Sondag 31 Maart 2013

God se weg of ons weg

D’Var Tora 
Agste – S’hemini 
God se weg of ons weg 




Levítikus / Vayikra {10:1} “En die seuns van Aäron, Nadab en Abíhu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie. {10:2} Daarop het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE. ” 

Hierdie is nie die enigste mense wat God oombliklik laat sterf het nie. Ons het ook ‘n verdere voorbeeld in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha): 

Handelinge {5:1} “Maar ‘n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra ‘n eiendom verkoop, {5:2} en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en ‘n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê. {5:5} En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ‘n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het. {5:10} Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe. ” . 

Ek het al dikwels gewonder of God vandag nog so ’n iets doen. Alhoewel dié gevalle miskien selde voorkom – soos ook in Bybelse tye – is ek oortuig dat God, wat nooit verander nie en gister, vandag en vir ewig dieselfde is, steeds mense oombliklik laat sterf. Die vraag ontstaan egter: wat gebeur met hierdie mense ná hulle dood? Gaan hulle hemel of hel toe? Ek het al dikwels gewonder wat die uiteindelike bestemming van mense wat deur God met die dood getref of gedood is soos die profeet, wat nie God se opdragte gehoorsaam het nie en aangeteken staan in: 

1 Konings / Melachim Alef {13:24} “en hy gaan weg; toe kom ‘n leeu hom teë op die pad en maak hom dood. En sy lyk het neergewerp op die pad bly lê, terwyl die esel daarlangs staan en die leeu ook langs die lyk bly staan. ”. 

Hoe meer ek oor hierdie vraag gedink het, hoe meer het ek gevoel dat die antwoord voor die hand liggend is. Die hemel is ‘n glorieryke plek; trouens, dit word die paradys genoem en as ons aan die paradys dink, assosieer ‘n mens dit met deurlugtigheid, skoonheid en vreedsaamheid. Dit sou dus vir God teenstrydig wees om iemand met die dood te tref vir sy / haar ongehoorsaamheid en hulle tog in die paradys in te lei. Nee, ek glo dat elke mens in die Bybel aangeteken sowel as diegene wat nie aangeteken is nie, wat op een of ander wyse so deur God met die dood getref is, nooit die hemel binnegegaan het nie, maar inteendeel in die hel beland het. 

Dit is inderdaad ‘n ontnugterende gedagte wanneer ‘n mens daaraan dink dat die profeet wat God deur ‘n leeu laat omkom het, verlei is tot ongehoorsaamheid. Hoeveel gelowiges is al bedrieg deur vriende, pastore, rabbi’s en Bybelonderwysers – almal mense met goeie bedoelings maar was gevolglik in ‘n geringe opsig aan God ongehoorsaam gewees? Daar is ‘n hel om vermy te word en ‘n Hemel om verwerf te word. Die ganse ewigheid hang in die skaal en die keuse is ons s’n. Daar is slegs twee moontlike keuses: God se weg of ons weg en jy kan verseker wees dat ons s’n die verkeerde weg is! 

Spreuke / Mishlei {14:12} “Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood. ”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking