Sondag 24 Maart 2013

Ons het alleenlik Sy teenwoordigheid by ons

D’Var Torah 
Paasfees (Pasga) – Pesach 

Deuteronomium / Devarim 14:22 – 16:17

Eksodus/ Shemot {34:18} “Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou; sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Abib; want in die maand Abib het jy uit Egipte uitgetrek.”. 

Behalwe hierdie vers, word geen direkte melding van Paasfees elders in hierdie week se parasha-lesing gemaak nie. Ek meen egter dat die rabbi’s spesifiek hierdie gedeelte gekies het as belangrik vir Paasfees omdat dit so op Eksodus betrekking het – die tema van Paasfees. Dit bevat ook inligting aangaande Moses se tweede tog op na berg Sinaï en die tweede stel kliptafels (tien gebooie / Aseret Ha Dibrot), die hoofrede waarom die kinders van Israel deur God in die woestyn ingelei is. Ek het verkies om op die volgende verse uit vandeesweek se parasha kommentaar te lewer. 

Eksodus / Shemot {33:12} “Toe het Moses met die HERE gespreek: U sê nou wel aan my: Ek moet hierdie volk laat optrek, maar U laat my nie weet wie U saam met my sal stuur nie, hoewel U gesê het: Ek ken jou by die naam, en jy het ook genade in my oë gevind. {33:13} As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. En bedink tog dat hierdie nasie u volk is.”. 

Ek vind wat ons hier lees, tipies van God se handelswyse met ons. Hy gee aan ons opdragte en verwag dat ons dit uitvoer maar verduidelik nie altyd hoe ons te werk moet gaan nie. Dikwels hoor ons van God maar weet nie wat om te doen nie. Ek het, trouens, al baie mense wat hierdie ervaring ondervind het met raad bedien en dit as besonder frustrerend ervaar. Dit was waarskynlik ook vir Moses frustrerend. Hier was hy in die middel van nêrens met bykans twee miljoen mense wat van hom afhanklik was om hulle te lei, maar hy was gefrustreerd omdat hy geen duidelike leiding van God ontvang het nie. Jy het moontlik nie duisende mense wat op jou aanwysings wag nie, maar ek is oortuig daarvan dat wanneer jy jouself in ‘n situasie bevind het, waar jy van God gehoor maar geen uitdruklike aanwysings ontvang het nie, jy net so gefrustreerd was. 

Wat is dan die oplossing? Dieselfde as wat God aan Moses verstrek het: 

Eksodus {33:14} “En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf?”. 

Ons het nie gedetaileerde aanwysings nodig oor hoe om iets, wat God aan ons opgedra het, uit te voer nie – slegs Sy teenwoordigheid by ons is al wat ons benodig. God het ons nie geskep om robotte te wees nie. Hy verwag van ons om Sy opdragte te aanvaar en met die uitvoering daarvan voort te gaan. Ons móét daarvan bewus wees dat Sy teenwoordigheid altyd by ons is. God sal ons lei en ons deurentyd stap-vir-stap die weg aanwys. Dit herinner my aan die gesegde: “’n Reis van ‘n duisend myl, begin met die eerste enkele tree.”. 

God se belofte is: 

Hebreërs / Ivrim {13:5} “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”. 

Daar is egter één waarskuwing wat ons altyd in gedagte móét hou: 

2 Kronieke / Divrei Hayyamim Bet {15:2} “... Die HERE is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking