D’ Var
Torah
Vayera -
En Hy het verskyn
Genesis / Bereshit {18:1} “Daarna het die HERE
aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die
tent sit op die warmste van die dag. {18:2}
Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy
hulle sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom
na die aarde toe. {18:3} En hy sê: My
heer, as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u kneg verby nie.
{18:4} Laat hulle tog ‘n bietjie water
bring, en was u voete, en lê en rus onder die boom. {18:5} En laat ek ‘n stukkie brood gaan haal, en
versterk u hart—daarna kan u verder gaan—want daarom het u by u kneg aangekom.
En hulle antwoord: Doen soos u gesê het.”.
Daar was
al heelwat omstredenheid onder Joodse kommentators oor die feit of Abraham
(Avraham) deur engele of deur God, vergesel deur twee engele, besoek is aldan
nie. Indien daar nie spesifiek na die Here as “Adonai” verwys is nie, soos in
vers drie hierbo, mag daar tog ‘n mate van geldigheid bestaan het in die
aanspraak dat dit drie engele en nie God en twee engele was nie.
Die Tora
was oorspronklik nie geskryf met vokaalpunte nie met die gevolg dat die woord “Adonai”,
wat Here beteken, ook as “adonai”, wat “meneer” of “Heer” (laasgenoemde
met ‘n kleinletter “h”) beteken, vertaal kon word. Die opvatting dat Abraham
slegs engele ontmoet het, word egter bevraagteken deur die feit dat die
openingsin van hierdie Skrifgedeelte begin met {18:1} “…het die Here aan hom
verskyn by die eikebome van Mamre terwyl hy sit by die ingang van die tent op
die warmste van die dag.”. Die woord “God” word hier in Hebreeus geskryf as
“Jahwê” (), wat die benaming vir God en nie vir ‘n engel is nie. Dieselfde
benaming vir (Jahwê) vir God word, trouens, dwarsdeur die parasha aangetref.
Daar
bestaan egter geen méér oortuigende bewys dat dit inderdaad God, in menslike
gedaante, was wat Abraham gesien het nie, as die volgende vers uit ons parasha:
Genesis / Bereshit {19:24} “En die Here (Jahwê)
het swawel en vuur oor Sodom en Gomora laat reën van die Here (Jahwê) uit die
hemel,”.
In
hierdie vers sien ons nie slegs dat daar na Abraham se besoeker as die “Jahwê”
verwys word nie, maar ons lees ook dat die God op die aarde swawel en vuur van
die God in die hemel laat reën het.
Die
volgende punt wat ek graag wil maak, betref dat Abraham deur sowel geleerdes as
kommentators insgelyks beskou word as die vader van gasvryheid. Terwyl Abraham
by die ingang van sy tent gesit het, word ons vertel dat hy reisigers in die
verte gesien het. Waarskynlik onder die indruk dat hulle slegs sou verbygaan,
het Abraham nie eenvoudig gestap om hulle te groet nie – ons word vertel dat hy
gehardloop het om die vreemdelinge te groet en inderdaad een van hulle as God
herken het. Hy het hulle genooi om by sy tent te vertoef en hulself te verfris.
Ek is egter oortuig daarvan dat Abraham vanaf ‘n afstand nie geweet het wie die
reisigers was nie maar toe hy naderkom, besef het wie hy sou onthaal.
Was dit
vir Abraham ‘n toets? Het die reisigers bloot voorgegee dat hulle hom sou
verbygaan? Ek glo persoonlik dat dit wel vir Abraham ‘n toets was. Indien
Abraham nie opgestaan en gehardloop het om die reisigers te groet nie, sou hy
seëninge verbeur het. Die feit dat hy by die ingang van sy tent gesit en kyk
het vir moontlike verbygangers en toe hy hulle sien, opgestaan en hulle gaan
groet het, vertel vir ons dat hy ongetwyfeld die benaming van vader van
gasvryheid verdien.
Ek meen
dat ons by Abraham ‘n les moet leer. Dikwels lyk dit asof God ver weg is en ons
sal verbygaan, maar inderwaarheid wag Hy vir ons om na Hom toe te hardloop –
nie te loop nie – om Hom te groet en Hom in ons lewens en ons huise binne te
nooi sodat ons ook geseën mag word. ‘n Verdere les wat ons by Abraham moét
leer, is om gasvryheid aan reisigers en vreemdelinge te betoon.
Hebreërs / Ivrim {13:2} “Vergeet die gasvryheid
nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste
geherberg. ”.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking