D’Var Torah
En ek het gepleit – Va’etchanan
Deuteronomium / Devarim {4:1} “Luister dan nou, Israel, na die insettinge en die verordeninge wat ek julle leer om te doen, sodat julle mag lewe en inkom en die land wat die HERE, die God van julle vaders, aan julle sal gee, in besit mag neem. {4:2} Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel. ”.
Het jy opgelet dat in die bovermelde Skrifgedeelte uit vandeesweek se parasha, God Homself nie die God van daardie geslag noem nie, maar Homself eerder “die God van julle vaders (avot)” noem. Dit is nie die enigste keer wat God dit in die Skrif doen nie. Ons vind dat Hy na Homself as “die God van julle vaders” verwys op talle ander plekke in die Skrif, soos byvoorbeeld Eksodus (Shemot) 3:13,15, 16; Deuteronomium 3:11; Josua (Yehoshua) 18:3 en 2 Kronieke (HaYamin Bet 13:12).
Soos ons reeds weet, doen God nooit iets lukraak of sonder ‘n bepaalde doel of rede, soos wat hier die geval is nie.
Ons onthou in die Skrif dat God, ofskoon Hy die koninkryk van Israel verdeel het, Hy van die twaalf stamme, twee aan koning Rehobeam gegee het. God het dié twee stamme vir Rehobeam bewaar, nie op grond van sy eie verdienste nie maar op grond van sy grootvader, koning Dawid, se verdienste. Koning Rehobeam het by die twee stamme gebly, uitdruklik vanweë die belofte van God aan Sy dienskneg, Dawid.
1 Konings / Malachim Alef {11:34} “Ek sal ewenwel die koningskap as geheel nie uit sy hand neem nie, maar Ek sal hom as vors aanstel al die dae van sy lewe ter wille van my kneg Dawid wat Ek verkies het, wat my gebooie en my insettinge gehou het. {11:35} Maar uit die hand van sy seun sal Ek die koningskap neem en dit aan jou gee, die tien stamme; ”
.
Presies dieselfde beginsel is van toepassing op die gedeelte, wat uit ons parasha aangehaal is, dat daardie geslag van die kinders van Israel nie die land sou ontvang nie, op grond van God se belofte aan hulle nie. Hy het trouens nie die belofte van die land aan húlle gedoen nie. Hulle sou die Beloofde Land binnegaan op grond van die verdienste van hulle voorvaders: Abraham (Avraham), Isak (Yitzchak) en Jakob (Ya’acov), aan wie die belofte gedoen is.
Hierdie beginsel geld selfs vandag nog vir ons. Dié van ons wat in Jesus die Messias glo, word nie gered as gevolg van enige belofte van God aan ons nie en allermins op grond van ons verdienste (ons het niks!!). Ons wat vandag gered is, is gered deur die belofte van God aan Abraham Avinu (ons vader).
Genesis / Beresheet {22:17} “dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. {22:18} En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het. ”.
Vanweë die bovermelde belofte van God aan Abraham, is Jesus die Messias aan ons gegee en dit is deur die verdienste van Jesus die Messias, dat ons gered is. Die belofte gaan egter steeds terug na Abraham Avinu (ons vader). Daar kan dus gesê word dat ons ons redding te danke het aan die belofte van God aan Abraham Avinu.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking