Woensdag 23 Oktober 2013

God vereis gehoorsaamheid van jou

D’Var Torah
Sarah het gelewe – Chayei Sarah


Genesis / Bereshit {24:1} “En Abraham was oud en ver op sy dae, en die HERE het Abraham in alles geseën. {24:2}  Toe sê Abraham aan sy dienaar, die oudste van sy huis wat die opsig gehad het oor al sy goed: Lê tog jou hand onder my heup, {24:3}  dat ek jou kan laat sweer by die HERE, die God van die hemel en die God van die aarde, dat jy vir my seun geen vrou sal neem uit die dogters van die Kanaäniete onder wie ek woon nie; {24:4}  maar dat jy na my land en my familie sal gaan om vir my seun Isak ‘n vrou te neem. {24:5}  Toe sê die dienaar vir hom: Miskien sal die vrou my nie wil volg na hierdie land nie. Moet ek u seun dan maar terugbring in die land waaruit u weggetrek het? {24:6}  En Abraham antwoord hom: Neem jou tog in ag dat jy my seun nie weer daarheen bring nie. {24:7}  Die HERE, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggeneem het, en wat met my gespreek en vir my gesweer het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee—Hy sal sy engel voor jou uit stuur, en jy moet vir my seun daar ‘n vrou gaan haal. {24:8}  Maar as die vrou jou nie wil volg nie, dan is jy ontslae van hierdie eed aan my. Jy moet net my seun nie weer daarheen bring nie.”.

Sonder twyfel seën God ons wanneer ons gehoorsaam is. God het Abraham beveel om nie toe te laat dat sy seun met die heidense Kanaäniete ondertrou nie. Toe hy dus ‘n vrou vir sy seun, Isak (Yitzchak) gesoek het, het hy sy dienaar laat belowe dat hy nie ‘n vrou uit die Kanaäniete vir hom sou bring nie. Hy het hom ook laat belowe dat hy na Abraham se familie, waar hý gebore is, sou gaan en dáár vir Isak ‘n vrou sou gaan soek. God het Abraham ook bevel om nooit terug te gaan vanwaar hy oorspronklik gekom het nie. Toe sy dienaar dus van hom verneem wat hom te doen staan as die meisie wie hy gekies het, nie met hom wil saamkom nie, het Abraham aan God gehoorsaam gebly en sy dienaar laat belowe dat hy Isak nooit daarheen sou terugneem nie.

Ek glo nie dat dit blote geluk was dat Abraham se dienaar ‘n meisie gevind het, sy gebede verhoor is, hy vasgestel het dat sy aan Abraham se familie verwant was en sy gewillig was om na Isak geneem te word nie. Kom ons wees eerlik: God seën diegene wat aan Hom gehoorsaam is.

Ek stem saam dat dit vir Abraham nie moeilik sou gewees het om te weier om vir Isak ‘n vrou uit die Kanaäniete te neem nie, want hulle was ‘n heidense – en vervloekte nasie. God het, trouens, hulle land aan Abraham belowe en hulle sou uiteindelik tog van hulle land vervreem word. Dit sou egter vir Abraham moeilik gewees het om die tweede opsie te weerstaan. Toe sy dienaar verneem het wat hom te doen sou staan indien die meisie wat hy moontlik mag vind, nie bereid sou wees om saam met hom te gaan nie, het Abraham sonder die geringste twyfel, die moontlikheid verwerp dat sy seun terugkeer na vanwaar hulle gekom het. Hy het gewéét dat God getrou aan Sy belofte sal wees, en daarom wou hy nie toelaat dat sý familie verwyder word uit die land wat aan hom belowe was nie.

Abraham was getrou en op grond daarvan, het God hom geseën en Isak van die ideale vrou voorsien.

Ek vertrou dat ons uit hierdie verhaal ‘n les sal leer omdat baie van ons God se bevele nie altyd volkome nakom nie en soms teenstrydig daarmee optree. Dit val my veral op met betrekking tot die kwessie van indiensneming. Wanneer ‘n sekere person, by die gemeente Melech Yisrael aansluit, maar voorheen aan ‘n kerk behoort het, beklee hy moontlik tans ‘n betrekking wat vereis dat hy ook op die Sabbat moet werk. Wanneer so ’n persoon se gemeentelidmaatskap aanvaar word en hy die heiligheid van die Sabbat begryp, word ek geraadpleeg oor die feit of hy uit sy werk behoort te bedank. My antwoord is altyd dat hy éérs daaroor bid en God versoek om dit op sy werkgewer se hart te lê om die betrokkene van werk op die Sabbat vry te stel. God ken ons hart en as dit ons begeerte is om nie op die Sabbat te werk nie, sal Hy ‘n oplossing bied. Dit het ookal gebeur dat gemeentelede, wat hulle werk verloor het, werk soek.

Dit is moeilik om ‘n betrekking te vind wat nie vereis dat ‘n mens op die Sabbat werk nie, veral wat werkskofte betref. Dit is maklik om prospektiewe werkgewers, wat wel ook werk op die Sabat vereis, nie te oorweeg nie indien ‘n mens net begin het om werk te soek, maar soos die weke en maande egter verloop, sonder om ‘n werk te bekom waar nie vereis word om op die Sabbat te werk nie, raak die versoeking om enige betrekking te aanvaar, al hoe meer aanloklik.

Abraham is getoets; hy het die regte keuses gedoen en God het hom daarvoor geseën. Ons behoort nie te dink dat ons immuun is om deur God getoets te word nie.

Jakobus / Yaakov {1:2} “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, {1:3}  omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. {1:4}  Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”.

Ek het al baie mense teëgekom wat toegegee en aan God se gebooie ongehoorsaam was. As gevolg daarvan, het hulle sowel fisies as sielkundig daarvoor geboet. Ek het ook al vele teëgekom, wat aanvanklik gely het, omdat hulle God se gebooie gehoorsaam het maar aan die einde fisies en spiritueel geseën is.

My gebed vir jou is, om wanneer jóú tyd van toetsing aanbreek, jy nie sal toegee nie maar aan God gehoorsaam sal bly.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking