D’Var Torah
Gebooie – Chukkat
Númeri / Bamidbar {20:12} “Toe sê die HERE vir Moses en Aäron: Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie. {20:13} Dit is die waters van Mériba waar die kinders van Israel met die HERE getwis het en Hy Hom onder hulle as die Heilige laat ken het.”.
Julle sal onthou dat in ons bespreking van parasha B’haalotecha, ons verwys het na die belangrikheid van leierskap en die noodsaaklikheid daarvan om nie net deur woorde nie maar deur voorbeeld te lei. Vandeesweek sien ons hoedat die leiers van Israel, Moses en Aäron, ‘n swak voorbeeld aan Israel gestel het. As gevolg daarvan, was God toornig vir die kinders van Israel en is Moses en Aäron uitgesluit om die Beloofde Land binne te gaan. Ek vertrou dat ons hieruit sal besef watter mate van verantwoordelikheid God van leiers vereis.
Dit is nie maklik om in leierskap ook God se volk of om dieselfde rede, enige soort leier te wees nie. Dit bring geweldige verantwoordelikheid mee. Ek het myself al dikwels oor besluite wat ek moes neem afgevra, of ek God voor die gemeente geëer of Hom oneer aangedoen het?
Baie mense wil graag leierskap beklee maar weinig van hulle begryp werklik die erns wat met so ’n amp gepaardgaan. Moses en Aäron was getroue diennaars van God. Tot op hierdie stadium was Moses onberispelik behalwe vir één misstap, waardeur Hy God vóór die volk oneer aangedoen het en gevolglik ‘n streng oordeel oor himself gebring het.
Dink ‘n bietjie daaroor na hoeveel male jy God in die teenwoordigheid van ander, oneer aangedoen het. Ek is oortuig daarvan dat ons almal, moontlik sonder om twee maal daaroor na te dink, dit al gedoen het. Watter straf moes ons miskien al verduur het of ly ons steeds daaronder, vanweë ons optrede. Ons bevraagteken waarom dit of dat met ons gebeur maar heel waarskynlik is dit omdat ons in die verlede God nie geëer het nie – in die teenwoordigheid van ons vrou, ons man, vader, moeder, kinders, ens.
Manne, julle is veral verantwoordelik as hoofde, leiers in julle huise. Eer jy God deur jou dade, voorbeelde, dit wat jy sê, op die wyse waarop jy jou vrou liefhet? Mense hou jou dop, hoor en sien jou en jy mag selfs God voor hulle oneer aandoen.
Die kinders van Israel het Moses en Aäron ongetwyfeld vertoorn en juis daarom het hulle verkeerd opgetree. Dink jy dat God nie geweet het dat hulle deur die volk daartoe aanleiding gegee is nie? Nogtans kon hulle dit nie as verskoning aanvoer nie. Netso kan ons ook nie beweer, nadat ons ons humeur verloor het, iets onbesonne gesê of enige van God se gebooie oortree het, dat dit vanweë uittarting was nie. Dit het nie in Moses en Aäron se geval gewerk nie en sal ook nie vir ons werk nie.
‘n Leier se verantwoordelikheid is om Jesus die Messias te weerspieël, of dit teenoor die gemeente, sy gesin, werknemers, werkgewer of wie ookal is. Leiers moet God te alle tye eer, veral in die nakoming van Sy gebooie of Sy Tora. Leiers behoort so deursigtig te wees dat mense deur hulle kan kyk en húlle nie raaksien nie, maar wel die Messias in hulle kan sien. Enigiets minder as dit, sal tot oneer van God strek.
Titus {1:7} “Want ‘n opsiener moet as ‘n rentmeester van God onberispelik wees, nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie; ”.
Ek is oortuig daarvan dat toe God gesê het die weg na die ewige lewe is smal en min sal dit vind, het Hy dit inderdaad bedoel!!
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking