Sondag 16 Junie 2013

Stel op die proef van wie jy werklik hoor

D’Var Torah 

Balak


Númeri / Bamidbar {22:4} “ Toe sê Moab vir die oudstes van Mídian: Nou sal hierdie menigte opeet alles wat rondom ons is, soos 'n bees die groenigheid van die veld opeet. En Balak, die seun van Sippor, was dié tyd koning van Moab. {22:5} Daarop het hy boodskappers gestuur na Bíleam, die seun van Beor, in Petor wat by die Eufraat is, in die land van die kinders van sy volk, om hom te roep en te sê: Kyk, daar het 'n volk uit Egipte getrek; kyk, hulle het die oppervlakte van die land oordek en staan gelaer teenoor my. {22:6} Kom dan tog nou, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek. Miskien sal ek onder hulle 'n slag kan slaan en hulle uit die land verdrywe. Want ek weet, die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is vervloek. {22:7} Toe het die oudstes van Moab en die oudstes van Mídian gegaan met waarsêersloon by hulle en by Bíleam gekom en hom die woorde van Balak meegedeel. {22:8} Daarop antwoord hy hulle: Bly vannag hier oor; dan sal ek julle berig bring soos die HERE aan my sal sê. Toe het die vorste van Moab by Bíleam gebly. {22:9} En God het na Bíleam gekom en gesê: Wie is die manne daar by jou? {22:10} En Bíleam het God geantwoord: Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab, laat my weet: {22:11} Kyk, daar het 'n volk uit Egipte getrek en hulle het die oppervlakte van die land oordek. Kom nou, vervloek hulle vir my; miskien sal ek hulle kan beveg en hulle verdrywe. {22:12} Toe sê God vir Bíleam: Jy mag nie saam met hulle trek nie, jy mag die volk nie vloek nie, want hulle is geseënd.”. 

Daar bestaan baie menings oor Bíleam (Balaam) – of hy wel ‘n ware profeet van God was aldan nie. Ek is seker ons wysgere en ander het met verduidelikings vorendag gekom waarom en hoe dit moontlik was vir Bíleam om van God te hoor. Een verduideliking is egter so goed soos ‘n ander omdat geeneen van ons daar was nie, met die gevolg dat niemand die antwoord ken nie – dit is ongetwyfeld so. My verduideliking oor hoe Bíleam van God kon gehoor het, is dus net nog een idee te midde van ‘n menigte idees. 

Voordat ek tot die reddende kennis van Jesus die Messias gekom het, was ek ernstig in die okkultisme betrokke. Ek was egter glad nie van my betrokkenheid daarin bewus nie; trouens, ek het gemeen dat ek God gevind het! 

Ja, op ‘n stadium in my lewe – alvorens ek ‘n gelowige geword het – het ek na God gesoek en in dié proses na die sinagoge teruggegaan en my selfs na verskeie denominasies (van kerke) gewend. Interessant genoeg, het geeneen van die kerke wat ek besoek het, ooit verneem of ek gered was of die evangelie (God se verlossingsplan) met my gedeel nie. Ek het egter by een besondere kerk waarmee ek beïndruk was, aansluiting gevind. Hulle het op Sondae dienste gehad en uit sekere dele van die Bybel voorgelees (ofskoon daar in die kerk geen Bybels was nie!). Wat hulle wel gedoen het, wat ek by geen ander kerk teëgekom het nie, was dat hulle hul gemeentelede geleer het hoe om met God te kommunikeer en dit is presies wat ek gesoek het. 

Hulle het dit gedoen deur te leer om, volgens hulle, jou “spirituele gids” te ontvang – ‘n spirituele wese wat jou glo in besit sou neem en jou in God se wysheid sou lei. Deur my deelname aan die eentonige dreunsang en meditasie, was dit nie lank voordat ek my spirituele gids ontvang het nie. Met hierdie gids en na verloop van tyd, het ek spirituele vermoëns en fisiese magte ontwikkel, wat ek vantevore nooit oor beskik het nie. Ek het waarlik gedink dat ek dit eindelik bereik het en met God verbind was. Ek het werklik naby God gevoel. 

Ek het vir langer as vyf jaar onder invloed van hierdie spirituele gids gelewe, terwyl ek heeltyd gedink het dat ek met God kommunikeer, totdat ek eendag deur, wat ek geglo het hierdie gids was, aangesê is om die Bybel te lees. Nadat ek dit gedoen het, het ek besef dat ek nie besig was om met God te kommunikeer nie maar wel met ‘n demoon wat God verpersoonlik het. In my bedroë en verlore toestand, was die stem wat vir my gesê het “lees die Bybel”, in der waarheid God s’n en juis dit het my na die weg van verlossing gelei. Bíleam was ‘n Mesopotamiese sterrewiggelaar wat nie ‘n profeet van God was nie maar iemand wat met demone gekommunikeer het. Eendag het hy werklik van die God van Israel gehoor. God het die demoon wat hy in kontak mee was, kragteloos gemaak, sy mond gesluit en Bíleam tot voordeel van Israel en Sy eer gebruik. Bíleam net soos ek, was nie daarvan bewus, dat die stem wat hy hierdie keer gehoor het, God s’n was nie; hy het bloot die opdragte van wie hy gemeen altyd met hom gepraat het, uitgevoer – die verskil was egter dat dit hierdie keer inderdaad God was. Dit maak nie verskil wat die duiwel wil hê of doen nie, God is altyd in beheer en Hy gebruik wie Hy wil, wanneer Hy wil en hoe Hy wil. 

Daar kan egter ‘n wesenlike gevaar skuil. Net soos ek en Bíleam aanvanklik gedink het ons hoor van God, kan baie mense wat dink hulle van God hoor, in der waarheid ‘n demoon hoor. Dit is dus uiters belangrik om te doen wat Johannes gesê het: 

1 Johannes / Yochanan Aleph {4:1} “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. {4:2} Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; {4:3} en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.”. Wat hier gesê word is dat indien dít wat ons hoor, nie met die Woord van God strook nie, dit nie God is nie. Stel dus op die proef van wie jy werklik hoor; baie mense word bedrieg en is alreeds bedrieg deur demonise geeste wat hulle as God voordoen. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking