Woensdag 20 November 2013

Die onomkoopbare Gees

D’Var Torah
Aan die einde van – Miketz


Genesis / Bereshit {44:1} “Toe gee hy bevel aan die opsigter oor sy huis en sê: Maak die sakke van die manne vol met lewensmiddele soveel as hulle kan vervoer, en sit elkeen se geld bo in sy sak; {44:2}  en my beker, die silwerbeker, moet jy bo in die jongste se sak sit saam met die geld vir sy koring. En hy het gehandel volgens die woord wat Josef gespreek het. {44:3}  Toe dit die môre lig word, het hulle die manne laat trek, hulle met hul esels. {44:4}  Hulle het uit die stad uitgetrek, hulle was nog nie ver nie toe Josef aan die opsigter oor sy huis sê: Maak jou klaar en jaag die manne agterna; en as jy hulle inhaal, vra hulle dan: Waarom het julle kwaad vir goed vergelde? {44:5}  Is dit nie die ding waaruit my heer drink en waarmee hy altyd waarneem nie? Julle het verkeerd gehandel met wat julle gedoen het. {44:6}  En hy het hulle ingehaal en hierdie woorde aan hulle meegedeel.”

Ek is seker dat hierdie taktiek om iemand te betrap, reeds vóór Josef se tyd gebruik is en nog steeds toegepas word. Dit word trouens, nog deur regerings en polisiedepartmente toegepas maar ook selfs deur kriminele elemente. Almal wend dit vir hulle eie gewin en motiewe aan. Josef het dit egter ter wille van die geestelike welsyn van sy broers gedoen.

Is jy al ooit beskuldig van iets wat jy nie gedoen het nie? Dit was beslis onaangenaam, was dit nie? Onthou jy nog wat jy gedoen en verduidelik het om jouself te verontskuldig? Indien wel, dan besef jy seker hoe Josef se broers moes gevoel het maar as jy ooit betrap is, nadat iets op jou “geplant” is, sal jy ongetwyfeld die penarie begryp waarin die elf hulself bevind en die vrees wat hulle moes beleef het.

Dit was geen maklike toets vir die broers nie, maar beproewings van God afkomstig, is selde maklik om te verwerk. God toets ons herhaaldelik sodat ons kan besef wat waarlik in ons skuil – of ons ware gelowiges is en of dit alles net praat maar sonder dade is.

Kan jy onthou wanneer die laaste keer was toe jy getoets is? Indien jy ‘n ware gelowige in Jesus die Messias is en Hom as jou Here en Redder aangeneem het, dan is ek seker dat jy dit kan onthou. Was dit ‘n moeilike toets? Het jy dit geslaag? Dit spyt my om te sê dat meeste van ons, toe sekere areas van ons lewe getoets is, gedruip het. Dit is omdat God ons swakhede ken en dit juis dáár is waarop Hy konsentreer, wanneer Hy ons toets. God toets ons juis nie in opsigte wat Hy wéét ons sal slaag nie, maar wel waar Hy weet dat ons óf sal druip óf met werklike moeite sal slaag.

Ek kan nie vir jou vertel hoeveel keer ek al getoets is en gedruip het nie. Daarna het ek vir myself kwaad geword en my geskaam, terwyl ek God oordadiglik om vergifnis gesmeek het. Kort daarna, onder ander omstandighede, is ek weer getoets op dieselfde gebied, waarin ek voorheen gedruip het. Dit is ‘n skande om te dink hoeveel toetse ek reeds gedruip het maar eindelik slaag ek tog en beweeg aan terwyl my verhouding met God groei.

Baie mense verkeer onder die indruk dat sodra hulle gered is, hulle geheel-en-al in heiliges verander word. Ek wens van harte dat dit waar was maar ongelukkig is dit nie so nie. Dit is verstommend om te besef hoeveel fasette van ons lewe nog nie totaal aan die Here oorgegee is nie, selfs dekades nadat ‘n mens gelowig geword het. Wat nog meer verbaas, is dat God ons nooit laat vaar nie. Hy volhard daarin om stukkie vir stukkie van daardie lewensfasette wat ons nog nie aan Hom gewy het nie, te verander totdat ons dit eindelik aan Hom beskikbaar stel. Sal ons tydens ons lewe ooit volmaaktheid bereik? Ongelukkig is die antwoord daarop NEE. Ons sal nie volmaaktheid bereik voordat ons nie finaal sterwe en hierdie vleeslike liggaam van bedrog en sonde afgelê het nie.

1 Korithiërs / Korintim Alef {15:50} “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. {15:51}  Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, {15:52}  in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. {15:53}  Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. {15:54}  En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. {15:55}  Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? {15:56}  Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. {15:57}  Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. {15:58}  Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie. ”.

Vele kommentators en geleerdes skryf hierdie gedeeltes aan verdrukking toe, maar ek skryf dit toe aan ons dood. Ons dood sal ons finale trompet geskal wees en dit is dan wanneer ons verganklike liggame afgelê en ons met die onverganklike gees beklee sal word, om nooit weer getoets te word nie omdat ons volmaaktheid bereik het.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking