D’Var
Torah
Sarah
het gelewe – Chayei Sarah
Genesis / Bereshit {24:1} “En Abraham was oud en
ver op sy dae, en die HERE het Abraham in alles geseën. {24:2} Toe sê Abraham aan sy dienaar, die oudste van
sy huis wat die opsig gehad het oor al sy goed: Lê tog jou hand onder my heup,
{24:3} dat ek jou kan laat sweer by die
HERE, die God van die hemel en die God van die aarde, dat jy vir my seun geen
vrou sal neem uit die dogters van die Kanaäniete onder wie ek woon nie;
{24:4} maar dat jy na my land en my
familie sal gaan om vir my seun Isak ‘n vrou te neem. {24:5} Toe sê die dienaar vir hom: Miskien sal die
vrou my nie wil volg na hierdie land nie. Moet ek u seun dan maar terugbring in
die land waaruit u weggetrek het? {24:6}
En Abraham antwoord hom: Neem jou tog in ag dat jy my seun nie weer
daarheen bring nie. {24:7} Die HERE, die
God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggeneem
het, en wat met my gespreek en vir my gesweer het met die woorde: Aan jou
nageslag sal Ek hierdie land gee—Hy sal sy engel voor jou uit stuur, en jy moet
vir my seun daar ‘n vrou gaan haal. {24:8}
Maar as die vrou jou nie wil volg nie, dan is jy ontslae van hierdie eed
aan my. Jy moet net my seun nie weer daarheen bring nie.”.
Sonder
twyfel seën God ons wanneer ons gehoorsaam is. God het Abraham beveel om nie
toe te laat dat sy seun met die heidense Kanaäniete ondertrou nie. Toe hy dus
‘n vrou vir sy seun, Isak (Yitzchak) gesoek het, het hy sy dienaar laat belowe
dat hy nie ‘n vrou uit die Kanaäniete vir hom sou bring nie. Hy het hom ook
laat belowe dat hy na Abraham se familie, waar hý gebore is, sou gaan en dáár
vir Isak ‘n vrou sou gaan soek. God het Abraham ook bevel om nooit terug te
gaan vanwaar hy oorspronklik gekom het nie. Toe sy dienaar dus van hom verneem
wat hom te doen staan as die meisie wie hy gekies het, nie met hom wil saamkom
nie, het Abraham aan God gehoorsaam gebly en sy dienaar laat belowe dat hy Isak
nooit daarheen sou terugneem nie.
Ek glo
nie dat dit blote geluk was dat Abraham se dienaar ‘n meisie gevind het, sy
gebede verhoor is, hy vasgestel het dat sy aan Abraham se familie verwant was
en sy gewillig was om na Isak geneem te word nie. Kom ons wees eerlik: God seën
diegene wat aan Hom gehoorsaam is.
Ek stem
saam dat dit vir Abraham nie moeilik sou gewees het om te weier om vir Isak ‘n
vrou uit die Kanaäniete te neem nie, want hulle was ‘n heidense – en vervloekte
nasie. God het, trouens, hulle land aan Abraham belowe en hulle sou uiteindelik
tog van hulle land vervreem word. Dit sou egter vir Abraham moeilik gewees het
om die tweede opsie te weerstaan. Toe sy dienaar verneem het wat hom te doen
sou staan indien die meisie wat hy moontlik mag vind, nie bereid sou wees om
saam met hom te gaan nie, het Abraham sonder die geringste twyfel, die
moontlikheid verwerp dat sy seun terugkeer na vanwaar hulle gekom het. Hy het
gewéét dat God getrou aan Sy belofte sal wees, en daarom wou hy nie toelaat dat
sý familie verwyder word uit die land wat aan hom belowe was nie.
Abraham
was getrou en op grond daarvan, het God hom geseën en Isak van die ideale vrou
voorsien.
Ek
vertrou dat ons uit hierdie verhaal ‘n les sal leer omdat baie van ons God se
bevele nie altyd volkome nakom nie en soms teenstrydig daarmee optree. Dit val
my veral op met betrekking tot die kwessie van indiensneming. Wanneer ‘n sekere
person, by die gemeente Melech Yisrael aansluit, maar voorheen aan ‘n kerk
behoort het, beklee hy moontlik tans ‘n betrekking wat vereis dat hy ook op die
Sabbat moet werk. Wanneer so ’n persoon se gemeentelidmaatskap aanvaar word en
hy die heiligheid van die Sabbat begryp, word ek geraadpleeg oor die feit of hy
uit sy werk behoort te bedank. My antwoord is altyd dat hy éérs daaroor bid en
God versoek om dit op sy werkgewer se hart te lê om die betrokkene van werk op
die Sabbat vry te stel. God ken ons hart en as dit ons begeerte is om nie op
die Sabbat te werk nie, sal Hy ‘n oplossing bied. Dit het ookal gebeur dat
gemeentelede, wat hulle werk verloor het, werk soek.
Dit is
moeilik om ‘n betrekking te vind wat nie vereis dat ‘n mens op die Sabbat werk
nie, veral wat werkskofte betref. Dit is maklik om prospektiewe werkgewers, wat
wel ook werk op die Sabat vereis, nie te oorweeg nie indien ‘n mens net begin
het om werk te soek, maar soos die weke en maande egter verloop, sonder om ‘n
werk te bekom waar nie vereis word om op die Sabbat te werk nie, raak die
versoeking om enige betrekking te aanvaar, al hoe meer aanloklik.
Abraham
is getoets; hy het die regte keuses gedoen en God het hom daarvoor geseën. Ons
behoort nie te dink dat ons immuun is om deur God getoets te word nie.
Jakobus / Yaakov {1:2} “Ag dit louter vreugde,
my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, {1:3} omdat julle weet dat die beproewing van julle
geloof lydsaamheid bewerk. {1:4} Maar
die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder
gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”.
Ek het
al baie mense teëgekom wat toegegee en aan God se gebooie ongehoorsaam was. As
gevolg daarvan, het hulle sowel fisies as sielkundig daarvoor geboet. Ek het
ook al vele teëgekom, wat aanvanklik gely het, omdat hulle God se gebooie
gehoorsaam het maar aan die einde fisies en spiritueel geseën is.
My gebed
vir jou is, om wanneer jóú tyd van toetsing aanbreek, jy nie sal toegee nie
maar aan God gehoorsaam sal bly.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking