D’Var Tora
Tazria – Metzora
Ek het dikwels gewonder waarom – as deel van die rituele reiniging van persone met melaatsheid – hulle vereis is om nie slegs hulle klere te was en bad nie, maar ook al hulle hare af te skeer.
Soos ons bewus is en soos wat ek oor die jare heen geleer het, staan leprose vandag as “Hansen se siekte” bekend. Dit word deur ‘n bakterie veroorsaak en is hoofsaaklik ‘n inflammatoriese gewassiekte van die periferale senuwees en slymvlies van die boonste respiratoriese lugweg. Velskade is die primêre uiterlike teken. Indien dit onbehandel gelaat word, kan dit progressief raak en permanente skade aan die vel, senuwees, ledemate en oë veroorsaak.
In teenstelling met bygelowe, veroorsaak leprose nie dat liggaamsdele afval nie alhoewel dit tog gevoelloos kan raak of andersins aangetas word vanweë sekondêre infeksies. Dit vind plaas as gevolg van die liggaam se beskermingsmeganisme wat deur die primêre siekte in gevaar gestel word. Sekondêre infeksies, daarenteen, kan wel verlies van weefsel tot gevolg hê, waardeur vingers en tone verkort en misvormd raak, waneer kraakbeen deur die liggaam geabsorbeer word. Soos ‘n mens dus kan aflei, is dit geensins ‘n “aangename” siekte nie, maar waarom moes die hare afgeskeer word?
Die rede is dat hare besonder aangetas word deur leprose en derhalwe moes hare tot by die wenkbroue afgeskeer word vir ingeval ‘n oorblyfsel van leprose nog daarop kon voorkom.
Indien ons besef dat leprose deur God oor iemand gebring is – die nadraai en gevolg van sonde – dan kan ons begryp waarom God die geringste voorkoms van sonde van die persoon se liggaam wou laat verwyder. Niemand kon deur die reinigingsproses gaan indien daar nog oorblyfsels van sonde op hulle liggaam was nie.
Dit leer ons ‘n baie belangrike waarheid. Tydens ons eredienste, kom talle mense vir voorbidding, om genesing te vra of vir ander persoonlike behoeftes, maar hulle het egter nog nie al die sonde in bulle lewe afgelê nie. Sonde mag in die eerste plek heel moontlik die siekte of probleem veroorsaak het en indien nie daarvan afgesien word nie, sal God hulle beslis nie genees nie. Wanneer hulle siekte of probleem aanhou, is dit vir hulle maklik om God te blameer en vir Hom kwaad te wees omdat Hy hulle gebede nie verhoor het nie. Hulle mag selfs sover gaan om die persone wat vir hulle voorbidding gedoen het, te beskuldig dat hulle nie guns in God se oë gevind het nie, terwyl hulle self die eintlike probleem is, in soverre hulle nagelaat het om elke teken van “leprose” uit hul lewens te verwyder.
Voordat jy dus vra om reiniging, maak eers seker dat jy van die sonde afgesien het.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking