Sondag 17 Februarie 2013

Paslik geklee wanneer diens gelewer word

D’ Var Torah 
U sal beveel / Tetzaveh 

Hebreërs / Ivrim 13:10 – 17

Eksodus / Shemot {28:1} “Dan moet jy jou broer Aäron, en sy seuns saam met hom, uit die kinders van Israel, laat nader kom na jou toe, dat hy vir My die priesteramp kan bedien: Aäron, Nadab en Abíhu, Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron. {28:2} En jy moet vir jou broer Aäron heilige klere maak, tot eer en tot sieraad. {28:3} Jy moet ook spreek met almal wat kunsvaardig is, wat Ek met die gees van wysheid vervul het, dat hulle vir Aäron klere maak, om hom te heilig, dat hy vir My die priesteramp kan bedien. {28:4} En dit is die klere wat hulle moet maak: ‘n borstas en ‘n skouerkleed en ‘n mantel en ‘n kunstig bewerkte rok, ‘n tulband en ‘n gordel; so moet hulle dan vir Aäron, jou broer, heilige klere maak, en vir sy seuns, dat hy vir My die priesteramp kan bedien. {28:5} En hulle moet die goud en die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en die fyn linne neem. ”. 

Ek het onlangs ‘n konferensie bygewoon waar twee sprekers die onderwerp van hoe ‘n mens geklee behoort te wees tydens ‘n erediens, behandel het. Die onderwerp het veral gesentreer om die bywoning as sulks meer aanvaarbaar vir jongmense te maak. Hulle mening was om deur ‘n meer ontspanne kleredrag vir nie slegs gemeentelede nie, maar ook vir die gemeente se leierskap en personeel toe te laat, méér jongmense die Sabat-dienste sou bywoon. 

By Melech Yisrael vereis ons dat die leierskap paslik geklee moet wees en hulle hulself paslik klee volgens die hedendaagse standaard van iemand in ‘n korporatiewe, uitvoerende hoedanigheid. Dit behels ‘n pakklere en das. Ons het egter ook voorskrifte vir diegene wat deel van die leierskap uitmaak. So vereis ons wel van enige persoon wat aan die werklike diensfunksie deelneem, om ook paslik geklee te wees. Dit sluit in diegene wat kommentaar lewer op die weeklikse Tora-parasha of aan enige deel van die Tora-diens deelneem. Hulle word versoek om langbroeke (geen “Jeans” nie) en ‘n hemp met ‘n kraag te dra. Vanselfsprekend is die dra van die tallit en kippah ‘n vereiste. Van dames wat deelneem en versoek word om uit die Haftara (Profete) of Brit Chadasha (Hernieude verbond) voor te lees, word vereis om rompe onder die knie asook ‘n hoofbedekking te dra. Ons vereis hierdie dinge geensins om oudmodies te wees nie maar omdat dit ‘n mate van eerbied betaam van iemand wat aangewys is om voor die Here te dien. 

As gelowiges in Jesus die Messias, is ons ‘n heilige priesterdom: 

1 Petrus / Kefa Aleph {2:5} “en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. ”. 

Die priesters, na wie in hierdie week se parasha verwys word, kon nie op enige wyse geklee wees nie. Hule moes te alle tye paslik geklee wees wanneer hulle in God se teenwoordigheid diens gelewer of voor Hom verskyn het. Ek glo nie dit was ‘n vereiste van vorige geslagte nie en dit is ook nie nou die geval nie. Dit is inderdaad ‘n teken van eerbied en respek wat oor generasies heen strek. 

Die “pop”-sanger Justin Bieber, was vereer met ‘n uitnodiging om die Kanadese Eersteminister, Harper, te ontmoet. Hy het die ontmoeting in ontspanningsdrag bygewoon, terwyl die Eersteminister egter paslik geklee was, eerstens soos dit ‘n persoon in sy hoedanigheid betaam en tweedens as paslik vir ‘n staatsgeborge geleentheid. Baie mense was ontstig deur, wat hulle gemeen het, die sanger se blatante gebrek aan respek, aangesien dit ‘n besondere geleentheid was en hy die Eersteminister sou ontmoet. Tog was daar ook diegene wat sy voorkoms verdedig het op grond van sy ouderdom en die huidige geslag se invloed. Vir diegene wat iets van Justin Bieber se lewenstyl (wat oral op ponie-koerante verskyn) kennis dra en as gelowiges in Jesus die Messias, wie sou jy verkies om ‘n rolmodel vir jou kind te wees? 

Indien staatshoofde respek afdwing, soos duidelik in die Skrif uiteengesit, hoeveel te meer behoort ons nie aan God eerbied te betoon deur paslik geklee in Sy teenwoordigheid in Sy huis van aanbidding te wees nie? 

Ten slotte: Het enige ouer al ooit nodig gehad om ‘n tienerjarige te ding om mooi aan te trek vir ‘n “Prom”-aand? Kom ons wees eerlik: dit is ‘n kwessie van eerbied en nie van generasie nie!! 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking