Woensdag 30 Oktober 2013

Haat Vernietig Lewens

D’Var Torah
Geslagte – Toldot


Genesis / Bereshit {27:41} “En Esau was Jakob vyandig gesind vanweë die seën waarmee sy vader hom geseën het, en Esau het in sy hart gedink: Die dae van die rou oor my vader is naby; dan sal ek my broer Jakob doodmaak. {27:42}  Maar toe hulle aan Rebekka die woorde van Esau, haar oudste seun, vertel, stuur sy en laat Jakob, haar jongste seun, roep en sê vir hom: Kyk, jou broer Esau sal hom op jou wreek deur jou dood te maak. {27:43}  My seun, luister dan nou na my: maak jou klaar, vlug tog na Haran, na my broer Laban, {27:44}  en bly ‘n rukkie by hom tot die woede van jou broer bedaar, {27:45}  tot die toorn van jou broer teen jou bedaar en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het. Dan sal ek stuur en jou daar laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?”.

In hierdie verhaal van Esau (Esav) en Jakob (Ya’acov) kan ons die uitwerking van haat op ‘n persoon se lewe sien asook die invloed daarvan op die lewe van iemand wat gehaat word.

Ons verneem hier dat Esau vir Jakob gehaat het. Ons weet ook dat Esau die vader van die Edomiete was, wat bygestaan en toegekyk het hoedat die Assiriërs duisende in Israel aangeval en doodgemaak het. Boonop het hulle gewag en die Israeliete wat van die Assiriërs probeer wegvlug, doodgemaak het. Dit is inderdaad te betreur om daaraan te dink dat Esau en Jakob bloedbroers was, wat vir mekaar moes lief gewees en gerespekteer het en liefde in daaropvolgende geslagte dus moes voortgeduur het. In plaas daarvan, het die haat van Esau teenoor Jakob egter voortgeduur en bestaan dit steeds tussen hulle geslagte tot vandag toe.

Die uitwerking van die haat het selfs verder gestrek: vanweë sy haat, is Esau vervreem van sy broer en uiteindelik ook van sy familie as gevolg van die heidense vroue met wie hy getroud is. Esau het die geloof van sy voorvader, Abraham, versaak en in afgodery verval. Omdat dwaling tot erger dwaling lei, het die godsdiens van Islam – met verloop van eeue – tot stand gekom en het die haat tussen Jode en Moslems gevolglik vererger.

Esau se haat het egter nie slegs ‘n invloed op hom en sy nageslag gehad nie maar ook op Jakob en sy nageslag. As gevolg van Esau se haat vir sy broer, moes Jakob vir sy lewe vlug en van daardie tyd af het Jakob vir Esau gewantrou. Volgens die Skrif het hierdie wantroue reeds geblyk toe die twee broers mekaar teëgekom het terwyl Jakob besig was om na Laban te vlug. Jakob het vir Esau laat weet dat hy hom in Seïr sou ontmoet, maar toe met sy gevolg in die teenoorgestelde rigting na Sukkot {Genesis 33:17} getrek. So het Esau se haat die lewe en besluite van Jakob beïnvloed, nadat hy met sy broer herenig is. Ongeag die feit dat hulle klaarblyklik versoen geraak het, het Jakob nogtans sy broer gewantrou. Hierdie wantroue het deur die nageslag van Jakob tot vandag bly bestaan.

Matthéüs / Mattityahu {5:21} ”Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. {5:22}  Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.”

Laat hierdie verhaal van Esau en Jakob vir ons almal ‘n les inhou: ons haat teenoor enigiemand, sal nie slegs vir ons en die persoon vir wie ons haat beïnvloed nie maar ook in albei partye se toekomstige geslagte voortduur.

Johannes / Yochanan {13:34} “n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. {13:35}  Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking