspoed kan lei, soos in die geval van Josef.
Wat lê aan die kern van afguns? Dit is die mening dat ons beter verdien as dit waaroor ons reeds beskik. In Matthéüs (Mattityahu) hoofstuk 20 verse 1 – 16 (lees dit asseblief in julle Bybels) gebruik Jesus ‘n gelykenis betreffende afguns en hierdeur verduidelik Hy God se standpunt daarteenoor. Het julle begryp waaroor die werkers so kwaad was? Hulle het dit as onregverdig beskou dat mense, wat korter ure as hulle gewerk, dieselfde loon as hulle ontvang het. Dit het nie vir hulle saak gemaak dat hulle ontvang het waartoe hulle saamgestem het nie en dit inderwaarheid die grondeienaar se geld was om mee te doen soos wat hy goedgedink het. Hulle was van mening dat hulle méér verdien het aangesien die ander werkers korter ure as húlle gewerk het. Hulle was dus afgunstig.
Waarop ek graag wil wys, is dit: wanneer ons afgunstig voel, besef ons dit dikwels nie. Ons meen dat ons dit verdien en gevolglik is wat ons ookal moet doen om dit te verdien, in ‘n sekere opsig geregtig – of dit nou ookal uitloop op die vernietiging van vriendskap, ons werk of ons families. Alles net omdat dit regverdig is dat ons ontvang wat óns meen, ons verdien.
Spreuke / Mishlei {14:30} “n Rustige hart is die lewe vir die vlees, maar hartstog 'n verrotting vir die gebeente.”.
Indien julle nie vergenoegd is nie, is dit beslis ‘n teken van afguns. Moontlik is julle nie afgunstig op dit wat ‘n buurman of vriend besit, of op iets wat julle in ‘n winkel of op ,n advertensie op televisie gesien of oor die radio gehoor het nie. Adverteerders is mees suksesvol indien hulle by ‘n mens ontevredenheid met dit wat jy besit of ‘n besondere begeerte om meer te hê as wat jy het, kan skep. Eweneens is hulle mees geslaagd wanneer hulle daarin geslaag het om ‘n mens te oortuig dat dit wat jy het, onvoldoende is. Hoe dit ookal is, as julle nie tevrede is met dit wat julle het of wie julle is of wáár julle is of wat julle doen nie, swelg julle in die sonde van afguns en die eindresultaat van afguns gaan altyd lei to onvergenoegdheid en eerlank sal julle van julle geluk beroof wees. Julle sal altyd méér as wat julle het, begeer – julle sal nooit vergenoegd wees nie.
Hóé vergenoegd is julle? Hoe dankbaar is julle vir julle werk, julle werkgewers, julle huis, julle gesin, julle lewe? Indien julle nou sê “Ja, ek is dankbaar vir my huis … MAAR ….”, of vir my man / vrou … MAAR …, dan ly julle ongetwyfeld aan ‘n afgunsprobleem wat heel moontlik op rampspoedige gevolge gevolge kan uitloop.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking