Sondag 07 Julie 2013

Die enigste tyd wanneer die vyand ons kan verslaan

D’Var Torah 
Woorde – Devarim 


Deuteronomium / Devarim {3:1} “Daarna het ons weggedraai en op pad na Basan opgetrek; en Og, die koning van Basan, het uitgetrek ons tegemoet, hy en sy hele volk, om te veg by Edréï. {3:2} Toe het die HERE vir my gesê: Wees nie bevrees vir hom nie, want Ek gee hom en sy hele volk en sy land in jou hand; en jy moet met hom doen soos jy gedoen het met Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het. {3:3} En die HERE onse God het ook Og, die koning van Basan, en sy hele volk in ons hand gegee, sodat ons hom verslaan het, totdat daar van hom niemand oor was wat vrygeraak het nie. {3:21} Ook het ek Josua in dié tyd beveel en gesê: Jou oë het alles gesien wat die HERE julle God aan hierdie twee konings gedoen het. So sal die HERE aan al die koninkryke doen waarheen jy oortrek. {3:22} Julle moet vir hulle nie bang wees nie, want dit is die HERE julle God wat vir julle stry. ”. 

Uit hierdie verse wil ek graag hê dat ons moet besef hoe belangrik dit is om die guns (genade) van God te geniet. God het vir die kinders van Israel vertel hoedat Hy die koning van Og in hulle hande gegee het – met ander woorde, die oorlog teen Og, koning van Basan, was reeds gewonne voordat daar selfs geveg is. Al wat Israel moes doen, was om aanspraak op die oorwinning te maak en Og en sy leër sou verslaan word omdat God hulle oorwinning reeds beskik het. 

Ons persoonlik as indiwidue gaan miskien nie oorlog voer teen ander volkere nie. God beveel vandag ook nie indiwidue om enigeen fisies te vernietig nie. As gelowiges in Jesus die Messias, is ons egter elke dag van ons lewens, in spirituele stryde gewikkel, nie net wanneer ons wakker is nie maar ook wanneer ons slaap. 

Ek kan beswaarlik vir julle vertel hoeveel keer ek al met mense moes beraadslaag wat demoniese spirituele aanvalle snags in hulle slaap ervaar. Baie van die drome wat hulle gehad het, was afskuwelik van aard en hulle het skreeuend van angs ontwaak. Sekere van hierdie drome was pervers en van seksuele aard. Hulle het vertel dat dié drome so werklik en duidelik was asof hulle dit rêrig in die drome ervaar het. 

Hierdie drome is inderdaad werklik. Dit is ware demone in die drome en gevolglik werklik spirituele aanvalle. Dit is ook nie onwerklik of ongewoon om deur die spirituele magte van die duisternis aangeval te word nie want, as kinders van die lig, wil die satan ons getuienis vernietig en indien moontlik ons selfs doodmaak. Waaroor ons egter wel begaan móét wees, is hoe ons op die aanvalle reageer, hoe ons hierdie bose demone kan weerstaan en hulle terugstuur na die hel, waar hulle tuishoort. 

Dit is waar God se guns (genade) ter sprake kom. As ons God se guns (genade) geniet, dan sal elke stryd wat teen ons gevoer word en elke mag van die duisternis wat ons probeer vernietig, verslaan word omdat God dit alreeds aan vernietiging uitgelewer het. Wanneer ons onder God se guns (genade) verkeer, is dit Hy wat vir ons stry. 

Wat sê ek dus vir daardie mense wat na my toe kom, nadat hulle demonies geïnspireerde drome ervaar het? Ek beveel hulle aan om, soos hulle ontwaak, hierdie baie eenvoudige gebed te bid: “satan, die Here, Jesus die Messias, bestraf jou. Jy het geen mag of gesag oor my nie – alle sodanige mag en gesag is deur Jesus die Messias van jou weggeneem. Ek verwerp hierdie droom en pleit die bloed van Jesus die Messias oor myself, oor hierdie vertrek en in die naam van Jesus die Messias, beveel ek jou om uit my lewe te gaan.” 

Indien dié drome die volgende nag weer gedroom word, nadat hierdie gebed gebid is, herhaal dan die gebed. Sou die aanvalle steeds aanhou, sal ek voorstel dat die persone hul verhouding met God opnuut vasstel. Moontlik is daar onbelyde sonde in hulle lewe, waaroor God Sy guns van hulle af weggeneem het. Die enigste tyd wanneer die vyand ons kan verslaan, is wanneer God Sy guns (genade) oor ons onttrek het. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking