Sondag 01 September 2013

Mashiach as Goddelike – God / mens

D’Var Torah 
Luister - Ha’azinu 


Deuteronomium / Devarim {32:20} “En Hy het gesê: Ek wil my aangesig vir hulle verberg, Ek wil sien wat hulle einde sal wees; want ‘n heeltemal verkeerde geslag is hulle, kinders in wie geen trou is nie. {32:21} Hulle het my ywer gewek deur wat nie-God is, My geterg deur hulle nietige afgode. Ék sal dan hulle ywer wek deur die wat ‘n nie-volk is, deur ‘n dwase nasie sal Ek hulle terg. ”. 

Indien daar ooit ‘n saak vir die bestaan van die Kerk was, is dit juis dit! Nie-Jode was heidense afgodsaanbidders – hulle was nie God se mense nie omdat hulle demone aanbid het. In die oë van God was hulle’n dwase nasie aan wie God se mense – Israel – die kennis en begrip van die Één Ware God moes bring. Israel het egter in hulle opdrag gefaal. 

Die Kerk, soos wat ons dit vandag min of meer ken, het tydens die eerste eeu, op die hoogtepunt van die verwerping van Jesus die Messias er die Joodse volk, ontstaan. Israel het sy rug gekeer op die beloofde Mashiach (Messias) en daardeur ook op hulle God, met die gevolg dat God Homself tot die nasies gewend het. 

Johannes / Yochanan {5:23} “sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. ”. 

Die volk Israel het God dus getart met hulle nietige afgode en gevolglik het Hy hulle beweeg tot naywer teenoor diegene wat nie Sy volk was nie – vandaar die totstandkoming van die Christendom en die Kerk. 

Ons het onlangs ‘n reeks lesings gehad deur rabbi Tzahi Shapira, skrywer van die boek “The Kosher Pig”. Sy lesings het op die goddelikheid van die Messias betrekking gehad. Dié tweeledige reeks het in ‘n plaaslike openbare biblioteek in Toronto plaasgevind. Die tradisionele Judaïsme van vandag aanvaar geensins die Messias as goddelik – God / mens – nie. Rabbi Shapira het dit bewys op grond van sowel die verlede van Judaïsme as die lerings van die wyses van ouds en daarop gewys dat die Goddelikheid van die Messias ‘n aanvaarde feit in pre-moderne tradisionele rabbiniese Judaïsme was. 

Ons het naastenby vyfduisend pamflette dwarsdeur die Joodse gemeenskap van Toronto versprei, waadeur belanghebbendes genooi is om aan die dialoog oor die goddelikheid van die Messias deel te neem. In plaas daarvan om ons te ontmoet om die feite op algemeen – Joods te bespreek, het ons egter bespotting, beledigings en verwerping deur ‘n groep wat hulself “Jode vir Judaïsme” noem, ervaar. Die “beste” beskuldiging waarvan hierdie groep ons aangekla het, was dat óns Christelike sendelinge was wat die Jode tot die Christendom probeer bekeer het! Niks kan egter verder van die waarheid verwyder wees nie. 

Ons gemeente bestaan uit Jode en nie-Joodse lidmate, wat Jesus as die Messias aanvaar het en volgens die Tora leef. As ons egter wel enigiets aan die Joodse mense doen, is dit om hulle op te voed volgens wat die wyses van ouds geleer het en wat hulle eie geëerde rabbis oor die eeue heen aangaande die Messias geleer het. Ons bedoeling is eintlik om hulle méér Joods in te stel maar beslis nie om hulle te bekeer daarvan om Joods te wees nie. 

Die woorde en haat wat hierdie groep Jode vir Judaïsme geopenbaar het, het my laat glo dat indien hulle hul sin kon kry, hulle óns sou laat arresteer en doodmaak. 

Die Kerk in geheel mag moontlik nie die Jode tot naywer tart nie, maar Messiaanse Judaïsme, wat ná duisende jare laat herleef is, daag Jode beslis uit om hule tradisionele gelowe te heroorweeg. Bid asseblief dat God hulle oë sal open dat hulle hul Messias, Jesus, mag sien. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking