Sondag 03 Februarie 2013

Ons het almal vyande

D’var Torah 
Mishpatim 

Eksodus / Shemot 21:1 – 24:18; 30:11 – 16

Eksodus / Shemot {23:20} “Kyk, Ek stuur ‘n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het. {23:21} Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom. {23:22} Maar as jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees. {23:23} Want my Engel sal voor jou uit gaan en jou bring na die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete; en Ek sal hulle vernietig. {23:24} Jy mag jou voor hulle gode nie neerbuig en hulle nie dien nie, ook mag jy nie doen na hulle werke nie; maar jy moet hulle heeltemal afbreek en hulle klippilare kort en klein slaan. {23:25} En julle moet die HERE julle God dien; dan sal Hy jou brood en jou water seën, en Ek sal siektes uit jou midde verwyder. {23:26} Daar sal geen misdragtige of onvrugbare in jou land wees nie. Ek sal die getal van jou dae vol maak. {23:27} Ek sal my skrik voor jou uit stuur en elke volk waarby jy kom, in verwarring bring. En Ek sal al jou vyande vir jou laat vlug. ”. 

Israel het tot op hede nog vyande. Selfs daardie lande wat al vredesooreenkomste met hom aangegaan het – soos Egipte en Jordanië – tree eerder as vyande op as vredesgenote. 

In die bovermelde Skrifgedeelte, geneem uit hierdie week se parasha, deel God mee dat Israel se vyande ook sy vyande sal wees; trouens, indien ons tot aan die einde van die Bybel lees, vind ons dat God al Israel se vyande verslaan, deur hulle in oorloë dood te maak totdat hulle bloed so hoog as ‘n perd se toom gevloei het – dit kon drie voet (0,9 m) hoog of hoër gewees het. 

Ons het almal vyande – selfs ook ek! Dit is mense wat my graag sou wou sien faal en my selfs leed toewens. As gelowige in Jesus die Messias en ‘n kind van die Lewende God, glo ek dat, soos in die geval van Israel, my vyande ook vyande van God is. Niemand hou van vyande nie, veral diegene wat ‘n mens teëspoed toewens nie. Desnieteenstaande ontvang ons hierdie Bybelse opdrag van Jesus: 

Matthéüs / Mattityahu {5:43} “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. {5:44} Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; ”. 

Die Tanach (Hebreeuse Skrif) leer ons om ons naaste (Levitikus / Vayikra {19:18}) lief te hê. Met verloop van jare, het godsdienstige hiërargie hierdie Skrifgedeelte korrup gemaak deur die byvoeging: “…en haat jou vyand.”. In die voorafgaande Skrifgedeelte het Jesus egter die betrokke gedeelte tot die oorspronklike bedoelings verander. 

Lukas / Uri {6:27} “Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat. {6:28} Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.”. 

Die vraag ontstaan dus, dat as in die gedeelte hierbo uit parasha Mishpatim geneem, God sê Hy is ‘n vyand vir ons vyande, hoe versoen ons dit met wat Jesus sê aangaande liefde vir ons vyand? Weerspreek Vader en Seun mekaar dan? 

Die verklaring om te begryp wat Jesus ons leer en wat God in ons Skrifgedeelte sê, sentreer eintlik om die woord “haat”. Wanneer God na Homself verwys as ‘n vyand vir Israel se vyande, bedoel Hy dit in die sin van oorlog. In enige oorlog waarin Israel teen sy vyande betrokke sou raak, sal Hy ‘n vyand vir hulle vyande wees, met ander woorde: Hy sal aan Israel se kant wees en die vyand in oorlog verslaan. Jesus verwys egter nie na oorlog of die verslaan van ‘n oorlogsvyand nie – Hy praat spesifiek van moord. Om iemand dus te haat, is om in jou gedagte moord te pleeg. 

Matthéüs / Mattityahu {5:21} “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. {5:22} Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.”. 

Moord is ‘n halsmisdaad, teenoor die doodmaak van ‘n persoon in ‘n oorlogsituasie. Ons moet dus ons vyand liefhê sodat ons nie aan die sonde van moord skuldig is nie. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking