Sondag 03 Maart 2013

Die nuwe Jerusalem en die twaalf poorte

D’Var Torah 
Vayakhel - Pekude


Eksodus / Shemot {39:2} “En hy het die skouerkleed gemaak van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne. {39:3} En hulle het van die goud dun plate geslaan, en hy het dit in drade gesny om dit in te werk in die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en in die fyn linne—’n kunstige werk. {39:4} Hulle het daar skouerstukke aan gemaak wat aan mekaar vas was; aan die twee bo-ente was dit saamgevoeg. {39:5} En die band wat daaraan was om dit vas te bind, was daarmee saam uit een stuk, van dieselfde werk, van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, soos die HERE Moses beveel het. {39:6} Hulle het ook die oniksstene gemaak, vasgesit in kassies van goud, gegraveer soos op ‘n seëlsteen ingesny word, volgens die name van die kinders van Israel. {39:7} En hy het hulle op die skouerstukke van die skouerkleed bevestig as gedagtenisstene aan die kinders van Israel, soos die HERE Moses beveel het. ”. 

Toe ek hierdie verse gelees het, het iets besonder interessant my opgeval. Die hoëpriester (cohen haGadol) het twee oniks-stene, gemonteer in goud op sy skouers gedra, waarop die name van die kinders van Israel (die twaalf stamme) gegraveer was, as gedenkstukke voor God. 

Hierdie skouerstukke hou, na my mening verband met die juk wat Jesus vir ons gedra het. Toe Hy na die kruis gegaan het, het ons as’t ware jukke met Hom geruil. Jesus het óns swaar juk van sonde op Hom geneem en in ruil Sy juk, wat lig is aan ons gegee. 

Jesaja / Yeshayahu {53:4} “Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.”. 

Matthéüs / Mattityahu {11:28} “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. {11:29} Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; {11:30} want my juk is sag en my las is lig. ”. 

Nou kom dit daarop neer dat Jesus, as ons Hoëpriester, ons name op Sy skouers dra as gedenkstukke voor God. 

Daarom het dit my egter bygeval: die hoëpriester na wie daar in ons parasha verwys word, wat die name van die kinders van Israel gedra het, het nie elke individuele naam gedra nie, maar slegs die twaalf stamme, waaraan elke individu behoort het. Wat het dan gebeur met die gemengde skare wat saam met die kinders van Israel uit Egipte getrek het? Indien hulle verkies het om soos die kinders van Israel te lewe en met hulle te vereenselwig deur aan ‘n stam te behoort, sou hulle as’t ware ook op die skouers van die hoëpriester gedra word en dus deel van die gedenkstukke voor God wees. 

Toe het ek aan hierdie Skrifgedeelte gedink: 

Esegiël / Yehezqel {47:22} “En julle moet dit as erfenis laat toeval aan julle en aan die vreemdelinge wat onder julle vertoef, wat kinders onder julle verwek het; en hulle sal vir julle wees soos ‘n kind van die land onder die kinders van Israel; saam met julle moet hulle ‘n erfdeel ontvang onder die stamme van Israel. {47:23} En in die stam waar die vreemdeling by vertoef, daar moet julle hom sy erfdeel gee, spreek die Here HERE. ”. 

Met die eerste oogopslag, het dit my vraag aangaande die vreemdelinge wat verkies het om onder die kinders van Israel te woon, beantwoord en het ek tot die gevolgtrekking gekom dat diegene wat verkies het om nie by ‘n stam aan te sluit nie, swerwers (reisigers sonder bande met Israel) sou wees. Ek was aanvanklik tevrede met hierdie antwoord totdat ek verder navorsing gedoen het en die volgende verse gelees het.

Openbaring / Hitgalut {21:10} “En hy het my in die gees weggevoer op ‘n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal; {21:11} en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos ‘n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen. {21:12} En dit het ‘n groot en hoë muur met twaalf poorte gehad, en by die poorte twaalf engele, en name daarop geskrywe, naamlik dié van die twaalf stamme van die kinders van Israel.” . 

Soos ons bewus is, verwys Johannes hier na die eindtyd, Wanneer Jerusalem uit die hemel sal neerdaal. Hierdie visioen is eenvouding genoeg om te begryp, totdat ‘n mens lees van die aantal en name van die stadspoorte. Daar sal slegs 12 poorte wees, waarvan elk één die twaalf stamme van Israel sal verteenwoordig. Ook dit was heel verstaanbaar, totdat ek nog verder gelees het: 

Openbaring / Hitgalut {21:26} “en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring. {21:27} En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam. ”. 

Daar sal slegs twaalf poorte wees wat die twaalf stamme verteenwoordig en elke stam sal die stad deur sy aangewese stampoort binnegaan. Diegene van die betrokke nasies waarvan ons in Esegiël 47:22 – 23 gelees het, sal die nuwe Jerusalem binnegaan deur die poort van die stam by wie hulle verkies het om te woon. Wat sal dan gebeur met die swerwers, oftewel dié van die nasies (die gemende skare), wat hulself nie met Israel of een van die stamme vereenselwig het nie? Volgens die bovermelde Skrifgedeelte sal hulle nie gered word nie en toegang tot die heilige stad geweier word. 

Wat is dus my gevolgtrekking? Daar is hoegenaamd geen swerwers waar redding betrokke is nie. Jy is óf deel van Israel en met een van die stamme vereenselwig óf jy is in die buitenste duisternis, waar daar geween en gekners van tande sal wees!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking